ATKV-takke Kakamas en Rooiduin huldig plaaslike grotes
Twee ATKV-takke het op 21 Oktober verskilmakers in hul gemeenskappe vereer. Die ATKV-tak Kakamas en die ATKV-tak Rooiduin in Upington het toekennings oorhandig aan vyf mense wat op ’n besondere manier die Afrikaanse taal en kultuur help voortleef en ’n liefde daarvoor onder oud en jonk kweek.
Jacomien Botes, Hannie Carstens-Nel, Madelein May en Henriëtte Theron is elk vereer met ’n Klop-op-die-skouer-toekenning en Barnie Mans het ’n Afrikoon-toekenning ontvang.
Hier is meer oor elkeen van die bekroondes.
Hannie Carstens-Nel
As jy dink aan Afrikaans en die bevordering daarvan, maar méér nog, die bevordering van korrekte en suiwer Afrikaans, kan jy nie anders as om te dink aan juffrou Hannie Carstens-Nel nie. Hannie is die departementshoof: Afrikaans by die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas. Sy dra haar passie vir Afrikaans breëbors, en sal nie skroom om énigiemand tereg te wys as hulle in die gebruik van Afrikaans fouteer nie. Dit is niks vreemd om die dominees op Sondagoggende vanaf die preekstoel in haar rigting te sien kyk en verskoning te vra voordat ’n meer bekende Engelse woord in die preek gebruik word, eerder as die Afrikaanse een nie.
Etlike van haar leerders is oor die jare as die beste leerder in Afrikaans Huistaal in die Noord-Kaap aangewys na afloop van die jaarlike Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Sy spog al vir meer as 25 jaar met ’n 100%-slaagsyfer in Afrikaans Huistaal vir matriekleerders ‒ ’n uitsonderlike prestasie as ’n mens in ag neem dat Afrikaans een van die slaagvereistes vir matriek is. Haar leerders slaag egter nie net Afrikaans Huistaal nie, hulle slaag dit bogemiddeld. Benewens die slaagpersentasie, is haar klasgemiddeld nooit onder 60% nie. As vakkundige geniet sy die aansien van haar kollegas in die Noord-Kaap-onderwysdepartement. Sy is nou betrokke by die opstel van vraestelle en werkstukke vir die leerders van die provinsie. Sy deel haar kennis met kollegas en help graag as hulle vir hulp kom aanklop. Sy is ’n ongelooflike mentor vir nuwelingonderwysers en bemagtig hulle.
Haar passie vir die taal word ook buite die klaskamer uitgeleef. Haar redenaars presteer jaarliks uitsonderlik en sy spog bykans elke jaar met ’n leerder in die finaal van die nasionale ATKV-Redenaarskompetisie. Sy was ook vir etlike jare die organiseerder van hierdie kompetisie in die Noord-Kaap.
Henriëtte Theron
Henriëtte Theron (81) se jare lange betrokkenheid by verskeie biblioteke is volgens die ATKV-tak Kakamas al genoeg rede om vir ’n Klop-op-die-skouer-toekenning te kwalifiseer.
Henriëtte het onder meer die Hoërskool Martin Oosthuizen se skoolbiblioteek laat herleef en bestuur, ’n biblioteek by die Kokerboom-oord begin en bestuur, was medeverantwoordelik vir die totstandkoming van ATKV-biblioteke op Riemvasmaak en Vredesvallei – waar sy twee persone as bibliotekaresses opgelei het – sy was verantwoordelik vir die totstandkoming en bestuur van die Ouma Cillie-ouetehuis se biblioteek, medeverantwoordelik vir die totstandkoming van die Barkly-Oos-dienssentrum se biblioteek én het die Laerskool Sentraal Kakamas die afgelope twee jaar met die herstel van leesboekies gehelp.
Henriëtte was ook vir meer as 40 jaar intens betrokke by gemeenskapswerk op Kakamas en sien selfs vandag nog ‒ op 81 ‒ kans vir nuwe projekte.
Madelein May
Nadat Madelein May in 2007 die ATKV-jeugtak Uppies as die eerste ATKV-jeugtak in die Upington-omgewing by die Hoërskool Upington gestig het, het sy toe sy in 2010 bedank het, gehoop dat die tak sal voortbestaan. Vandag, 13 jaar later, het hierdie tak onder leiding van Madelein groot hoogtes bereik.
Madelein is passievol oor Afrikaans en die jeug. Haar kultuurdiere (die tak se naam het intussen effens verander na die ATKV-jeugtak Kultuurdiere) en hul projekte is oral in die gemeenskap, sowel as in die plaaslike koerant, Die Gemsbok, sigbaar.
