ATKV-takke sit nie stil in hul gemeenskappe

ATKV-takke van regoor die land het in die afgelope maand nie gras onder hulle voete laat groei om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak nie.
April en die eerste dag of twee van Mei was bedrywig en suksesvol – van wilde, woeste haarstyle, opbouende gemeenskapsprojekte tot bingo vir die bejaardes.
Die ATKV-jeugtak Douglas in die Noord-Kaap het ’n wille woeste hare-dag gehou waar die skool se leerders hul hare snaaks en woes opgemaak het. Een leerder het selfs ’n Cokebottel in haar haredos vasgeknoop.
Die ATKV-jeugtak Beiteltjies van die Hoërskool Hangklip in Queenstown het ’n fliekaand gehou.
Hulle het die rolprent Rip Tide gekyk en daar was vyf stalletjies wat heerlike lekkernye, springmielies en boereworsrolle verkoop het.
Volgens Chanté du Randt, takvoorsitter, was daar sowat 80 kinders wat dié geleentheid bygewoon het.
Die ATKV-jeugtak R62-Kamerade se fliekniek was ook ’n reusesukses en het selfs gespog met ’n skerm van 6m x 9m waarop die fliek Die Pro vertoon is.
Die ATKV-jeugtak Prieska het hul lyf Indiana Jones gehou met ’n idiomeskattejag. Spanne moes woorde wat in idiome weggelaat is, identifiseer en dan ook ’n foto neem wat die woord uitbeeld.
Die ATKV-tak Arendsnes het in April die Kloofendal-staproetes aangedurf as deel van hul maandelikse takaktiwiteite.
Volgens Josef Oosthuizen het oud en jonk die pragtige roetes gestap waarna daar heerlik om ’n braaivleisvuur gekuier is.
Die ATKV-tak Noupoort het ’n bietjie kleur aan hul dorp gegee.
Volgens Theo Kleinhans, takvoorsitter, het hulle besluit om by te dra tot ’n mooier dorp en het begin om dromme te verf en in die hoofstraat as asblikke te plaas.
Die ATKV-tak Groot Karoo (Beaufort-Wes) het 72 bakkies lasagne verkoop en volgens die voorsitter, Theo Munro, was dit ’n reusesukses en ’n goeie geleentheid om fondse vir die tak in te samel.
Terwyl die meeste mense op Werkersdag ’n bietjie ingelê het, het die ATKV-tak Edik in Uitenhage gehelp om die woongebied Gerald Smith (Jazztown) op te ruim.
Die tak wil probeer om bogenoemde ’n maandelikse projek te maak.
Op dieselfde dorp het die ATKV-tak Uitenhage vir die oues van dae ’n bietjie vermaak verskaf en ’n bingo-aand vir die mense by die ouetehuis gereël.
Die takke sal voortgaan om in Mei ’n nóg groter verskil te maak. Besoek www.atkv.org.za/Gemeenskap/Soek-n-Tak om jou naaste tak op te spoor en aan te sluit.