ATKV-takke maak Biblioteekweek een vir die boeke

Die Amerikaanse skrywer Sidney Sheldon se beskrywing van ’n biblioteek is nommerpas: “Biblioteke stoor die energie waarmee verbeelding werk. Hulle maak vensters oop wat op die wêreld uitkyk, en inspireer ons om te verken en te ontdek. Dit alles dra by om ons lewenskwaliteit te verhoog. Biblioteke verander ons lewens ten goede.” Die bydrae wat biblioteke in mense se lewens maak, is enorm en daarom moet ons juig oor die bestaan van elke biblioteek – hoe klein ook al.
Vanaf 20 tot 26 Maart vier Suid-Afrika Nasionale Biblioteekweek en hierdie jaar is die tema “Biblioteke vertel kragtige stories”. By die ATKV is daar nog altyd ’n besonder groot klem geplaas op die onmiskenbare rol wat boeke en stories in die ontwikkeling van kinders speel en daar is regdeur die jaar projekte aan die gang om boeke na kinders en die breër gemeenskap te bring.
Chareldine van der Merwe is die projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV. Die VVA se vlagskipprojek is die boektrommelprojek, waarmee ’n leeskultuur by skole aangemoedig word. Die projek gee aan kinders wat nog nooit voorheen aan boeke blootgestel is nie die wonderlike voorreg om ’n boek in die hand te hou. Tans is Chareldine en haar span weer regoor Suid-Afrika aan die werk om van hierdie trommels, gevul met boeke ter waarde van ongeveer R8500, aan verdienstelike skole en goedbestuurde kleuterskole uit te deel. Die opgewondenheid onder die skoolkinders is groot wanneer die tannies met die boektrommel daar opdaag, veral omdat die boeke mag agterbly! Chareldine sê hulle het groot waardering vir die onderwysers wat net so entoesiasties is oor die boektrommelprojek en wat ’n spesiale plek inrig in die klaskamer, waar die boeke uitgestal word, gereed om te lees.
“Die groot uitdaging is natuurlik dat boeke baie duur is en dat baie skole nie meer biblioteke het nie, of dat die boeke wat wel beskikbaar is, verouderd en gedaan is. Vir ons is dit ook belangrik dat kinders ’n regte boek moet kan vashou en dat dit nie altyd net afgerolde bladsye is wat aan hulle uitgedeel word nie. Kinders moet besef boeke is waardevol. Dis ook deel van ons oorhandigingseremonie wanneer ons die trommels by die skole aflewer. Ons vertel vir die kinders dat jy altyd ’n boek met respek moet hanteer, dat jy eers jou hande moet was voordat jy die boek oopmaak, dat jy nie in die boek mag skryf nie of daaraan mag knip nie. Die groot vreugde van ons projek lê daarin om te sien hoe die kindertjies se ogies blink wanneer ons hierdie trommels oopmaak en die boeke daaruit haal,” sê Chareldine.
Die oogmerk met die boektrommelprojek vir die 2022 finansiële jaar was om 60 boektrommels te kon oorhandig. Chareldine vertel trots dat hulle hierdie doelwit, danksy wonderlike skenkings van donateurs van oral af, aan die einde van Februarie kon verbysteek. Daar is toe uiteindelik 61 trommels by skole uitgedeel en 14 trommels by kleuterskole.
“Wanneer ’n mens vroeg reeds ’n liefde vir lees by kinders kan kweek, het jy iets baie belangrik reggekry,” sê Chareldine. “Ons is dankbaar dat ons op hierdie manier vir kinders wat nie regtig toegang het tot boeke nie ook nou die geleentheid bied om stories te kan hoor. Ons bring as’t ware die biblioteek na hulle toe.”
Verskeie ATKV-takke is landswyd ook met projekte besig wat gemik is op die viering van die Nasionale Biblioteekweek. Die ATKV-tak Kosmosrand in Secunda het besluit om die Laerskool Secunda by te staan, wat besig is om weer ’n biblioteek by die skool in te rig. Daar gaan ’n heerlike kompetisie wees, waartydens die leerders ’n boek gaan kry om te lees, waarna hulle ’n paragraaf oor die boek moet skryf. Die ouer leerders gaan die geleentheid kry om ’n plakkaat te maak. Die wenners se prys is ’n heerlike boek. Tracey van Wyk, takvoorsitter, sê toe die nuus in die koerant geplaas is, het hulle van oral af boekskenkings gekry en hulle hoop om sommer gou die nuwe biblioteek se deure te open.
Lelia Etsebeth vertel dat die gemeenskap van Frankfort ook baie entoesiasties is oor die Nasionale Biblioteekweek. Die ATKV-tak Frankfort het ATKV-lede, besighede en skoolkinders gevra om boeke te skenk. Dit gaan net ná die skoolvakansie aan die Wilgerus Tehuis vir Bejaardes in Frankfort oorhandig word.
Corné Oosthuizen is die voog van die ATKV-jeugtak Vrede Vonk op Vrede in die Oos-Vrystaat. Sy vertel dat hulle in Februarie ’n vergadering gehou het en die eerste projek wat die jongmense wou aanpak, was om tweedehandse boeke bymekaar te maak en daaraan nuwe lewe te gee. Dit moes dan aan die ouetehuis op die dorp oorhandig word. Daar is toe besluit om ’n kompetisie by die skool te loods om te sien watter graad se leerders samel die meeste boeke in. Die wenners van die kompetisie sal ná die vakansie aangekondig word. Corné vertel dat daar egter so baie boeke ingekom het dat die onderwyseres wat besig is om weer ’n biblioteek by die skool aan die gang te kry, gevra het of sy eers deur die bokse boeke kan gaan om te sien wat geskik sal wees om in die skool se biblioteek te gebruik. Die nuwe biblioteek word dan sommer hierdie week ingewy, kompleet met ’n groot rooi lint aan die deur wat amptelik tydens Nasionale Biblioteekweek geknip word. Die skenking van die boeke aan die Avondvrede Tehuis vir Bejaardes sal ná die skoolvakansie plaasvind.
Op Woensdag, 22 Maart gaan die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet tussen 16:00 en 17:00 ’n heerlike byeenkoms hou in die skool se biblioteek. Hierdie biblioteek is vroeër vanjaar oorgedoen met ’n bykomende rustige leerarea waar leerder kan lees, leer en hulle kennis kan verbreed terwyl hulle gemaklik op die sagte banke sit. Daar sal dan hierdie Woensdag koffie gedrink word, terwyl die leerders met mekaar sal gesels oor hul gunstelingboeke. Die bibliotekaresse, Megan, gaan die leerders ook ’n bietjie meer vertel van biblioteke en waar dit vandaan kom. Hierdie is ’n projek van die ATKV-jeugtak Volksmond in Graaff-Reinet, vertel Clarissa Faber, die voog van hierdie tak.
Wat sal ons lewens wees sonder die vreugde van boeke? Nie almal kan boeke bekostig nie, maar elkeen van ons kan aan ’n biblioteek behoort. Maak dus seker dat jy met ’n biblioteeklidmaatskap die vensters van jou wêreld, of dié van jou kinders, veel groter oopmaak.