ATKV-tak PEAAT vier sewe dekades op die planke

Vir die afgelope sewe dekades het die amateurteatergeselskap ATKV-tak PEAAT gehore geboei en laat lag met hulle toneelproduksies.
Vanjaar vier dié tak sy 70ste bestaansjaar en daar gaan groot makietie gehou word.
“Ons is die oudste Afrikaanse amateurteatergeselskap in die land,” sê Emercia de Lange, takvoorsitter.
PEAAT staan vir Port Elizabethse Afrikaanse Amateur Toneelvereniging. Dit is gestig op 22 Maart 1951 in die sitkamer van die pastorie van die NG kerk PE-Wes in Port Elizabeth.
“Waar ’n organisasie normaalweg van krag tot krag gaan, het PEAAT letterlik van kerk tot kerk gegaan.”
Uit die staanspoor was die doel om in diens van die kerk en onderwys toneelstukke aan te bied en sodoende geld vir broodnodige sake in te samel.
“ATKV-tak PEAAT bied al vir 70 jaar ’n platform vir amateurtoneelspelers waar hulle, hulle passie vir teater kan uitleef. Ons bied geleentheid vir inwoners van Port Elizabeth om kwaliteitteaterproduksies op hulle voorstoep te sien,” sê Emercia.
In 2005 is daar op ’n spesiale algemene vergadering besluit dat PEAAT voortaan as ’n ATKV-tak sou funksioneer.
PEAAT het oor die jare al 175 produksies op die planke gehad en regisseur- en dramakursusse by skole aangebied. Dit het ook ’n jaarlikse instelling geword om uit te reik na ouetehuise.
ATKV-tak PEAAT het groot planne vir 2021 en beplan om die mylpaal – indien die Covid-19-pandemie dit toelaat – met drie produksies te vier.
Hulle beplan om ’n musiekblyspel saam met die televisieaanbieder en sanger Willem Botha te hou. Die teks moet nog gefinaliseer word.
In Junie word ’n tweemanstuk, Die Roadtrip, saam met plaaslike talent aangebied.
Die Roadtrip handel oor twee mans wat van hulle verantwoordelikhede wil ontsnap en ’n reis deur die land onderneem. Hulle besef gou dat die lewe in die laaste 20 jaar baie verander het en dinge rafel vinnig uit as die twee hul verlore jeug probeer herleef, met skreeusnaakse gevolge.
Dan is daar ook die tak se jaarlikse komedie. Verlede jaar is My boetie se sussie se ou – ’n opvolg van Ray Clooney se klug My vrou se man se vrou [wat deur Lefra Produksies vertaal is] – weens die pandemie en die inperking nie opgevoer nie.
“Ons hoop om dit hierdie jaar op die planke te sien.
“ATKV-tak PEAAT beteken geweldig baie vir die mense van Port Elizabeth. Danksy die passie van amateurteaterlui bestaan ons al 70 jaar lank.
“As ’n mens op die verhoog stap, vergeet jy van al jou sorge. En dit geld nie net die akteurs en aktrises nie, maar ook vir die gehoor. Om ’n bietjie te vergeet is iets wat ons veral in die tye bitterlik nodig het.
“Al ons lede sit hulle hart en siel in hierdie produksies in. Hulle word nie betaal nie en doen dit slegs uit die pure passie van die saak.
“Ons sien baie uit om ons 70ste bestaansjaar te vier,” sê Emercia.
Vir meer inligting oor ATKV-tak PEAAT kontak gerus vir Emercia de Lange by 082 632 4858.