Die Hoërskool Upington is die alma mater van Gerhard Beukes, die bekende skrywer. Hulle het ’n pragtige lokaal, die Gerhard Beukes-kultuursentrum, ter huldiging van sy nagedagtenis ingerig. Hierdie lokaal word vir alle geleenthede van die ATKV-tak Rooiduin beskikbaar gestel. Dit is die enigste skool in Upington wat altyd toeganklik is en hul lokale vir die ATKV se funksies aanbied. Die ATKV-jeugtak Kultuurdiere se projekte word jaarliks by die ATKV se algemene jaarvergadering vereer. Madelein ontvang ’n Klop-op-die-skouer-toekenning vir die werk wat sy vir die ATKV doen deur die jeug bewus te maak van hierdie wonderlike organisasie.
Jacomien Botes
Jacomien het in die Upington-omgewing grootgeword en ná haar studies as maatskaplike werker na hierdie wêreld teruggekeer, waar sy steeds ’n tasbare verskil in mense se lewens maak. Sy het aanvanklik as onderwyseres by ’n klein plaasskooltjie baie kinders, wat in moeilike omstandighede grootgeword het, se lewens verander.
Tydens haar tyd as onderwyseres by die Hoërskool Duineveld het sy, alhoewel hulle buite die dorp gebly het, gereeld tyd afgeknyp en gehelp waar sy kon, onder andere met ’n fondsinsameling vir leerders se oorsese sporttoer. Sy werk al baie jare by die bekende Karsten-boerdery, waar sy in beheer is van die opheffing van plaaskinders in die hele Benede-Oranjerivier-gebied, wat tot anderkant Pella strek.
Jacomien word gereeld in die gemeenskap gesien by opvoerings deur haar plaaskinders, sowel as by markte waar handwerk verkoop word. Sy en haar gesin het vir ’n tyd in Tanzanië gewoon, waar sy net so ’n verskil in die opleiding van plaaslike inwoners gemaak het. Sy en haar kinders het ook ’n tuisrestaurant bedryf. Tussendeur haar wonderlike gemeenskapswerk het sy ook verder studeer en nog twee grade verwerf. Jacomien ontvang ’n Klop-op-die-skouer-toekenning vir die verskil wat sy maak in die opheffing van kinders in kleuterskole en dagsorgsentrums in die Noord-Kaap.
Barnie Mans
Barnie Mans se vele toekennings wat hy vir toneelstukke ontvang het – hetsy vir homself of die tienerakteurs wat in sy dramas en toneelstukke optree – is ’n ongekende prestasie vir ’n onderwyser op die platteland.
Voeg daarby sy betrokkenheid by die wyer Kakamas-gemeenskap, veral by kerke as orrelis en sanger in die koor, diaken en ouderling, en by skole se konserte en redenaars, en dit word duidelik dat Barnie sy gewig ten volle by gemeenskapsbetrokkenheid ingooi.
’n Besondere prestasie is sy verkiesing as lid van die Fiësta-paneel van beoordelaars vir groot feeste soos die KKNK en die Toyota US Woordfees.
Barnie was in die eerste klas van Pikkiebult Pre-Primêre Skool, waarna hy sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool Sentraal Kakamas voltooi. Daarna stap hy deur die hekke van die Hoërskool Martin Oosthuizen, waar hy sy matriek verwerf. Dit is by HMO waar hy, onder leiding van sy ma as regisseur, sy liefde vir toneel ontdek en dit begin uitleef. Hoewel sy ma die toneelsaadjie en -liefde by hom geplant het, was dit sy pa wat hom aangemoedig het (en byna daarop aangedring het) om drama te studeer.
Sedert 2004 is Barnie ’n permanente personeellid van die Hoërskool Martin Oosthuizen. Hy ag homself bevoorreg om by ’n skool betrokke te wees wat hom sy passies en drome ten volle laat uitleef. In sy amper 20 jaar by die skool het hy al verskeie revues, musiekblyspele, groot buitelugkonserte, ruimtespesifieke teateraanbiedings, danskompetisies, koorfeeste, redenaarskompetisies en mini-kunstefeeste aangebied.
Hy is ook nou betrokke by leerders se redenaarsafrigting en by die skoolkoor. As departementshoof by die skool, dien hy op die skool se leierspan en is ook ’n lid van die skool se beheerliggaam. Hy het ’n passie vir sy skool, dorp en gemeenskap en daar waar hy kan help en betrokke raak, sal jy hom kry.