ATKV-tak Rooiduin eindig jaar op ’n hoë noot met Wynand en Chereé
Vanjaar was ’n besonder goeie jaar vir die ATKV-tak Rooiduin in Upington.
Vroeër in 2022 het die Binnelanders-akteurs in dié dorp opgetree en op Saterdag, 29 November is die jaarprogram afgesluit met Langebaan se bekende sangpaar, Wynand en Chereé. Tussenin was daar ’n vol program: ’n voortsetting en uitbreiding van die leesprojek, “Rinkink terwyl jy dink” (waarvoor die tak vanjaar ’n toekenning gewen het), ’n debatopleidingskursus vir senior-geskiedenisonderwysers, die Naftali Oggend van Hoop, die “Cupcakes for kids with cancer”-insameling, hulp by die Huis Weideman-koshuis en ’n wynproe by die boekbekendstelling van Carla van der Spuy.
Ná ’n jaar vol suksesvolle projekte het die ATKV-bestuur ’n slag skoene uitgeskop en saam met hul gaste die vertoning van Wynand en Chereé geniet. Ds. Leoni Pretorius, ’n geliefde predikant van Upington, het geopen en onmiddellik was daar ’n heerlike atmosfeer. Francolien du Plessis, funksiekoӧrdineerder en ATKV-bestuurslid, het haarself oortref met die dekor en heerlike kos wat bedien is. Sy het rolbosse en ander bosse en takke uit die Kalahari as tema gebruik en die bosse en peule verlig met liggies wat stylvol en kunstig geplaas is. ’n Sprokiesatmosfeer is met goue servette en pêrelkleurige tafeldoeke geskep en die gaste het gesmul aan muesli en joghurt, quiche, koeksisters en ’n bederfpakkie van die Upington Slaghuis.
Soos gewoonlik, was die Upingtonse gemeenskap ook betrokke by die sukses van hierdie ATKV-funksie. Die uitstallers wat glans aan die funksie verleen het, was Du Café met hul heerlike koffie, Ukubhaka Bakkery en die verbruikerstudieleerders van die Hoërskool Upington, wat mocktails (alkoholvrye skemerkelkies) verkoop het. Lisa Viviers het geurige olies te koop aangebied en Sonja Stolper het !Naba-sout, maketaanstukke en ander heerlike ingelegde produkte van die Upington omgewing uitgestal. Karen Ekkerd het ons borg, Upington Toyota, wat al ’n lang pad saam met die ATKV stap, verteenwoordig, terwyl hul rooi vlae feestelik by die ingang gewapper het as verwelkoming vir die gaste.
Wynand en Chereé was op hul stukke en almal wat nog nooit ’n vertoning van dié kunstenaarsegpaar bygewoon het nie, was dit eens dat hulle sing tot diep in jou siel. Hulle opregtheid en wonderlike menswees spreek tot almal met wie hulle in aanraking kom. Hulle het spesiaal hul dank uitgespreek teenoor die klankingenieur, Attie Steenkamp, wat al lank saam met hulle werk – Wynand en Chereé het laat blyk dat hulle elke jaar landwye toere doen met Attie aan hul sy. Net daar en dan het die gehoor besluit: ons nooi hulle volgende jaar weer!
Die ATKV-tak Rooiduin nooi al 120 huisgesinne in Upington en omgewing wat ATKV-lede is om betrokke te raak by hierdie tak.
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.