ATKV-takke bied dramawerkswinkels in die platteland aan

Niks kan die gevoel klop van ’n teaterproduksie wat jou bekoor en ontroer nie, maar nie almal het toegang tot die luuksheid om ’n produksie te gaan kyk nie; en nie almal wat droom om eendag die volgende Lea Vivier of Marius Weyers te wees het toegang tot dramaklasse en die nodige leiding nie.
Daarom het die ATKV met Reckless Haven Produksies hande gevat om dramawerkswinkels vir leerders in afgeleë en plattelandse dorpies in die Oos-Kaap aan te bied.
Reckless Haven Produksies se span bestaan uit Karin en Danielle Retief en Rowlen von Gericke.
“Deel van die ATKV se #weesdieverskil-veldtog is juis om die katalisators van hoop in ons gemeenskappe te wees,” sê Gertjan Holtzhausen, ATKV-streeksbestuurder.
Verskeie ATKV-takke het saam met Reckless Haven Produksies die Act Out-werkswinkels vir leerders in Somerset-Oos, Jansenville, Graaff-Reinet en Cradock aangebied.
“Daar was ’n geweldige behoefte onder verskeie jeugtakke wat graag opleiding in dramavaardighede wou aanbied aangesien dit nie meer by alle skole gebeur nie,” sê Gertjan.
Die werkswinkels is van 18 tot 20 Mei by Gill Kollege, die Hoërskool Jansenville, Hoër Volkskool, Hoërskool Spandau, Hoërskool Asherville en Marlow Landbouskool aangebied.
“Die platteland van Suid-Afrika het so agteruitgegaan dat dinge wat altyd as vanselfsprekend aanvaar is, gekwyn het. Die kunste is ook besig om totaal en al te kwyn. En hoewel baie mense dink dat die kunste nie noodwendig so belangrik is nie, is dit eintlik kardinaal tot die ontwikkeling van gesonde gemeenskappe,” sê Gertjan.
Die hoofdoel van hierdie projek was om kranige en aspirantteatergeselskappe die nodige kennis en gereedskap te gee.
“Die vennootskap met die ATKV gee vir ons ’n ongelooflike geleentheid om die werkswinkels met die land te kan deel, veral met areas wat nie normaalweg die blootstelling en geleentheid kry nie,” sê Danielle Retief van Reckless Haven Produksies.
“Ons sien al lank die behoefte aan kultuur in die platteland raak en ons kan uiteindelik aan die behoefte voldoen met behulp van die ATKV.”
Volgens Danielle het die werkswinkels hulle die geleentheid gegee om met leerders te werk wat ’n passie vir die kunste het en wat nuuskierig oor die kunste is.
“Die werkswinkels behels ’n reeks improvisasie-tegnieke, asook dialoog- en monoloogwerk waar studente die geleentheid kry om hul talente en sterkpunte te ontdek.”
Leerders kry die kans om teenoor mekaar, asook teenoor professionele akteurs te speel.
“Daarna werk ons ook met die tegniese aspekte van die bedryf: kamerawerk, klank, beligting, en meer.
“Ons wil seker maak studente verstaan die groter prentjie en nie net wat hulle op sosiale media sien nie. Ons het al ’n paar studente vir agentskappe voorgestel wat suksesvol aangesluit het en werk ontvang het.”
Antoinette Botha, voorsitter van die ATKV-tak Noorsveld in Jansenville, sê sowat 20 kinders van die Hoërskool Jansenville het die werkswinkel bygewoon.
“Die kinders het dit vreeslik geniet. Ek dink elkeen het weggestap met hope kennis en nuwe passie en ywer vir die kunste.”
“In hierdie vreemde tye wou hierdie projek poog om menslikheid weer na vore te bring deur die waarde van interaksie met mekaar te beklemtoon,” sê Gertjan.