ATKV-tak Tonteldoos vier Orrelfees

Ons almal ken die klank. Die dawerende note wat teen die kerk se mure vasslaan. Die Psalms wat daaruit weergalm.
Die orrel is ’n magtige instrument wat vir baie van ons heimwee bring, maar orrelmusiek is deesdae ’n vae deuntjie in die geheue van die mens.
Die ATKV-tak Tonteldoos wil egter hê daar moet ’n herlewing van dié musiekinstrument wees.
“Die orrel is volksbesit en ons moet hom vier,” sê Susan du Toit, takvoorsitter.
Die tak het einde verlede jaar hul jaarlikse Orrelfees by die NG Kerk Faerie Glen in Pretoria aangebied.
Die orrelis Theo van Wyk het die sowat 100 feesgangers vermaak.
“Meeste van die feesgangers was pensionarisse. Baie van hulle het ’n groot passie vir musiek en het die fees verskriklik baie geniet,” sê Susan.
Groot name soos Wim Viljoen het al by die fees opgetree.
“Ons hou juis die Orrelfees teen die einde van die jaar omdat dit naby aan Kersfees is en die NG Kerk Faerie Glen het ’n baie goeie orrel.”
Die tak woeker jaarliks met vier groot konserte.
In Februarie bied hulle ’n Valentynskonsert aan waar groot geeste soos Gisela Villiers en Robert Brooks gaan optree.
In Junie bied hulle ’n Jeugkonsert aan waar die jongklomp wat eisteddfods gewen het hul talent wys.
Net voor die Orrelfees bied die tak ook ’n Lentefees aan om die nuwe seisoen aan te kondig.
“Die tak se doelwit is om die kunste te bevorder en met dié vier feeste dink ek ons los ’n groot voetspoor in veral Pretoria,” sê Susan.