ATKV-tak Sommer Net Ons bou taalbrûe

Pacaltsdorp is neffens George in die Suid-Kaap geleë, en op hierdie tuisdorp van die ATKV-tak Sommer Net Ons gebeur daar ’n verskeidenheid kultuurdinge.
Dié tak het hul Hande praat Afrikaans-projek van stapel gestuur wat op 18 Oktober erfenisvieringe met gebaretaal as kommunikasietaal kombineer. Ruzanne van Beulen, taklid, vertel dat die projek die gaping tussen die klankwêreld van Afrikaans en die visuele wêreld van gebare wil oorbrug.
“Dit is die eerste keer dat dit gehou word en dit maak ons baie opgewonde, want dit gaan nie net daaroor om brûe en verhoudings te bou nie, maar ook om mense se verstaan van mekaar se komvandaan te verbeter.”
Ruzanne sê die idee vir die projek spruit uit die vieringe van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal. Hierdie viering beklemtoon ’n eeu se ryk taalgeskiedenis, maar ’n ware viering moet inklusief wees en Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) is vir duisende Suid-Afrikaners die enigste manier om hul stem te laat hoor.
“Ons tak glo dat taal mense bymekaar bring en daarom wil ons die dowe gemeenskap, wat via SAGT kommunikeer, deel van hierdie feesvieringe maak.
“Daar bestaan dikwels misverstande tussen mense wat praat, mense wat liplees en mense wat gebaretaal gebruik. Dit is drie unieke wêrelde van kommunikasie en elk kragtig in sy oorsprong. Ons program is dus ’n opvoedkundige én ’n bewusmakingsoggend. Ons wil seker maak dat die volgende generasie meer waardering en respek vir ander mense se manier van wees sal hê.”
Sy sê gebaretaal is ’n volwaardige taal met sy eie ryk erfenis en kultuur.
“Dit gee aan die dowe gemeenskap ’n stem én plek binne erfenisvieringe. Wanneer ons erfenis vier, maak gebaretaal dit moontlik dat almal saam kan deel en verstaan. Dit bring inklusiwiteit en toeganklikheid,” gesels sy.
“Dit is juis wat hierdie projek so besonders maak, want Hande praat Afrikaans ondersteun die boodskap deur te wys hoe hande as draers van taal en betekenis Afrikaans kan uitdruk,” meen Ruzanne.
“Só vier ons nie net die verskeidenheid van Afrikaans nie, maar erken ook dat taal in baie vorme geleef word – in klank én in gebare.”
Ruzanne is die aspirantskrywer en digter van die tak en bied ook motiveringspraatjies in die gemeenskap aan. Vir haar is al hul projekte besonders, maar hierdie een lê haar veral na aan die hart.
“Ek het op skool gesien hoe kinders die dowe skool se kinders spot en ek het toe al vir hulle ingetree. Ek het nog altyd gevoel asof ek ’n eggo vir hulle wil wees. Met hierdie projek glo ek ons tak streef daarna om vir dowe mense ’n gelyke plek op platforms te gee.”
Die Hande praat Afrikaans-oggend vind op 18 Oktober van 09:00 tot 13:00 by die NG Moederkerk op Pacaltsdorp plaas.
Die sanger-skrywer en musikant, Petronel Baard, gaan te sien wees, sowel as Vicki Fourie, ’n voormalige Mej. Dowe Suid-Afrika. Vicki is ook ’n rolprentmaker, aktrise en aktivis vir gehoorgestremdes.
Die Kranshoek-rieldansers gaan ook optree, want Ruzanne sê dans is immers die ritme tussen klank en stilte. Die oggend fokus op hoërskoolleerders, want die tak glo hulle is die toekomsleiers van môre.
Die ATKV-tak Sommer Net Ons is in 2017 gestig en bied verskeie skoolprogramme aan met die ondersteuning van die plaaslike munisipaliteit, biblioteke, die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Afrikaans 100 en die Vriende van Afrikaans (VVA).
Hul projekte sluit doen- en leerprogramme, leesbevordering en ’n jaarlikse leesmarathon vir plaaslike laerskole in. Hulle het ook sedert 2021 ’n program vir mense met gestremdhede wat op toeganklikheid en die verbetering van gestremde mense se lewe fokus.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.