ATKV-tak PEAAT gaan gehoor laat proes
Die ATKV-tak PEAAT is die oudste amateurtoneelgeselskap in die land. Dié tak vier vanjaar hul 71ste bestaansjaar met ’n klug, My boetie se sussie se ou. Die stuk, geskryf deur Ray Cooney en vertaal deur Pierre van Pletzen, volg op My vrou se man se vrou, wat reeds deur PEAAT opgevoer is. Emercia de Lange, takvoorsitter, sê hierdie is ’n heerlike geleentheid ná twee jaar se afwesigheid van die verhoog. ’n Bonus is dat die formidabele Tobie Cronjé saam optree in die rol van Dêda.
“Dit is vir ons almal ’n groot voorreg en eer om die verhoog met Tobie te kan deel. Ons is diep dankbaar dat hy bereid is om saam met ons op te tree,” sê Emercia. “Die stuk is reeds in 2019 gekies, oudisies is aan die begin van 2020 gehou en uiteindelik kom ons nou by die verhoog uit. Almal is gretig en opgewonde.”
Wie is PEAAT?
PEAAT staan vir Port Elizabethse Afrikaanse Amateur Toneelvereniging. Dié geselskap is in 1951 in ’n NG Kerkpastorie gestig met die doel om opvoerings te hou en só broodnodige fondse in te samel. Destyds het die geselskap vier produksies per jaar aangebied, maar soos die jare aangestap het, het dit al moeiliker geword om die pas vol te hou.
“TV het gekom en mense se lewens het al voller en besiger geword. Mettertyd was die doel om ’n verhoog vir amateurs in Afrikaans te skep,” sê Emercia.
In 2005 is daar tydens ’n spesiale jaarvergadering besluit dat PEAAT voortaan as ’n ATKV-tak sou funksioneer. Vandag doen die ATKV-tak PEAAT een groot produksie per jaar met kleiner optredes tussenin. PEAAT het oor die jare al 175 produksies op die planke gehad en regisseurs- en dramakursusse by skole aangebied. Dit het ook ’n jaarlikse instelling geword om by ouetehuise te gaan optree.
Emercia sê, “Alhoewel ons amateurs is, streef ons daarna om dit so professioneel moontlik te doen. Daar word ook gereeld uitgereik na ouetehuise en kleiner produksies word by hulle gedoen. Ons nooi ook sekere ouetehuise na ons jaarlikse produksie vir ’n gratis vertoning.”
PEAAT-akteurs kry geen betaling nie – almal is vrywillig betrokke en deel ’n liefde en passie vir die verhoog.
‘My boetie se sussie se ou’
Dit is 18 jaar ná die gebeure van My vrou se man se vrou en John Smith, ’n taxibestuurder met twee vroue, het nou twee gesinne wat in verskillende dele van Londen woon. Albei is dolgelukkig en salig onbewus van mekaar. Maar wanneer Smith se twee tieners – ’n dogter van die een gesin en ’n seun van die ander – mekaar in ’n internetkletskamer raakgesels en angstig besluit om in lewende lywe te ontmoet, versnel John se reeds gejaagde lewe tot in die hoogste rat, en moet hy spook om hulle uitmekaar te hou.
My boetie se sussie se ou word van 10 tot 14 Oktober by die Little Theatre, Belmont-terras in Sentraal aangebied. Kaartjies is beskikbaar by www.quicket.co.za.