ATKV-takke kweek groen vingers vir ’n volhoubare toekoms

Daar is net iets bevrydend en stimulerend daaraan om in jou eie tuin te werk – om te werskaf, jou vingers deur die nat grond te trek en jou plante nat te lei. Dit is nog meer lonend om jou eie groente vars uit die tuin te pluk en te eet.
Die ATKV en Seed2Harvest se missie is om dié ervaring vir almal toeganklik te maak.
“Daar was nog altyd ’n behoefte by my om by voedselsekerheid wat ’n verskil maak, betrokke te raak.
“Ons land sit met geweldige uitdagings, waarvan voedselsekerheid seker een van die ergstes is. Die skep van selfonderhoudende groentetuine kan ’n geweldige bydrae lewer om juis dít te help aanspreek,” sê Andriette Potgieter, streeksbestuurder.
Die ATKV loods eersdaags ’n nasionale projek waar hulle aan individue en takke opleiding gaan gee oor hoe om hul eie organiese groentetuine te kweek en daar word beoog om met die eerste fase van die projek 123 tuine te vestig.
“Die gedagte was om vir takke en individue ʼn gereedskapkissie te gee wat alles in het om ’n volhoubare groentetuin te kan begin, wat organies is en die vermoë sal hê om selfgenererend te wees.
“Seed2Harvest se missie het aangesluit by my idee om vir elke huishouding ’n groentetuin te kan vestig en gesinne in staat te kan stel om hul eie voedsel volhoubaar te kan produseer,” sê Andriette.
Die eerste twee opleidingsessies het op 1 Oktober in Mosselbaai en 2 Oktober in Pacaltsdorp plaasgevind.
Die opleiding bestaan uit ’n drie-uurlange teoretiese aanbieding oor aspekte soos die begin en instandhouding van groentetuine, planttegnieke en plaagbestryding.
Elke persoon kry ’n boksie met kunsmis, sade en plaagdoders.
Daar is ook ’n drie-uurlange praktiese implementering in ’n gemeenskapstuin waar die boksies se inhoud aangewend gaan word, en Seed2Harvest fisies saam met die takke ’n tuin tot stand gaan bring.
“Hierdie organiese tuinbeginsel gee aan die gesin of persoon wat die inhoud plant ’n moontlike opbrengs van 60 kg vars produkte wat in ’n tuin, in houers of motorbande geplant kan word.”
Die boksie het ook ’n handige gids wat geraadpleeg kan word om byvoorbeeld plaagdoders uit basiese huishoudelike bestanddele, soos wasseep en koeksoda, te maak.
“’n Verdere uitvloeisel van die groenteboksies is die generering van ’n inkomste van R2 000 uit ’n plantseisoen. Entrepreneurskap word dus aangemoedig. Oorskotgroente kan verkoop word, bure kan groente uitruil, klein markte kan geskep word en gemeenskappe en individue kan hulself volhoubaar onderhou. Die idee is ook dat jy nie weer sade gaan koop nie, maar jou eie sade sal oes wat jou weer die vermoë gee om die plantsiklus van voor af te begin.
“Ons wil mense aanmoedig om selfonderhoudend te wees en vir hulself kos op die tafel te sit,” sê Andriette.





