ATKV-tak vereer plaaslike ‘heldinne’ met Winnie Rust-toekenning

Die ontslape skrywer, gemeenskapsleier en “eerste lady” van Wellington, Winnie Rust, het diep spore in dié Wes-Kaapse dorpie getrap. Sy het lig in ander mense se lewens gebring en altyd ’n helpende hand uitgereik.
Daarom het haar familie, saam met die ATKV-tak Wellington en die bestuur van die Wellington Museum, besluit om ander vroue en meisies wat ’n beduidende verskil in die gemeenskap maak, te vereer met die jaarlikse Winnie Rust-toekenning.
Winnie is in 2016 in haar huis vermoor en die toekenning word sedert 2017 aan belowende “heldinne” in die gemeenskap toegeken ter ere van dié ystervrou se nalatenskap.
“Winnie was onmisbaar in die gemeenskap. Sy was ’n dienende Marta en sou gereeld saam met die tak projekte aanbied. Sy was iemand wat meer geluister as gepraat het. Haar dood het ’n groot leemte in die gemeenskap gelos,” sê Tharina Schweidler, takvoorsitter.
Die toekenning word jaarliks gegee aan veral jong vroue en meisies in die gemeenskap wat dit ten spyte van moeilike omstandighede steeds regkry om hul medemens te help en ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Vanjaar is vier wenners aangewys.
Annake Petersen is ’n matriekleerling aan die Hugenote Hoërskool. Volgens Wikus Naudé, hoof van die skool, het Annake as ’n weeskind by hulle skool aangekom en aanvanklik gesukkel om by die nuwe omstandighede en haar pleegouerhuis aan te pas.
“Annake het gou agtergekom dat sy ’n geleentheid het om iets van haar lewe te maak en het ontwikkel in ’n jong dame op wie ons baie trots is.”
Sy was vanjaar aktief betrokke by skolesport en het ook akademies uitgeblink.
Berenishia Karolus het uit soortgelyke omstandighede gekom en het haar ma op ’n jong ouderdom verloor, terwyl haar dwelmverslaafde pa nooit tuis was nie. Sy het egter nie toegelaat dat dit haar onderkry nie en as jong vrou is sy tans besig om haar Educare-kursus aan die Boland Kollege te voltooi.
“Ek besef nou dat ek my storie moet gebruik om ander kinders in pleegsorg te mentor en te motiveer,” sê sy.
Fulenda Paulse is 61 jaar jonk, maar woeker steeds in die gemeenskap en is ook met die Winnie Rust-toekenning vereer. Sy het deur die jare talle kinders in die gemeenskap bygestaan deur hulle op te pas en het selfs matriekleerlinge gehelp met hersienwerk voor hulle eksamen, maar sy het nog altyd ’n behoefte gehad om te gaan studeer en ’n maatskaplike werker te word.
Logan Williams, ’n matriekleerling aan die Weltevrede Sekondêre Skool, het haar lewe lank saam met haar ouers in ’n sinkhuisie gewoon, maar vir drie agtereenvolgende jare op die junior stadsraad gedien.
Dié vier vroue het nou, te danke aan die ATKV en die Winnie Rust-toekenning, die kans om hul drome vlerke te gee met die studiebeurse wat hulle ook ontvang het.
“As tak glo ons dat vroue die steunpilare in die gemeenskap is en hopelik sal die beurse die drie vroue ’n hupstoot gee as hulle in 2023 met hul studies begin,” sê Tharina.