ATKV-tak reik uit na woef en kie vir Madibadag

Daar is net iets bevredigend aan ’n winternag wat jy knus en warm saam met jou dierekinders kan spandeer, maar daar is egter troeteldiere daar buite wat nie ’n veilige heenkome het waar hulle liefde en kos kan ontvang nie, en dít het die ATKV-tak Kunstejêm genoop om in te spring en te help.
Vanjaar reik die ATKV-tak Kunstejêm uit na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) Randburg om 'n verskil aan hul daaglikse bestaan te maak deur honde- en katkos te skenk.
Nelson Mandeladag word jaarliks op 18 Julie gevier om hulde te bring aan die lewe en werk van oudpresident Nelson Mandela. Hierdie dag word in baie dele van die wêreld gevier en mense word aangemoedig om 67 minute van hul dag aan liefdadigheidswerk in hul omgewing toe te wy.
“Daar is ’n geweldige nood by veral die DBV se Randburg-tak. Daar was ’n tyd wanneer hierdie tak geen kos vir hul diere gehad het nie, en hulle maak hoofsaaklik op donasies staat,” sê Jeanne Naudé, projekorganiseerder.
Volgens haar wou hulle juis vanjaar vir Madibadag hul fokus na natneuse skuif, omdat die nood by die welsynsorganisasie so groot is.
“Ons het verlede jaar ’n Kersfeespartytjie vir die Gerald Fitzpatrick Ouetehuis in Johannesburg gehou en ook vanjaar hul Paasfeesete geborg, en het besluit dat ons nou ons fokus na ons dierevriende wil verskuif.”
Die tak het besluit om ’n kompetisie te loods waar ATKV-personeel foto’s van hulself en hul dierekinders kan inskryf.
“ʼn Mens hoor net altyd van jou kollegas se troeteldiere, maar nou kan jy spog met jou dierkind en ander minderbevoorregte diere help. Kom ons onthou ons dierevriende en maak die lewe vir hulle ook beter,” sê Jeanné.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Kunstejêm, kontak Samantha Nel by 082 855 9907 of stuur ’n e-pos na SamanthaN@atkv.org.za. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.