ATKV vereer jare lange lid

Johan Fourie is onlangs vereer met ’n Afrikoon-toekenning vir sy jare lange betrokkenheid by en passie vir die ATKV.
Johan Fourie is op 25 September 1949 in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) gebore. Hy is die jongste van twee seuns. Hy begin sy skoolopleiding aan die Excelsior Laerskool en is daarna na die Hoërskool Andrew Rabie, waar hy matriek voltooi.
Op skool is Johan ’n kranige sportman en hy speel krieket en rugby.
Alhoewel hy baie kultuuraktiwiteite bygewoon het, het hy selde daaraan deelgeneem.
In 1968 sluit Johan by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens aan, maar moet in September van daardie jaar aanmeld vir Nasionale Diensplig by die Leërgimnasium in Heidelberg, Transvaal. Hy voltooi in Desember 1969 sy weermagverpligtinge as instrukteur by die SAS Algoa.
Johan is op 6 Julie 1974 getroud met Priscilla. Hulle het twee kinders, Jurie en Marisa.
Tans is hy ook die trotse oupa van vier kleinkinders.
Johan is in 1980 deur mnr. Andries Bester genader om by die ATKV-gesinstak in PE aan te sluit en het gou die opwinding en verryking van ATKV-kongresse ervaar. Hy kan nou nogsteeds nie genoeg daarvan kry nie. Hy is spoedig verkies tot voorsitter van hierdie tak.
Gedurende 1989 is hy verkies tot die uitvoerende komitee van die ATKV, onder leiding van die hoofvoorsitter, mnr. Hendrik Conradie. Hier dien hy op die direksie tot in 2002.
Johan beleef die volgende hoogtepunte gedurende sy direksieskap:
- Die amalgamering van die ATKV en die ATKB (Poskantoor) en die verkryging van die Ilala Cabanas aan die Suidkus (KwaZulu-Natal).
- Die verkoop van die ATKV-hoofkantoor in Braamfontein en aankoop van die huidige hoofkantoor in Randburg.
- Die oopstelling van ATKV-lidmaatskap aan die publiek.
- Die koop van Buffelspoort en Goudini van Rondalia vir R11 miljoen.
- Die implementering van die King-verslag vir korporatiewe bestuur van die ATKV.
- Die koop van LAPA Uitgewers van J.P. van der Walt.
- Die stigting van die ATKV-Wyngildetak.
- Johan dien vir baie jare as voog van die Oos-Kaapse takke.
- Hy is deel van die ATKV-direksie se kultuurkomitee en oordekomitee.
- Nadat hy afstand gedoen het van die direksieverpligtinge, het hy vir ’n paar jaar deel uitgemaak van die nominasiekomitee.
Sy betrokkenheid by die ATKV was vir Johan op al die verskillende vlakke deurentyd verrykend en lewensveranderend. Taal en kultuur is steeds deel van sy wye belangstellingsveld in aktuele onderwerpe en sake en hou hy die vordering, groei en aanpassing van die ATKV in Suid-Afrika met belangstelling dop.