ATKV-tak Rooiduin en Herman Lensing in Upington

Dit was meer as net ’n kookklas, want wanneer Herman Lensing, kosredakteur van Sarie, sy messe slyp vir ’n vertoning, kan jy maar weet jy stap ook weg met ’n paar lewenswyshede. Herman, wat op 11 Junie by sy alma mater, Hoërskool Duineveld in Upington, opgetree het, is bekend vir die gemaklike en pretensielose manier waarmee hy met sy gehoor omgaan. Die geleentheid is deur die graad 11-ouers van die skool gereël. Die ATKV-tak Rooiduin het tot die gesellige atmosfeer bygedra deur gaste met ʼn glasie OWK-Muskadel te verwelkom. “Net om die tonge bietjie los te kry,” sê Beatrix Venter, voorsitter van die tak.
Die verhoog is omskep in die kombuis van ’n karavaan, na aanleiding van die somervakansies van sy jeug by ATKV-Hartenbos. Hy was elke jaar verantwoordelik vir die gesin se Kersete en hy het die hele jaar daarna uitgesien om dié ete voor te berei. Sy vertoning het bestaan uit voorlesings uit sy nuwe kookboek, Huiskos, wat afgewissel is deur die maak van slaphakskeentjies, ’n lewergereg en ’n sjokoladetert. Hy het die gehoor vir een en ’n half uur vermaak en telkens laat skater met sy fyn humorsin. Hy beskryf sy nuwe kookboek as ’n reis deur sy lewe. Sy tema is nostalgie, heimwee en liefde: na sy oorlede ma wat hom aan kosmaak bekendgestel het, sy grootwordjare in Upington en hul gesin se Desembervakansies in Hartenbos.
ATKV-Rooiduin is ook betrokke by die leesprogram Rinkink terwyl jy dink, wat by laerskole in Upington aangebied word. “Die projek het verlede jaar die lig gesien. Die program fokus op grondslagfase-leesonderrig omdat kinders deesdae so swak lees,” sê Beatrix. Die program vir Rinkink terwyl jy dink is deur Leandré Steyn, ’n remediërende onderwyseres van Bloemfontein, geskryf. Sy het hierdie leesprogram, met klanke by, in die grendeltyd ontwikkel. Dit bevat ál die klanke van Afrikaans wat deur kinders aangeleer moet word, elkeen met sy eie unieke klingel.
Ander projekte waarby die tak betrokke is, sluit in: insameling van tydskrifte vir die Oranjehof Ouetehuis, Lente-oggend van Hoop by Naftali in samewerking met die Oranjevallei-vrouediens, debat-opleiding vir geskiedenisonderwysers wat graad 10 tot 12 onderrig, en ’n ATKV-kuier met Wynand en Chereé by die ATKV-Rooiduin Kontreifees op 29 Oktober 2022.