ATKV-takprojek op 'Dankie, Lottoland' te sien

Die ATKV-tak Gemeenskapsteater en sy liefdadigheidsprojek, Sig vir Kersfees, gaan op 29 Mei op die kassie te sien wees.
“Dit is vir ons ’n besonderse geleentheid om vir die hele land te wys waaroor ons projek gaan,” sê Ebeth Wilson, takvoorsitter.
Sig vir Kersfees gaan op die program, Dankie, Lottoland, op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien wees.
Dié program identifiseer hulpbehoewende individue en liefdadigheidsorganisasies en help dan om die organisasies by te staan met fondse sodat hulle weer ander kan help, asook om vir hulle die nodige blootstelling te bied.
Sig vir Kersfees is verlede jaar deur die tak gestig en hulle doelwit is om letterlik vir mense hulle sig terug te gee.
“Ons doen fondsinsamelings om mense by te staan wat katarakte het en nie noodwendig die fondse het om dit te verwyder nie,” sê Ebeth.
Hulle fokus veral op bejaardes en mense wat op staatstoelae steun.
Volgens Ebeth is daar ’n lang waglys vir mense wat by ’n staatshospitaal die prosedure wil ondergaan.
“Van die mense is op ’n waglys wat tot Junie 2023 strek.”
Die tak het drie mense al gehelp om hulle katarakte te verwyder en nóg vier mense gaan op Dankie, Lottoland die geskenk van sig ontvang.
“Ons is baie opgewonde oor die blootstelling wat hierdie wonderlike projek gaan ontvang en ons hoop dat die publiek geïnspireer sal voel om ook te help en ’n bydrae te lewer sodat ons nog baie ander mense ook kan help.”
Dankie, Lottoland word Saterdae op kykNET (DStv-kanaal 144) om 18:00 uitgesaai.
Kyk HIER na 'n voorskou.