ATKV-tak wil ontvlugting bied deur boekhuisies

’n Boek ontsluit wêrelde. Dit bied aan die leser oneindig baie moontlikhede en ’n ontsnappingsroete waar die leser vir ’n uur of wat van sy realiteit kan vergeet.
Die ATKV-tak Kosmosrand het besluit om in Secunda boekhuisies op te rig waar die gemeenskap nuwe wêrelde en moontlikhede kan ontdek.
“Daar is ’n groot behoefte aan lees in ons gemeenskap,” sê Tracey van Wyk, takvoorsitter.
Tracey sê die inisiatief het gekom nadat hulle vir jare al bemoedigende leesstof aan die onkologie-afdeling van die Hoëveld Mediclinic verskaf het.
“Ons het nog altyd uitgereik na kankerpasiënte en iets so klein soos ’n boek het besonders baie vir die mense beteken.
“Ons wou iets nuuts en vars probeer. ’n Sentrale punt skep waar mense, wat ’n behoefte aan lees het, boeke kan uitneem.”
Die tak het toe besluit om op verskeie strategiese plekke boekhuisies op te rig waar mense leesstof kan kry.
“Ons is tans besig om nog huisies te ontwerp en te bou,” sê sy.
Die tak het ook begin om boeke in te samel vir hierdie klein biblioteke en beplan om die huisies by skole en by die hospitaal op te rig.
“Dit moet ’n plek wees waar kinders ’n passie vir lees ontwikkel en ook ’n plek wees waar mense ontvlugting kan vind.”
Hulle wil ook ’n boektrommel aan die plaaslike ouetehuis skenk.
“Ons seniors kort ook ons hulp en ons wil vir hulle ook iets gee wat van waarde is en wat vir hulle vreugde gaan bring.”
Tracey hoop dat die boekhuisies ander ATKV-takke sal inspireer om dieselfde te doen.
“Ons wil ander takke aanmoedig om ook hierdie inisiatief te gebruik en ’n leeskultuur onder hulle gemeenskappe kweek. Daar is niks meer bevredigend as ’n goeie boek wat jou wegvoer na ’n ander land of wêreld nie.”