ATKV-taklid begin ’n leesrevolusie

Wat begin het as ’n nederige leesgroepie met vyf kinders het gou in ’n leesrevolusie ontaard toe Trudie Swanepoel besluit het om kinders in haar omgewing te leer lees.
Trudie Swanepoel, voorsitter van die ATKV-damestak Despatch, het in Maart verlede jaar – net voor die grendeltydperk – besluit sy wil kinders in die Despatch-omgewing leer lees en het ’n leesgroepie begin.
“Ek het vyf gr.1-leerders wat deel is van my Voortrekkergroep en ek het besef hulle sukkel verskriklik om te lees,” sê Trudie.
“Ek ken die uitdagings wat met lees gepaardgaan. Ek het self as kind gesukkel om te lees.”
Sy het van die Tippie leer my lees-reeks, wat deur Reinette Palmer geskryf is, te hore gekom en besluit die kinders moet met dié boeke leer lees.
Die Tippie-boeke bestaan uit vier reekse van tien boeke elk wat kinders se woordeskat verbreed en hulle speel-speel leer lees.
“Die Tippie-boeke lees baie maklik en is ideaal vir kinders wat leesprobleme ervaar.”
Ouers het gou aan Trudie se deur kom klop en teen die einde van verlede jaar het sy 12 kinders gehad wat by haar leeslesse kom ontvang het.
“Ons het sowat ’n uur sessie met die kinders en ek lees saam uit die boek sodat hulle nie alleen hoef nie. Dit skep vir hulle meer selfvertroue om te lees.”
Teen Januarie vanjaar het haar leesgroep uitgebrei tot ’n allemintige 24 kinders.
“Dit het so baie geword dat ek ’n rooster moes opstel vir wanneer elke kind vir leeslesse moet kom.
“Dit verg baie geduld en ek weet nie altyd waar my geduld vandaan kom nie, maar dit is lekker om die kinders te sien groei as lesers.”
Reinette, wat die Tippie-reeks geskryf het, het van Trudie se leesgroep gehoor en vir haar ’n reeks van die boeke gestuur.
Vriende van Afrikaans, ’n divisie van die ATKV, het ook onderneem om vir Trudie ’n boektrommel te stuur.
“Ek het regtig nie gedink my leesgroep gaan so baie aandag trek nie, maar dit is baie bevredigend om ’n verskil in hierdie kinders se lewens te maak.”