ATKV-takke gee nuwe lewe aan ossewa

Die ossewa is ’n integrale deel van Suid-Afrika se geskiedenis – daar is nie verniet ’n trommel vol spreekwoorde waarin dié vervoermiddel voorkom nie. Hoewel die ossewa nie eie aan ons land is nie, is die eerste een op plaaslike bodem klaarblyklik in 1653 uit houtbalke van die gestrande skip, Haerlem, gebou.
Om hulde te bring aan die tersaaklike rol van die ossewa, het die ATKV-tak Senekal en ATKV-jeugtak Zebras vroeër vanjaar kragte saamgesnoer om ’n ou ossewa (muilewa) weer tot sy vorige glorie te herstel. Dit is in samewerking met die Senekal-skoukomitee aangepak.
Twee ossewaens is in die vroeë 1900’s deur die boerderygemeenskap aan die dorp geskenk, tesame met ander boerdery-implemente soos ploeë en skare.
Corma Gerber, sekretaresse van die ATKV-tak Senekal, vertel: “Die een wa het vir etlike jare in die Senekal-parkie gestaan, maar die dak waaronder dit gestaan het, het om en by 2000 ineengestort nadat ’n boom daarop geval het. Die skoukomitee het die munisipaliteit gevra of hul eienaarskap daarvan kan neem, veral toe mense begin het om die wa se hout te verniel.
“Die wa was vir ’n geruime tyd veilig by die skouterrein bewaar in een van die geboue wat as uitstalruimtes aangewend word, maar verwering is deel van die natuurlike proses en opknapwerk was nodig. Gelukkig was die grootste behoefte bloot afskuur- en verfwerk. Daar is besluit om die muilewa eerste te takel. Uit die staanspoor was daar groot entoesiasme onder taklede.
“Die afskuurwerk het die week voor die skou begin en ten tyde van die skou in April, het ATKV-taklede – oud en jonk – entoesiasties ingespring en begin verf, ten spyte van die reën.”
Altesaam 50 mense – wat bestaan het uit taklede, mense uit die gemeenskap en drie kinderhuiskinders – het kom skouer aan die wiel sit om die wa betyds deur die drif te trek. Van tou opgooi was daar geen sprake nie.
Corma sê: “Wat vir my uitstaan, is hoe die ouer garde en jong kinders so lekker saamgewerk het en hoe leersaam dit was.”
Marcelle de Kock, voorsitter van die Senekal-skoukomitee, gee ’n bietjie agtergrond: “Die oorsprong van dié spesifieke ossewa is onduidelik, maar die wamaker wat in die Senekal-distrik in die laat 1800’s, vroeë 1900’s ossewaens en perdekarre gebou het, was oom Harry Boje. Die kleure waarin die wa geverf was, was die bepalende kenmerk van watter wamaker dit gebou het, maar met hierdie wa wat al langer as ’n eeu herhaaldelik geverf is, het die oorspronklike kleur verlore geraak.”
Hy sê dit is belangrik “om hierdie oorblyfsels uit die verlede vir die nageslag te bewaar, want dis ons erfenis. Die twee Senekal-waens is kosbaar vir ons as Afrikaners en ook vir die Senekal-gemeenskap.”
Olieverf wat die maksimum beskerming aan die hout verleen, is gebruik. Die wa is blou en rooi geverf. Daar is fyn detail verfwerk wat nog op die wawiele kort, maar dit verg spesialiswerk en sal later vanjaar aangepak word.
Corma sê voorts: “Die stoor by die skou gaan later vanjaar opgegradeer word sodra genoeg fondse ingesamel is. Die een wa gaan dan permanent daar ten toon gestel word, met ’n sertifikaat wat alle betrokkenes by die projek onderteken het.
“’n Spesiale woord van dank aan Gert Keulder (voorsitter van die ATKV-tak Senekal) en Leon van der Merwe (tesourier van die ATKV-tak Senekal) wat leiding geneem het en die jonges gewys het hoe dinge gedoen moet word.”