ATKV-tak Stormberg laat omgee-vuur brand

Vanjaar val die ATKV se fokus op gemeenskap en dít het die ATKV-tak Stormberg se verbeelding en hart aangegryp. Taklede het koppe bymekaar gesit en besin oor die betekenis van “gemeenskap”. Lizaní Coetsee-van Schaik, takondervoorsitter, sê ’n gemeenskap is ’n samestelling van mense wat ’n omgewing as leefruimte deel; ’n buurt, dorp of stad waar ons saam woon, werk, aanbid, droom, lag en huil – ironies genoeg, dikwels in isolasie. Die HAT definieer gemeenskap as ‘’n aantal individue wat ’n samehorige groep vorm’. “Ons word dus nie net deur ’n gemeenskaplike plek, oortuiging, geloof of werk saamgebind nie, maar dit impliseer ook ’n gevoel van samehorigheid,” sê sy.
Op 4 Maart 2023 het die tak afgeskop met hul eerste gemeenskapsprojek en dít by hul plaaslike hospitaal. Lizaní vertel hulle het ’n uitnodiging aan die hele gemeenskap gerig: “Vele hande maak ligte werk, Burgersdorp Hospital clean-up, Masicoce sonke (isiXhosa vir “kom ons maak saam skoon”)!”
“Hiermee het ons ’n beroep op ieder en elk gedoen om moue op te rol, skoonmaakmiddels of kontant te skenk en saam as gemeenskap ons hospitaal weer na ’n blinknuwe sikspens te laat lyk! Met baie ondersteuning vanaf AECI (SA Premix), skenkings van verskeie plaaslike algemene handelaars, BKB, BSO Algemene Praktisyns, vrywilligers uit die gemeenskap en die gewillige hande van ATKV-tak Stormberg se lede, kon ons reeds ’n verskil maak en nog geleenthede identifiseer waar ons handjie kan bysit,” sê sy. “’n Oggend gevul met lag, skerts en sing het inderdaad die harde werk na ligte werk laat voel.”
“Om te kan gee, hetsy deur ons tyd, kreatiwiteit, ’n finansiële behoefte te vervul, of deur ons ervaring te deel tot opbou of verbetering van ’n ander se saak, steek ons ’n vuur aan in die hart van die hand wat gee sowel as in die hand wat ontvang. Hoe anders sal ons gemeenskappe en land lyk as ons omgee-vure aansteek? Sal hierdie omgee-vure nie dalk juis die vure van haat, rassisme, verdeeldheid en verwyt kan help tem en selfs uitdoof nie? Ons wil hiermee graag al die ATKV-takke uitdaag om leiding te neem in hul gemeenskappe deur probleme of behoeftes te identifiseer daar waar hul woon en werk, moue op te rol, en omgee-vure aan te steek.”
Lizaní voel Suid-Afrika is ’n land wat ryk is aan natuurskoon, diversiteit in taal en kultuur, met soveel om vir elke burger en besoeker te bied. “Ons as burgers het ’n verantwoordelikheid om dit wat ons ontvang het op te pas en uit te bou – om voorlopers in ons gemeenskappe te wees en ’n voorbeeld aan ons kinders en jongmense te stel oor hoe ons herstel, opbou en bewaar, nie net tot ons eie voordeel nie, maar ook tot die voordeel van ’n ander. Dalk is u soos talle Suid-Afrikaners bekommerd oor die stand van sake in ons mooi land. Dalk voel u moedeloos of selfs apaties, kwaad. Flikker daardie hoop op samehorigheid nog in u hart, of het u dit eerder laat vaar en die eensaamheid van isolasie omhels?” vra sy. “Ons is gemaak vir gemeenskap. Dalk begin samehorigheid juis deur gemeenskap te wéés vir mekaar, deur om te gee vir mekaar.”