ATKV-tak Spandaukop vereer verskilmakers

Die ATKV-tak Spandaukop het onlangs verskilmakers in die gemeenskap vereer.
Tydens ’n spoggeleentheid is Klop op die skouer-toekennings aan Paul van den Berg toegeken vir sy bydrae tot die behoud van Graaff-Reinet se waardevolle kultuurerfenis en aan Henry Thomson vir sy jare lange bydrae tot die tak se aktiwiteite en projekte.
Carol-Ann van Jaarsveld is met ’n Afrikoon-toekenning vereer vir Pink Trees for Pauline. ’n Liefdestaak soos hierdie verdien om raakgesien te word – haar projek het hoop en ondersteuning aan ’n magdom kankerpasiënte gebied en kry dit ook steeds reg om gemeenskappe bewus te maak van kanker.
Carol-Ann van Jaarsveld (née Smit) is in 1953 in Uitenhage gebore. Sy word groot in die Vrystaat en matrikuleer in 1971 aan die Hoërskool A.J.C. Jooste in Petrusburg. Sy begin in 1971 in Kimberley by Volkskas Bank werk. Op 21-jarige ouderdom trou sy met haar skoolliefde, Hannes van Jaarsveld. Die egpaar verhuis later na Uitenhage en toe na Somerset-Oos. In 1998 vestig die gesin hulle op Graaff-Reinet, waar hulle steeds gelukkig woon. Carol-Ann en Hannes is geseënd met drie seuns en is ook die grootouers van sewe kleinkinders.
Carol-Ann was maar altyddeur ’n raakvatter. Sy bedryf die Buiten Verwagten-gastehuis in Graaff-Reinet en daarna vestig sy die geskenk- en dekorwinkel, Windmill. Sy en haar man open ook die Polka-restaurant op die dorp, wat hulle intussen verkoop het.
Carol-Ann was nog altyd iemand wat omgee vir ander en wanneer die mense naaste aan haar gelukkig is, is sy ook gelukkig. Een van die dinge wat haar rêrig na aan die hart lê, is mense wat ontbering verduur weens kanker. Sy het sowel haar ma as haar ouma – albei Pauline – aan hierdie siekte verloor en tydens die twee se stryd met kanker gesien hoe swaar hulle kry.
Op reis in Frankryk het sy en Hannes tuisgegaan in ’n klein dorpie waar die bome in Oktobermaand almal met pienk lappe toegedraai is om bewustheid oor borskanker te skep. Dít het haar geïnspireer om iets soortgelyk in haar tuisdorp te doen. Nie net sou dit besonder mooi wees in die boomryke Graaff-Reinet nie, maar dit sou ook ’n uitstekende manier wees om fondse bymekaar te maak ten bate van kankerpasiënte. Op hierdie manier is “Pienk bome vir Pauline” in die lewe geroep.
Carol-Ann het die nie-winsgewende organisasie in 2012 gestig en dit was ’n groot sukses. Haar idee dat kankerpasiënte direk baat by die geld wat deur die jaarlikse projek bymekaar gemaak word, het ’n verskil in baie mense se lewens gemaak. Die fondse help onder meer met kospakkies, vervoer na behandeling, verblyf, behandeling en prosteses. Dié organisasie, wat geregistreer is as “Pink Trees for Pauline”, het ook lidmaatskap by die wêreldwye Cancer Alliance en word sterk ondersteun deur Suid-Afrika se inspirerende kankerbewusmaking- en diensorganisasie, CANSA.
’n Projek soos hierdie een het enorme potensiaal en het vinnig na ander dorpe en stede in die land versprei. Teen 2017 was daar reeds meer as 100 dorpe met ’n inwonertal van byna vier-en-’n-half miljoen mense wat jaarliks deelneem aan hierdie projek. Op hierdie wyse word daar ’n verskil in soveel mense se lewens gemaak.
Mag Pink Trees for Pauline vorentoe nóg groter kankerbewustheid skep en vele mense se swaarkry ligter maak.