ATKV-tak Spandaukop vier 21 jaar
Verjaarsdae is altyd ’n rede tot feesviering. Word jy egter die dag mondig, gaan jy gróter as groot. Dit is dan ook hoe die ATKV-tak Spandaukop in Graaff-Reinet dié jaar hul 21ste bestaansjaar herdenk: met gróót makietie en jolyt.
Die tak is op 1 September 2002 deur Lieben en Martie Bekker gestig, tesame met ’n paar vriende van Graaff-Reinet wat almal destyds ATKV-lede was. Die afgelope 21 jaar was die tak ’n baken van hoop in die gemeenskap en het op alle vlakke ’n verskil in mense se lewens probeer maak. Vandag is die takvoorsitter, Archie Cronjé, dankbaar vir die werk wat oor die jare gedoen is en is hy trots op sy span wat voortbou op die sterk fondasie wat deur die jare gelê is.
Projekte wat oor die jare uitgestaan het, was ’n remediërende leesprojek by die Laer Volkskool op die dorp, beroepsaande by die hoërskole in die omgewing waardeur bewusmaking van verskeie beroepe geskep is, ’n anti-boelie-inisiatief tesame met die Gladiators, ’n boekeprojek saam met Freek Robinson en die verering van verskilmakers in die Graaff-Reinet-gemeenskap. Die tak ondersteun ook deurlopend Huis van de Graaff, die plaaslike tehuis vir bejaardes, deur fondsinsamelings te hou.
Om hul 21ste verjaarsdag te vier, het die ATKV-tak Spandaukop op 9 September ’n opedag by die Graaff-Reinet-botaniese tuin gehou met boeresport, stalletjies om van te kies en te keur, ’n troeteldierkompetisie, veteraanmotors en uitstallings en demonstrasies van nuwe motors. Die dag is afgesluit word met ’n blêrkas-aand en daar is gedans dat die stof so staan.
“Ek glo ons tak se sukses kan toegeskryf word aan die samehorigheidsgevoel onder ons lede. Ons is almal soos een groot familie en staan nie terug vir ’n uitdaging nie,” sê Archie. “Ons hartklop is ons gemeenskap. Ons wil graag help waar ons kan.”