ATKV vereer Afrikaans se woordmeesters
Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.
In die kategorie: Prys vir Spanningslektuur, een van die vinnig groeiendste en gewildste genres in Afrikaans, was die beoordelaars Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen. Die wenner is Die verkeerde vrou – Irma Venter (Tafelberg).
Die beoordeelaars het die volgende te sê gehad oor die wenroman: Ami Prinsloo as hoofkarakter is uiters geloofwaardig en verteenwoordig etiese ouskool joernalistieke waardes wat die leser nog meer van haar laat hou. Dis verfrissend om kriminele gebeure vanuit ’n joernalis se oogpunt te ervaar. Uiteenlopende gebeure word met mekaar verbind vir ’n boeiende verhaal wat teen ’n vinnige tempo afspeel. Aktuele kwessies, soos polisieoptrede en mediadekking wanneer ’n bekende betrokke is, in teenstelling met wanneer dit ’n gewone lid van die publiek is, of ’n mens geregtig is op wraak, en of jy moet aanhou glo in die regstelsel, word aangeroer. Venter trek al die drade van die vele kinkels in die verhaal aan die einde vernuftig bymekaar.
Die Prys vir Niefiksie se beoordelaarspaneel het bestaan uit Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard. Die wenner in hierdie kategorie is Die Kaapse slawe, 1652-1838 – Eunice Visser (Protea Boekhuis).
Die beoordeelaars het die volgende kommentaar gelewer op die wenboek: Hierdie teks bied unieke, vars, omvattende insig op ’n onderwerp wat nog nooit na behore oopgeskryf is nie: die invloed van slawe aan die Kaap.
Visser het ’n reusetaak aangepak met hierdie werk. Veral in ’n tydsgewrig waar die koloniale era opnuut aan die bod is en die tema van boetedoening vir die verlede se onregte voorop staan, is dit dringend nodig om hierdie ondersoek te lees – veral omdat dit op stewige argivale navorsing berus en daarom ’n behoorlike grondslag vir besinning en debatvoering bied.
Dis deeglik nagevors, maar lees nooit as droog en akademies nie. Dis ’n waarlik merkwaardige teks wat op ’n onderhoudende wyse aangebied word. Visser se boek is ’n prestasie in (en deels rondom) Afrikaans. Sy verdien al die pluimpies wat na haar kant toe kom.
Die ATKV-Prosaprys is een van die oudste en mees gerespekteerde letterkundepryse in Afrikaans. Dit word reeds sedert 1984 toegeken aan die skrywer van die beste gewilde prosa wat in die voorafgaande jaar verskyn het.
Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Francois Bekker, Marni Bonthuys en Riana Scheepers. Die wenner in hierdie kategorie is Op pad na Moormansgat – Chris Karsten (Human & Rousseau).
Die beoordelaars het die volgende oor hierdie roman gesê:
Op pad na Moormansgat is ’n verbluffende roman. Dit is terselfdertyd geskiedskrywing, misdaad, politieke geskiedenis, sosiale kommentaar, ’n persoonlike dagboek én ’n tragiese, fatale liefdesverhaal. Die onderskeie genres word op meesterlike wyse saamgebind in ’n ketting van stemme wat nie net een verhaal vertel nie, maar die fassinerende en komplekse mosaïek wat die Suid-Afrikaanse landskap in die vroeg 20ste eeu uitbeeld. Die resultaat is ’n priemende blik op die psige van die Afrikaner en ’n aangrypende verhaal, gekenmerk deur patos en hoogdrama.
Dit alles in ’n taalaanbod wat liries en weelderig en verrassend en vloeiend is.
Wat veral vermelding verdien, is die vernuftige manier waarop die outeur elke vertellerstem se unieke ideolek aangewend het. Dit het nie net ’n verrykte narratief tot gevolg nie, maar met hierdie stylgreep, meesterlik aangewend, het hy veelkantige, geloofwaardige karakters geskep met wie die leser kan identifiseer en selfs simpatiseer – al kan sommige van die karakters as die booswigte van hierdie aarde geklassifiseer word. Met hierdie uitsonderlike roman word historiese figure as mens-mense uitgebeeld.
Die deeglike navorsing wat die skryfprojek van meer as tien jaar onderlê, verdien spesiale melding. Historiese fiksie was lanklaas so opwindend en meesleurend.
Op pad na Moormansgat is ongetwyfeld ’n hoogtepunt in die veelsydige Chris Karsten se oeuvre.
Hartlik geluk aan al die 2023-wenners.
Vir meer inligting, kontak Jeanné Naudé by 011 919 9088, of stuur ’n e-pos na jeannen@atkv.org.za.