ATKV-tak Sonneblom raak harte met omgeeprojekte

Die ATKV-tak Sonneblom in Despatch se verskeie omgeeprojekte het dié jaar reeds talle harte geraak.
Deur hul troosbeertjieprojek het die ywerige breispan reeds 500 troosbeertjies aan die Buddy Bear liefdadigheidsorganisasie geskenk. Buddy Bear deel hierdie beertjies uit aan ander organisasies, wat werk met kinders wat trauma ervaar as gevolg van seksuele of gewelddadige mishandeling. Buddy Bear is in 2019 deur ’n ma-en-dogterspan gestig, wat besef het hoe groot die nood onder getraumatiseerde kinders in Suid-Afrika is. Min het hulle geweet dat hulle projek vlerke sou kry en in ’n volwaardige niewinsgewende organisasie sou ontwikkel, wat maandeliks 100 beertjies aan verskillende organisasies verskaf. Ongelukkig groei die vraag na beertjies daagliks. As jy voel jy kan ’n bydrae tot die projek maak, kan jy Annette Becker kontak by anettebecker@polka.co.za
Sakkie Kinghorn, voorsitter van die Sonneblomtak, sê hulle het gedurende die Covid-inperkings ook ’n behoefte raakgesien vir die verskaffing van niebederfbare kospakkies aan behoeftige persone in hul gemeenskap. “Met die groot nood kon ons nie in al die behoeftes voorsien nie, aangesien die kos-items meestal deur lede voorsien was. Gedurende Maart 2022 het ons die projek verder uitgebrei en is familie en vriende van ons lede gevra om elke tweede maand twintig niebederfbare kos-items te skenk.” Kospakkies bevat mieliepap, suiker, koffie, tee, langlewe melk, blikkieskos, pasta, rys, soja, kookolie en sout. Glaskoffieflesse bevat ’n mengsel van rys, sopmengsel, lensies en ’n aftrekselblokkie wat met 2 liter water gekook kan word vir ʼn heerlike sopmaaltyd.
Die ATKV-streek Oos-Kaap het kruideniers-lapsakke voorsien waarin die kos-items gepak kan word. Tans beskik die tak oor ’n noodspens met vele items wat na behoefte uitgedeel word. “Ons as tak beoog om teen Oktober 2022 al die oorblywende kos-items aan ’n organisasie in Despatch te skenk,” sê Sakkie. ’n Besluit moet nog geneem word aan wie die items geskenk sal word. Hierdie is tans ’n deurlopende projek, met die gemeenskap van Despatch wat hierby baat vind.
Nog ’n projek waarby die tak betrokke is, is die brei van slaapsakke uit plastieksakke. Plastieksakke wat in die asblik beland is ’n vermorsing en veroorsaak besoedeling. Hoekom dié plastiek dan nie vir iets veel beter gebruik nie? Die idee van ’n plastiekslaapsak het ontstaan by een van Sonneblomtak se “brei-tannies”. Sakkie sê sy het die hele slaapsak self van plastieksakke gebrei en versoek dat dit aan ’n behoeftige persoon gegee word. Die slaapsak, tesame met ’n kospakkie en kombers met die ATKV-logo (voorsien deur die ATKV-streek), is sedertdien aan ’n behoeftige manspersoon in Despatch oorhandig. Hy het groot waardering getoon vir die mooi gebaar en welwillendheid. Sakkie sê: “Ons het sopas ’n tweede, kleiner, soortgelyke slaapsak vir ’n kind ontvang en dit word eersdaags oorhandig. Die slaapsakke is deur die persoon as ’n eenmalige gebaar gedoen ‒ in haar eie tyd en soos plastieksakke beskikbaar was.”
As jy voel jy wil graag deel word van die Sonneblomtak se projekte, kan jy Sakkie kontak by sakkie.kinghorn@absa.africa