ATKV-Vat Vlam erken SA se jong leiers
Een van die ATKV se nuwe, innoverende programme, ATKV-Vat Vlam, vier en erken inspirerende jong leiers in Suid-Afrika wat ’n waardevolle bydrae op verskeie gebiede lewer om ’n positiewe impak op hul mikro- en makro-gemeenskappe te maak. Hierdie erkenning is ’n inspirasiebron vir die hele gemeenskap en bevorder ʼn gesonde kultuur van bewondering en sukses. “Dit is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ʼn organisasie soos die ATKV ’n positiewe verskil in die samelewing kan maak deur die erkenning van ons jong volwassenes se talent, leierskap en deursettingsvermoë om ons gemeenskappe te bemagtig en te ondersteun,” sê Magon Mouton, Bestuurder: Jongvolwassene-ontwikkeling en Innovasie.
Die ATKV is ʼn moderne pioniersorganisasie wat passievol toegewy is aan die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. Die organisasie speel ʼn leidende rol in die ontwikkeling van die taal vir eerste-, tweede- en derdetaalsprekers deur die bevordering van kultuur, kennis, en kreatiwiteit. Met ʼn duidelike fokus op maatskaplike en ekonomiese vooruitgang, bedien die ATKV ongeveer 70 000 hooflede en het jaarliks ʼn impak op meer as 220 000 mense.
ATKV-Vat Vlam se missie
Die ATKV-Vat Vlam-program het ’n edele doel voor oë, naamlik om die top-inspirerende en invloedrykste jongmense in Suid-Afrika te identifiseer en te vier. Hierdie jongmense word erken vir hul buitengewone prestasies op verskeie terreine, insluitend kuns en kultuur, entrepreneurskap, tegnologie, sosiale geregtigheid, klimaatsverandering, omgewingsbewustheid, en opvoeding. Hierdie inisiatief poog nie net om hul prestasies te vier nie, maar om ander jongmense te inspireer om ’n positiewe bydrae tot hul gemeenskappe en samelewing te maak. “Die top-24-jong leiers wat deur die ATKV geïdentifiseer word, sal die ATKV/Global Changemakers Afrika Jeugberaad in Oktober bywoon. Hulle sal die geleentheid kry om betrokke te raak, te leer en hul kritiese denke toe te pas om moontlike oplossings vir Afrika se komplekse sosio-ekonomiese uitdagings te vind met eendersdenkende individue van regoor Afrika wat net so passievol hieroor is en reeds soortgelyke aksies in hul eie lande en gemeenskappe geloods het. Tydens die beraad sal hierdie jong leiers ook die geleentheid kry om aansoek te doen vir befondsing deur die Verenigde Nasies ter waarde van $20 000 om hul projekte, aksies en inisiatiewe te ondersteun en te bevorder.”
Program en toekenningskriteria
Om vir die ATKV-Vat Vlam-toekennings in aanmerking te kom, moet genomineerdes aan die volgende voldoen:
- Suid-Afrikaanse burgers wees, tussen 21 en 29 jaar oud.
- Uitstekende prestasies in hul beroep of belangstellingsveld toon.
- ’n Positiewe en meetbare impak in hul gemeenskap of samelewing gemaak het.
- Die potensiaal hê om met hul projek ander jongmense te inspireer en te motiveer.
Nominasieproses
Die nominasieproses is gestruktureer om ’n wye verskeidenheid jong leiers te identifiseer:
- Nominasies of aansoeke sal aanvaar word deur ’n aanlyn portaal op die ATKV-webwerf.
- Genomineerdes moet persoonlike besonderhede verskaf, asook ’n kort beskrywing van hul prestasies of projek, stawende bewyse, en ʼn motiveringsverklaring.
- Twee verwysingsbriewe van individue of entiteite, wat bekend is met die genomineerdes en hul werk, word vereis.
- ’n Aansoekfooi van R200 moet saam met die aansoek ingedien word.
Beoordelingsproses
Die ATKV het ʼn bekwame paneel beoordelaars wat vir die evaluering van nominasies verantwoordelik is:
- Die beoordelingsproses bestaan uit twee fases, wat kriteria-gebaseerde evaluering en onderhoude met die top-30-finaliste insluit.
- Die beoordelaars kyk na kommunikasie- en aanbiedingsvaardighede, die potensiële impak van die genomineerdes, en die algehele indruk wat hulle maak.
Belangrike datums in die ATKV-Vat Vlam-program:
- Fase 1: Oproep vir nominasies op verskeie mediaplatforms (Augustus 2023)
- Fase 2: Aansoeke sluit (15 September 2023)
- Fase 3: Bekendmaking van die top-24-benoemdes (21 September 2023).
Die top-24 woon die ATKV x Global Changemakers Afrika-jeugberaad by (17-20 Oktober 2023) - Fase 4: Bekendmaking van die ATKV se top-10-jong leiers (November 2023)
Publikasie van profiele en projekte in Taalgenoot (Desember 2023)
Bekendstelling van genomineerdes se projekte/inisiatiewe/veldtogte (Maart 2024)
Die ATKV-Vat Vlam-program is ʼn merkwaardige inisiatief wat die uitsonderlike bydrae van jong leiers in Suid-Afrika vier en die pad vir toekomstige generasies aandui. Vir verdere navrae, kontak Magon Mouton by MagonM@atkv.org.za.
Vir meer inligting oor die program en om aansoek te doen, besoek https://lede.atkv.org.za/. As jy al voorheen ingeteken het op ons ledeblad (https://lede.atkv.org.za), klik hier: http://lede.atkv.org.za/atkvlede/inskryf/vv. Jy sal gevra word om in te teken. Indien jy jou wagwoord vergeet het, gebruik die "Forgot password?"-opsie. As jy nog nooit voorheen op ons ledeblad ingeteken het nie en dus nog 'n profiel moet skep, klik hier: http://lede.atkv.org.za/atkvlede/inskryf/profiel. Jy sal dan jou profiel kan skep en jou inskrywing kan voltooi.