ATKV-tak reik uit na haweloses

Die ATKV het sedert sy ontstaan gewys dat hy onlosmaaklik deel is van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Die organisasie beywer hom om daagliks deur die werk wat sy lede doen ’n verskil te maak. Daar is meer as 300 ATKV-takke wat landswyd woeker en werk om mense op verskeie maniere te bemagtig, by te staan en op te hef.
Die ATKV-tak Aksie en Woordvreugde is nie ’n uitsondering nie. Hulle vat hande met die gemeenskap om aan dié wat min of niks het nie weer ’n tikkie menswaardigheid terug te gee. ’n Projek wat in die Covid-19-grendeltyd begin het om warm kos aan haweloses te verskaf, het uitgebrei sodat hulle ook kan stort om só weer mens te voel.
Soekie Nel, takvoorsitter, sê met die Covid-19-inperking gedurende die winter van 2020, het hulle tak begin om saans drie keer per week warm kos aan haweloses uit te deel, wat op die stoepe van besighede geslaap het. Namate hulle die vertroue van hierdie mense begin wen het, het dit ook aan die lig gekom dat hulle ’n behoefte aan warm water het om te kan was. “Ons het plastiekskottels, seep, waslappe, tandepasta, tandeborsels en handdoeke gekry en uitgedeel. Een van ons lede het twee keer per week met sy bakkie tien 20-liter emmers warm water by verskillende punte afgelaai sodat hulle kon was,” sê sy.
Die woord het vinnig versprei dat kos uitgedeel word en die getalle het met rasse skrede toegeneem. Al hoe meer mense van verskillende ouderdomme het betrokke geraak en gehelp om kos uit te deel, sop te kook of broodjies te smeer.
Rentia Vink van Picture This, ’n verblyfoord in die noorde van Pretoria, het die inhoud van hulle vrieskaste tot die tak se beskikking gestel, aangesien hulle ook as gevolg van Covid-19 nie gaste kon ontvang nie. Die SAVF Ruimte-dienssentrum in Pretoria-Noord het ook warm klere en kos geskenk om te help met die groeiende getal haweloses.
Daar is ook maskers gekoop en uitgedeel aan hierdie mense. “Ons het die dae wat ons kos uitgedeel het, verminder, aangesien die kostes net te veel geword het en die tak ook nie fondsinsamelings tydens Covid-19 kon hou nie,” sê Soekie.
Ds. Jimmy Manders en ds. Janine Bevelo-Manders, twee leraars van die Nederduitse Hervormde Kerk Witfontein-gemeente in Pretoria-Noord het die wonderlike visie gehad om ʼn stortprojek by die kerk te begin. Dit is ’n gevestigde terrein en nie alleen kan daar kos uitgedeel word nie, maar kan hierdie mense ook die geleentheid kry om warm te stort en kan daar boonop gesprekke met hulle gevoer word.
’n Lidmaat het ’n geiser en waentjie geskenk en bekwame hande het dit omgeskep in ’n waterkar wat die water met gas verhit. Die waentjie en geiser is goudgeel en staan bekend as die Yellow Submarine. Weekliks word daar gestort, etes bedien en gesprekke gevoer. Elke persoon wat kom stort, kry sy eie toiletsakkie met handdoek, seep, ’n waslap, deodorant en room. Ná elke stort word die handdoeke gewas en weer in hulle pakkie geplaas. Daar is ook ’n wasmasjien geskenk wat vir hierdie doel gebruik word.
Soekie sê, “Van hierdie haweloses woon reeds Sondag-eredienste in die gemeente by en vir ons is dit ’n positiewe omkeer. Daar was drie jongmense wat in ’n motor in die straat geslaap het. Twee van hulle (meisies) was leerlinge by ’n hoërskool. Die gesprekvoering is ook ’n poging om die vertroue van hierdie mense te wen en moontlik versoening met families te bewerkstellig.
“Die ondersteuning uit die gemeenskap is goed, maar die kostes vir so ’n steeds groeiende projek is baie hoog. Ons tak verskaf warm etes aan hierdie haweloses, skenk toiletware en komberse en reik ook uit om maatskaplike opheffing te bewerkstellig. Dit is ’n projek wat in elke dorp begin en ontwikkel kan word. Nuwe, praktieser idees kan geïmplementeer word namate die behoeftes verander. AfriForum in Pretoria-Noord gebruik ook reeds van hierdie haweloses vir die skoonmaak van ons dorp en ons wil ook graag bydra tot lone, kos, swartsakke en beskermende klere, soos plastiese handskoene vir die skoonmaak in die strate. Ons sal graag meer haweloses wil bereik en ’n moontlike skuiling kry waar hulle kan woon. Die dankbaarheid van die mense en die trots wat sommige van hulle reeds begin kry, is soveel inspirasie om nog meer te doen.”
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Aksie en Woordvreugde, kontak Soekie Nel by 073 036 8697 of stuur ’n e-pos na nelsoekie@yahoo.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.