ATKV-tak Taal Trek bou aan Afrikaans se toekoms

Terwyl pessimiste nog steeds oor Afrikaans se toekoms tobber, is daar in die hartjie van die Noord-Kaap ’n ander verhaal aan die ontvou.
By die Sol Plaatje-Universiteit (SPU) in Kimberley neem ’n nuwe geslag die leiding om Afrikaans nie net te behou nie, maar te laat floreer op maniere wat hul voorgangers nooit kon voorsien nie.
Die Eeufees van Afrikaans: Van herkoms tot toekoms-konferensie wat onlangs by die universiteit plaasgevind het, was meer as net ’n viering. Dit was ’n strategiesessie waar jongmense praktiese planne beraam het om Afrikaans relevant en lewensvatbaar in ’n veranderende Suid-Afrika te hou.
Jacqued Horne en Curtis Jeaven, stigters van die nieregeringsorganisasie Northern Cape Heritage Pioneers en lede van die ATKV-tak Taal Trek, het as hooforganiseerders van die geleentheid ter viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal opgetree.
“Die Northern Cape Heritage Pioneers is in 2024 gestig,” sê Jacqued.
“Ons is ’n gemeenskapsgerigte organisasie wat daarop fokus om ons streek se unieke erfenis te beskerm, kulturele geheue te herwin en tale – veral Afrikaans in sy streeksvariëteite – te bevorder. Ons missie is om deur opvoeding, jeugontwikkeling en kreatiewe samewerking inklusiewe taal- en kultuurprojekte te loods wat werklik transformeer. Ons wil ruimtes skep waar gemarginaliseerde stories gesien en gehoor kan word.”
Jacqued verduidelik die inspirasie vir die tema van die konferensie het gekom uit ’n dieper bewustheid van Afrikaans se veelvlakkige geskiedenis.
“Ons wou nie net die amptelike erkenning in 1925 herdenk nie, maar eerder vra wie die taal voor daardie datum reeds gebruik het en in watter vorme. Die tema het ons in staat gestel om die volle spektrum van Afrikaans se ontstaan, ontwikkeling en moontlike toekoms in gesprek te bring. Ons wou wys dat die herkoms meersydig is en dat die toekoms van Afrikaans aktief geskep word deur jongmense, gemeenskappe en organisasies soos ons eie.”
Die konferensie was propvol inhoud en gemeenskapsbetrokkenheid.
“Die universiteit het saam met ons en die ATKV-tak Taal Trek ’n dag aangebied wat sowel akademiese as kreatiewe segmente gehad het,” verduidelik Jacqued.
“Die dag is deur prof. Russel Viljoen geopen en het akademiese aanbiedings deur dr. Marga Stander, mnr. Carl Julius en dr. Heloise Davis ingesluit.
“Ek en Curtis het ’n rondetafelbespreking gefasiliteer getiteld ‘Waarom vier ons 100 jaar van Afrikaans as dit reeds voor 1925 bestaan het?’
“Oorspronklike poësie is deur Yolanda Strauss, F. Julius en die leerder Blessing van Kimberley Girls’ High School voorgedra.
“Leerders van die Kimberley Girls’ High School, die Hoërskool Noord-Kaap, die !Xunkhwesa Gekombineerde Skool, die Hoërskool Vaalrivier, die Roodepan Primary School en die Floors Primary School het hul sienings oor Afrikaans in hul alledaagse lewe gedeel.
“Verder was daar ’n taalwedstryd en kultuuruitstallings wat die dag op ’n visuele en emosionele toon afgesluit het.”
Jacqued sê verskeie strategiese rigtings is geïdentifiseer en bespreek om Afrikaans se toekoms te verseker.
“Ons het gepraat oor die noodsaaklikheid om Afrikaans se streekvariëteite soos Kaaps, Nama- en Griekwa-Afrikaans as volwaardige vorme van die taal te erken. Verder is opvoeding en jeugontwikkeling beklemtoon – spesifiek die gebruik van skryfkompetisies, leeskringe en gesprekvoering in skole.
“Ons as die ATKV-tak Taal Trek beklemtoon die etiese gebruik van kunsmatige intelligensie (KI). Ons beoog om fasiliteringsessies aan te bied waar studente leer hoe om KI verantwoordelik te gebruik om kreatiewe en akademiese werk in Afrikaans te versterk. Ons glo vas dat tegnologie, indien dit reg aangewend word, ’n vennoot in taalherlewing kan wees.”
Jacqued beskou tegnologie nie as ’n bedreiging vir Afrikaans nie, maar ’n geleentheid.
Hy brei ook uit oor die geskiedenis en missie van die ATKV-tak Taal Trek.
Die tak is vanjaar as ’n studentegedrewe inisiatief gestig met die doel om taal, kultuur en erfenis in die Noord-Kaap aktief te bevorder. Hulle missie is om Afrikaans op ’n inklusiewe en vooruitstrewende manier te bevorder deur projekte wat letterkunde, navorsing, opvoeding en tegnologie verbind.
Jacqued sê daar is ander projekte wat sy tak beplan om Afrikaans in die Noord-Kaap te bevorder, onder andere digkompetisies, werkswinkels vir kreatiewe skryf en langtermynbeplanning om publikasiegeleenthede vir letterkunde in die Noord-Kaapse variëteite van Afrikaans te skep.
“Ons wil ook aktief hande met ander instellings vat, want ons glo dat ware impak ontstaan waar mense saamwerk,” voeg hy by.
Hy sluit af met dit wat vir hom die hoogtepunt van die eeufeesviering en konferensie was.
“Die ware hoogtepunt was om te sien hoe leerders van verskillende skole en agtergronde hul liefde, bekommernisse en hoop vir Afrikaans in hul eie woorde en aksente uitdruk. Die oomblik toe ’n leerder in haar Namakwa-Afrikaans sê: ‘Afrikaans is hoe ons voel, nie net hoe ons praat nie’, het my diep geraak. Dit bevestig dat Afrikaans ’n lewende, emosionele en evoluerende taal is.”