ATKV-Tienertoneel is gereed en grensloos!

Die gordyn word eersdaags gelig vir die 59ste ATKV-Tienertoneelkompetisie en 193 produksies staan in die syverhoog gereed om grensloos hul stories te vertel.
Vanjaar neem nie minder nie as 3000 tieners vanaf 24 Julie tot 27 Augustus deel aan agt streeksfeeste regoor Suid-Afrika.
Met ATKV-Tienertoneel word leerders soveel moontlik geleenthede gegee om by al die aspekte van die toneelstuk betrokke te raak, met ander woorde, by die spel, regie, skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie en selfs bemarking!
Die ATKV bederf al die deelnemers aan ATKV-Tienertoneel met die onvergeetlike voorreg om in ’n teater hul produksies aan te bied. Hierdie teaters is nie net toegerus met topgehalte- tegniese toerusting nie, maar is ook gevul met nostalgie, stories en die kultuur van veteraanakteurs en ikoniese teaterwerke wat ons jong opkomende talent sal inspireer om grensloos hul bes te lewer.
ATKV-Tienertoneel word in die volgende teaters landwyd aangebied:
Die UNISA Little Theatre (Pretoria), die Wynand Mouton-teater (Bloemfontein), die Playhouse Drama Theatre (Durban), die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch) en die Little Theatre (Gqeberha).
ATKV-Tienertoneel se unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel deurdat die deelnemers aan elke produksie na afloop van elke optrede met mentorbeoordelaars, wat hul merk gemaak het in die vermaaklikheid- en tersiêre-onderrigbedryf, in ’n tweerigtingsgesprek tree oor hul werk tydens opwindende mentorwerkswinkelsessies.
Die mentorbeoordelaars tydens vanjaar se ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste is Solomon Cupido, Lindsey Cele, Mari Molefe van Heerden, Jacques Bessenger, André Lötter, Marlo Minnaar, Marijda Kamper, prof. Marié-Heleen Coetzee, Ilana Cilliers en Wilhelm van der Walt.
Hierdie mentorbeoordelaars se taak sal nie net wees om ons deelnemers te inspireer met wenke om hul produksies te verfyn nie, maar hulle het ook die geleentheid om die toppresteerders in elke streek aan te wys.
Die top-8 produksies en die twee beste slegs-leerders-produksies gaan deurdring na die nasionale finaal, wat vanaf 2 tot 6 Oktober in die Lyric-teater by Gold Reef City (Johannesburg) plaasvind. Die aankondiging van die topproduksies vind op Woensdag 30 Augustus plaas.
Besoek die volgende skakel vir programme en kaartjies na die ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste en beleef die talent van ons jeug wat grensloos die planke tref in ’n teater naby jou: https://linktr.ee/atkv_tienertoneel.