ATKV-takvoorsitter woeker al woon sy in Taiwan

Hoe gemaak as jou takvoorsitter aan die anderkant van die wêreld sit?
Kan ’n ATKV-tak in Suid-Afrika steeds met sy daaglikse werkinge voortgaan en steeds ’n verskil in sy onmiddellike omgewing maak? Sal al die lede steeds ingelig en geïnspireerd voel om in hulle taal te kan woeker?
Dít was die uitdagings wat die ATKV-tak Kunstejêm die hoof moes bied terwyl hulle takvoorsitter Karien Brits nou in Taiwan woon.
Maar te danke aan die moderne era van e-posse, sosiale media en Zoom is landsgrense en afstand nie ’n probleem nie.
“Dit voel soms soos parallelle heelalle,” sê Karien.
“Ek is nog my hele lewe lank betrokke by Afrikaans as taal en dit is lekker om dit op hierdie manier te kan voortsit.”
Karien gee nou Engels vir laerskoolkinders by ’n naskoolse taalskool in Taiwan.
“Ek praat nog elke dag Afrikaans. Ek het nogal begin om een van my kollegas Afrikaans te leer!”
Behalwe dat sy duisende kilometers van Suid-Afrika is, is sy steeds besig om as takvoorsitter van ATKV-tak Kunstejêm byeenkomste, projekte en kuiergeleenthede te reël.
ATKV-tak Kunstejêm is vir huidige en oudwerknemers van die ATKV.
“Jy ken die ou gesegde van die skoenmaker se kinders loop kaalvoet? Ons wou keer dat die ATKV-kinders kaalvoet loop. Die tak bied ruimte vir ATKV-mense om hulle liefde vir die taal en die kunste uit te leef,” sê Karien.
Sy sê die tak beplan groot dinge.
Die tak se eerste aktiwiteit is die jaarlikse Moedertaaldag wat op 19 Februarie saam met die ATKV-tak Vorentoe (Soweto) en die ATKV-taalafdeling aangebied word.
“Dit is elke jaar 'n lekker geleentheid om meer oor die verskillende tale en kulture in Suid-Afrika te leer.”
Sy sê die Covid-19-pandemie het sy eie uitdagings gehad en het haar geleer om aanpasbaar te wees.
“Dit het ons laat besef dat daar meer geleenthede is om oor grense heen saam te werk en dinge op nuwe en vars maniere aan te pak. Intussen is dit lekker om op hierdie manier ’n stukkie Afrikaans in Taiwan te kan hê.”
Jy kan ’n ATKV-tak stig waar jy ook al woon en werk. As Afrikaans vir jou belangrik is en jy ’n verskil wil maak, moenie dat ligging in jou pad staan nie.
* As jy ’n tak wil stig of by ’n tak in jou dorp/stad wil aansluit, kontak gerus een van ons streeksbestuurders. Om ’n tak te soek klik hier. Vir streeksbestuurders se kontakbesonderhede klik hier.