ATKV-toneel het landswye aantrekkingskrag

Die ATKV se toneelaanbod is jaarliks ’n smeltkroes van kreatiwiteit, passie en talentontwikkeling wat die samelewing anders laat asemhaal.
Die tema waarmee deelnemers vanjaar die gordyn lig, is “magneties”. Hierdie tema nooi spelers, gehore en stories uit om mekaar aan te trek, aan te vul en op betekenisvolle maniere te verbind. Dit skep ruimte vir ’n aantrekkingskrag tussen mense, idees en drome – ’n kunsmagnetisme wat almal betrek om saam in die toekoms van ons land en sy mense te belê.
Vier toneelprojekte
Die vier innoverende projekte wat saam onder die ATKV-toneelaanbodsambreel leef, spog vanjaar met meer as 4 000 jong, talentvolle deelnemers en 350 produksies – elkeen met ’n unieke magnetiese veld van energie en kreatiwiteit.
Deelnemers aan die ATKV se toneelaanbod kry die onvergeetlike voorreg om hul produksies in ikoniese teaters aan te bied. Hierdie ruimtes is nie net gevul met topgehalte-tegnologie nie, maar ook met die stories, sielsenergie en herinneringe van legendariese kunstenaars. Só word ’n nuwe generasie magneties na die wêreld van teater aangetrek.
Toneelstreeksfeeste word aangebied in teaters soos die Unisa-kleinteater (Pretoria), die Wynand Mouton-teater (Bloemfontein), die Playhouse-teater (Durban), die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch) en die Mandela-teater (Gqeberha). Die magnetiese nasionale finale ronde vind in die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch) plaas.

ATKV-DigiToneel
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform wat tieners aanmoedig om hul eie monoloë te skryf en te verfilm onder die jaarlikse temawolk. Hierdie projek het reeds in Maart afgeskop en die topagt-finaliste is besig met hul laaste voorbereidings om hul finale opnames vas te vang.
Die vyfde seisoen van Gekies vir die Kollig, wat ATKV-DigiToneel op die spits dryf, word vanaf 29 Oktober op Woensdae om 18:00 op DStv-kanaal 147 (VIA) uitgesaai. Hier sien kykers self hoe magnetiese talent ontwikkel en straal.

ATKV-Sêr
ATKV-Sêr is die nuutste toevoeging tot die toneelaanbod en is ’n a capella-kompetisie wat musiek, dans, storievertelling en kreatiwiteit magneties integreer. Hierdie unieke formaat trek die gehoor en deelnemers saam in ’n magnetiese klank- en beeldervaring.
Sêrproduksies vorm deel van ATKV-Tienertoneel se streeksfinaal in Pretoria (23 en 30 Augustus), Durban (26 Julie) en Kaapstad (23 en 30 Augustus). Die nasionale Sêr-finaal vind op Maandag 6 Oktober plaas.

ATKV-Tjokkertoneel
ATKV-Tjokkertoneel is die vinnigste groeiende projek van die ATKV-toneelaanbod. Hierdie inisiatief moedig laerskoolkinders aan om met magnetiese entoesiasme, taal en verbeelding aan toneel deel te neem.
Slim en opwindende mini-tonele van 25 minute stel jong akteurs bekend aan die mag van storie, taal en visuele uitbeelding. Hierdie magnetiese proses ontwikkel selfvertroue, kommunikasievaardighede en verbeeldingsvermoë.
Hoogtepunte van die Tjokkertoneel-streekfeeste sluit in:
- Gauteng: 22-26 Julie by die Unisa-kleinteater (Pretoria)
- Durban: 24 Julie by die Playhouse-teater (Durban)
- Bloemfontein: 9 Augustus by die Wynand Mouton-teater
- Wes-Kaap: 18-20 Augustus by die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch)
Die nasionale Tjokkertoneelfinaal vorm deel van die magnetiese ATKV-toneelfinaal in die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch) op 10 Oktober, waar die beste produksies hul aantrekkingskrag ten toon sal stel.

ATKV-Tienertoneel
ATKV-Tienertoneel, die toneelaanbod se oudste projek, vier vanjaar sy 61ste bestaansjaar. Hierdie nasionale projek is ’n kragtige magneet vir jong talent en bied ’n unieke ruimte vir kreatiewe ontwikkeling en mentorskap.
Die formaat laat deelnemers toe om ná elke optrede in gesprek te tree met mentorbeoordelaars wat hul stempel in die industrie afgedruk het – ’n interaktiewe proses wat magnetiese groei moontlik maak.
Vanjaar neem duisende tieners vanaf 24 Julie tot 30 Augustus aan produksies regoor Suid-Afrika deel. Die topagt-produksies word genooi na die magnetiese toneelfinaal wat vanaf 7 tot 11 Oktober in die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch) – die epiese kern waar alles saamsmelt – plaasvind.
Moenie hierdie magnetiese fees van kreatiwiteit en talent misloop nie! Kry jou kaartjies en programme hier: https://linktr.ee/atkv_toneel.