ATKV-takke vier Mandeladag

ATKV-takke is deurentyd aan die woel en werskaf om ’n verskil in gemeenskappe te maak, en Mandeladag is geen uitsondering nie. Van oraloor vier ATKV-takke oudpres. Nelson Mandela se nagedagtenis met projekte van hoop en verandering.
Op 18 Julie fokus ATKV-takke op projekte wat deur die behoeftes in hul direkte gemeenskappe bepaal word.
Hier is maar net enkele inisiatiewe wat die vaardighede en passie van die vrywillige ATKV-taklede illustreer.
Kallie Calitz van die ATKV-tak op Uitenhage sê dié tak deel vandag ’n hele bakkievrag klere uit aan behoeftige mense, in samewerking met MES. Taklede rol ook moue op en verf ’n sitkamer uit by Uitenhage Geestesgesondheid waar volwassenes met verstandelike gestremdheid woon.
Waarom op Mandeladag so in die gemeenskap help? “Dit is wat ons moet doen! Ons móét,” sê Calitz. “As ons dit nie doen nie, wie gaan dit doen?”
Kinders met gestremdhede se onontginde potensiaal het die ATKV-tak Sonneblom in Despatch aangegryp en hulle aangespoor om hul hande uit die moue te steek.
“Die korrekte terapeutiese intervensie en stimulasie kan die wêreld se verskil maak vir ’n gestremde kind se ontwikkeling. Sommige kinders kan selfs later in die hoofstroomskoolstelsel opgeneem word,” sê Alida Kinghorn van die ATKV-tak Sonneblom.
By Miracle Kids in Despatch kry kinders tussen een en 14 jaar hierdie spesiale aandag. Die dagsorgsentrum is egter van skenkings afhanklik en dit is waarom die ATKV-tak Sonneblom besluit het om betrokke te raak. Die tak het ingespring en opvoedkundige speelgoed en kos vir die sentrum begin bymekaar maak.
“So help ons om die kinders te bemagtig sodat hulle hul regmatige plek in die samelewing kan inneem,” sê Kinghorn.
In Plettenbergbaai deel die ATKV-tak Frangipani vandag higiënepakkies uit aan leerders van die Formosa Primêre Skool. Die tak het ook ’n gasspreker gereël wat die kinders oor mensehandel en groepsdruk gaan toespreek.
“Ons wil graag ons kinders help om te besef dat hulle belangrik is. Baie van hulle is op straat en by dwelms betrokke. Hulle moet voel dat hulle behoort,” sê Elrisia Breda van dié tak.
Nog ’n tak wat nie stilsit nie, is die ATKV-tak Arendsnes in Roodepoort. Die tak se Oupa-/Ouma-vakansieklub vir die Arendsnes-kuikens (vyf tot 16 jaar oud) was nie net baie groot pret nie, maar die gemeenskap het ook gebaat.
Monique Brink, voorsitter van die ATKV-tak Arendsnes vertel: “Dit was ’n dag vol geur, kleur en groot harte in klein lyfies.”
“Die oggend het die kinders met blink oë en kreatiewe vingers ingespring om kaartjies te ontwerp – kaartjies wat later op selfgebakte koekiepakkies sou pryk. Hier was daar nie net ink en papier nie, maar ook hope liefde en sorg in elke stukkie kuns.”
Toe is die deeg, wat oupas en oumas met groot sorg voorberei het, uitgerol, uitgedruk en gebak.
“Die gemmerkoekmannetjies het toe met versiersuiker en lekkergoed lewe gekry – met hoede, strikke en gesiggies.”
En toe … die finale afronding: Die koekies is in sakkies gesit, die kaartjies is vasgebind, en die pakkies was gereed vir die spesiale aflewering by die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes.
“Wat ’n voorreg om te sien hoe klein handjies ’n groot verskil kan maak,” sê Brink.
Vandag en elke dag is die ATKV-takke doenig om daadwerklik ’n verskil te maak in die gemeenskap, vir die gemeenskap en deur die gemeenskap.