ATKV-takke wil teruggee op Mandeladag
Ons lewens is onherroeplik verander weens die pandemie. Orals om ons is daar hartseer en swaarkry. Die afgelope paar dae se geweld in dele van Suid-Afrika het Suid-Afrikaners weer op hul knieë.
Dit is moeilik om in hierdie ongewone tye positief te bly, maar ondanks al die ellende gaan Suid-Afrikaners op 18 Julie met Mandeladag ’n verskil maak en die ATKV-takke gaan ook hulle deel doen.
Dié dag is ter viering van die lewe van wyle oudpresident Nelson Mandela, wat op dié dag in 1918 gebore is. Dit is ’n geleentheid om vir Suid-Afrikaners om minstens 67 minute ’n bydrae in hulle gemeenskap te maak en sodoende Madiba se visie van ’n beter toekoms te bewaarheid.
Dit was immers Madiba wat gesê het: “Ek is in wese ’n optimis. Of dit uit oorerwing spruit of aangeleer is, kan ek nie sê nie. Deel van optimisties wees is om jou gesig na die son te rig en jou voete te laat vorentoe beweeg.”
ATKV-takke regoor die land gaan hul gesig na die son draai, moue oprol en terugploeg in hulle gemeenskappe.
“Ons wil op hierdie dag veral fokus op die jeug, vroue en bejaardes,” sê Claire du Plessis, takvoorsitter van ATKV-tak Langsous.
Dié tak gaan saad en plante in vier gemeenskappe in die Mosselbaai-omgewing uitdeel en mense leer hoe om selfstandig te wees en hulle eie groente te kweek.
“Ons fokus hierdie jaar val op voedselsekerheid en ons wil graag vir die mense leer hoe om gesond te eet en te leef.”
ATKV-tak Empangeni gaan behoeftiges in hulle gemeenskap help.
“Ons plaaslike koerant het elke jaar op Mandeladag ’n wasgoedlyn waar mense klere en komberse kan gaan ophang wat dan aan behoeftige mense in die gemeenskap geskenk word. Ons het besluit om by hierdie inisiatief betrokke te raak en komberse te skenk.”
Die tak het gaan ook kos aan hulpbehoewende mense te skenk.
“Dit gaan tans swaar in die wêreld en ons as tak wil ons deel doen om iemand se swaarkry ’n bietjie ligter te maak.”
ATKV-tak Sonneblom het mussies en maskers gemaak wat hulle aan die plaaslike Childhood Cancer Foundation (Choc) gaan skenk.
“Dit is ’n klein gebaar, maar hopelik bring dit ’n bietjie vreugde vir iemand,” sê Anette Becker, takvoorsitter.
ATKV-tak Potpourri beplan ’n dag van bederf vir die inwoners van die plaaslike rehabilitasiesentrum.
“Ons gaan handdoeke vir hulle skenk. Die NG kerk Nooitgedacht het vleis geskenk wat ons op die dag gaan braai en van ons taklede gaan aartappelslaai en kolwyntjies vir die geleentheid maak
“Dit is bitter moeilik vir ons as tak om met ons projekte aan te gaan weens die virus. Ons as taklede is gewoond daaraan om op die grond te wees, maar baie van ons lede is ouer as 60 en bang om uit te gaan, maar steeds probeer ons ’n verskil maak al woed daar ’n pandemie.”
As jy nog nie seker is wat jy wil doen nie, hier is ’n paar idees: