ATKV-Tjokkertoneel wink dié winter

ATKV-Tjokkertoneel, die ATKV se jongste toneelaanbod (sowel in die ouderdom van die kompetisie as die ouderdom van die deelnemers), spog vanjaar met 50%-groei deurdat 34 opwindende ATKV-Tjokkertoneelproduksies in die syverhoog gereed staan om in 2023 tussen die sterre te speel.
Vanaf 22 Julie tot 19 Augustus vanjaar neem 567 tjokkers aan vier streeksfeeste regoor Suid-Afrika deel.
Die doel van ATKV-Tjokkertoneel is die skep van ’n nasionale platform vir talentontwikkeling ter viering en opbou van laerskoolkinders deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aan te moedig. Met ATKV-Tjokkertoneel stel ons jong leerders bloot aan teaterkuns en drama deur middel van mini-tonele.
Deur die opbouende proses van toneelspel ontwikkel kinders selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede, en verbreed hul woordeskat.
Die ATKV bederf al die ATKV-Tjokkertoneeldeelnemers met die onvergeetlike voorreg om in ’n teater hul mini-tonele aan te bied. Hierdie teaters is nie net toegerus met topgehalte- tegniese toerusting nie, maar is ook gevul met nostalgie, stories en die kultuur van veteraanakteurs en ikoniese teaterwerke wat ons tjokkers sal inspireer om lekker tussen die sterre te speel.
ATKV-Tjokkertoneel word in die volgende teaters landwyd aangebied:
Die UNISA Little Theatre (Pretoria), die Wynand Mouton-teater (Bloemfontein) en die nuwe opwindende teater by die Curro Durbanville High School (Durbanville).
ATKV-Tjokkertoneel word gementor deur bekroonde teatermakers van die ATKV-Tienertoneelkompetisie. Die ATKV wil die tjokkers vriendelik en opvoedkundig bekendstel aan sy oorhoofse strategie van toneelopleiding. Die volgende trappie vir ons tjokkers is deelname aan die ouboet van ATKV-Tjokkertoneel, ATKV-Tienertoneel, en juis daarom bestaan ons mentors uit voorloper-teatermakers op die gebied van ATKV-Tienertoneel.
ATKV-Tjokkertoneeldeelnemers ontvang benewens toekennings vir deelname en prysenswaardige prestasie ook pasgemaakte stemnotas van mentors om verder hul talent te slyp.
Die mentorbeoordelaars tydens vanjaar se ATKV-Tjokkertoneelstreeksfeeste is Linda van Niekerk, Johann Smith, Michelle Luwes, Marijda Kamper, Darryl Spijkers en Kanya Viljoen.
Hierdie mentorbeoordelaars se taak sal nie net wees om ons tjokkers te inspireer met wenke om hul produksies te verfyn nie, maar hulle het ook die geleentheid om toppresteerders in elke streek aan te wys.
Die top-6 produksies gaan deurdring na die nasionale finaal, wat vanaf 2 tot 6 Oktober 2023 in die Lyric-teater by Gold Reef City (Johannesburg) plaasvind. Die aankondiging van die topproduksies vind op Dinsdag 29 Augustus plaas.
Besoek die onderstaande skakel vir programme en kaartjies na ATKV-Tjokkertoneelstreeksfeeste, en beleef tjokkertalent sonder weerga in ’n teater naby jou: https://linktr.ee/atkv_tjokkertoneel.