ATKV-Tjokkertoneelfinaliste vir 2025 is bekend!

Elke jaar laat die ATKV se toneelaanbod die samelewing anders asemhaal. Dit is ’n magnetiese platform waar jong stemme, nuwe stories en kreatiewe energie saamvloei in ’n magneetveld van verbeelding en talent. Van 6-11 Oktober trek die Pam Golding Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad gehore na ’n kunservaring wat drie geliefde projekte van die ATKV verenig: ATKV-Sêr, ATKV-Tienertoneel en ATKV-Tjokkertoneel.
Die nasionale finaal is ’n kunsmagnetisme wat ’n ruimte skep vir nuwe ontmoetings tussen mense, idees en drome, en almal word betrek om saam in die toekoms van ons land en sy mense te belê.
ATKV-Tjokkertoneel is die vinnigste groeiende deel van die ATKV se toneelaanbod en bring slim, opwindende mini-tonele van 25 minute wat laerskoolkinders die mag van storie, taal en visuele uitbeelding laat ontdek. Hier word selfvertroue, kommunikasievaardighede en verbeeldingsvermoë speels en magneties ontwikkel.
Na vier streeksfeeste regoor Suid-Afrika – Durban, Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad – met 1 200 tjokkerdeelnemers en 67 produksies, word die top-6-tjokkerproduksies nou genooi na die nasionale finaal. Op Vrydag 10 Oktober tree hierdie finaliste op, gevolg deur die magnetiese prysuitdeling op Saterdag 11 Oktober.
Die top-6-tjokkerproduksies is:
- Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het deur die Laerskool Durbanville
- Kassandra en die Bendehuis deur die Laerskool Roodekrans
- OP DIE SPEL deur die Laerskool Gene Louw
- Potloodsakkie – agter die zip deur die Laerskool Durbanville
- Romeo en Juliet met tamatiesous deur die Laerskool Tygerpoort
- sjuut! deur die Laerskool De Hoop
Kaartjies vir hierdie magnetiese teaterweek is vanaf Woensdag 10 September by Webtickets beskikbaar.