ATKV-tak skenk hoop met gebreide prosteses
Die ATKV-tak Sasolburg se hartklop is omgee vir ander. Dit is dié dat taklede verlede jaar besluit het om op ’n kreatiewe en praktiese wyse die Borsgesondheidstigting te ondersteun deur dreineringsakke en borsprosteses vir dié niewinsgewende organisasie te brei.
Charmaine Hattingh, takvoorsitter, sê hoewel die Sasolburg-tak baie klein is, is hul lede voortdurend besig met aktiwiteite en projekte. “Ons konsentreer meestal op liefdadigheid vir minderbevoorregtes. Ons het ’n paar wonddreineringsakke gebrei en toe ons begin soek het na ’n plek om te skenk, het ek toevallig ’n projek by die Helen Joseph-borskliniek opgemerk en ek het ’n tydjie spandeer om ’n kontakpersoon op te spoor. Hierna was ek in kontak met die Borsgesondheidstigting en was ons oorweldig deur alles wat vir die organisasie gedoen kan word.”
Die Borsgesondheidstigting is ’n niewinsgewende organisasie wat gestig is om emosionele en insiggewende ondersteuning te bied aan diegene wat deur borskanker geraak word. Die doel daarvan is om bewustheid van borsgesondheid te verhoog, opvoeding en behandeling te bevorder en ondersteuning aan kankerlyers en hul families te bied.
Volgens Kansa is borskanker die algemeenste kanker onder vroue van alle rasse met ’n leeftydrisiko van een uit 27 in Suid-Afrika. Die risiko vir borskanker neem toe namate vroue ouer word, maar baie vroue onder 40 word met borskanker gediagnoseer. Alle vroue loop ’n risiko, en veral vroue met ’n familiegeskiedenis daarvan. Mans kry ook borskanker, maar minder as 1% van alle gevalle wat jaarliks gediagnoseer word, kom by mans voor.
Charmaine sê, “Ons wil net ’n verskil in iemand se lewe maak. Ons dink dat die emosionele proses van deur ’n mastektomie gaan baie traumaties is, en ons wil wys dat ons omgee. Om net ’n klein bydrae te maak om iemand se selfbeeld te verbeter. Dit is alombekend dat die ATKV ’n omgee-organisasie is.
“Ons teiken is juis persone wat dit nie kan bekostig om sintetiese prostese te bekom nie. Baie mense beweer ook dat die gebreide prostese baie meer gemaklik is as die sintetiese een, omdat dit sag is op die vel en op die litteken. Dit is met 100% katoenbreigare gebrei en gestop met suiwer merinowol. Dit bring mee dat dit baie koeler is en allergieë verminder. Hierdie prostese neem dan die vorm van die liggaam aan en die draer daarvan het meer selfvertroue. Ons boodskap is dat ons omgee en ’n verskil in iemand se lewe wil maak, veral omdat dit gratis versprei word.”
Dié tak se lede werk nou volstoom om gedurende borskankerbewustheidsmaand in Oktober ’n groot skenking gebreide prosteses te doen.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Sasolburg, kontak streeksbestuurder Melvin Tobias by 082 623 5239, of stuur ’n e-pos na MelvinT@atkv.org.za. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.