ATKV vereer woordkunstenaars

Met die ATKV-Woordveertjies bekroon die ATKV outeurs wat deur hul woordkuns ’n lewende erfenis bou.
Vandag kondig ons die wenners van die Prys vir Poësie, die Prys vir Romanses, die Prys vir Dramateks en die Woordwystoekenning aan.
Poësie is ’n treffende manier om die skoonheid van Afrikaans te verwoord, en verskeie digbundels het om die Prys vir Poësie meegeding.
In dié kategorie was die beoordelaars Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen. Die wenner is Kinderlê deur Lynthia Julius, uitgegee deur Queillerie.
Die beoordelaars meen die uitbeeldings in Kinderlê is hoofsaaklik lewendig konkreet; van wat tradisioneel as “gewaagde” uitdrukkings beskou sou wees, word byvoorbeeld geensins weggeskram nie. Die benutting van die (kennelik eietydse getinte) streekstaalvariëteit Gariepafrikaans as digtaal, asook van Nama-woordeskat, versterk die indruk van realisme, van die outentiekheid van die vertolkte gebeure en besinnings.
Sodanige outentiekheidsindruk sluit egter allermins die algemeen-menslike geldigheid van die verwoorde ervarings uit. Daartoe dra die rykdom aan literêre eggo’s van nasionale en internasionale oorsprong wat in die bundel opklink, funksioneel by. Voorts word die intense meelewingsmoontlikhede vir die leser bevorder deur die humor, soms van ook self-satiriserende aard, wat Kinderlê deurspek – hoofsaaklik pynlike tematiek ten spyt. Die beoordelaars sê voorts die bundel is gevul met rou eerlikheid wat die leser innemend ráák en diép tref.
Dina Botha van die Romanza-stal wen in die kategorie: Prys vir Romanses met ’n Kersfeeskomplikasie.
Die beoordelaars, Carol-Ann Alexander, Amanda Claassens en Kobie van Aswegen meen Dina Botha slaag daarin om die ontluikende romanse tussen held en heldin op ’n heerlike en natuurlike wyse te laat gebeur, wat die leser vasgenael hou. Dit sorg vir ’n geloofwaardige storie waar die liefdestonele mooi en smaakvol beskryf word.
Die taalvaardigheid en gemaklike skryftrant van die skrywer is deurgaans uitstaande. Teen die einde van die verhaal daag ’n persoon uit een van die hoofkarakters se verlede op en kom krap dinge ’n bietjie deurmekaar. Dit verleen ekstra momentum aan die storie en ’n geslaagde storielyn word opgelewer.
Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se Prys vir Dramateks is beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster.
Stinkhout deur Philip Rademeyer word vanjaar as wenner bekroon. Die beoordelaars is dit eens dat Rademeyer nie skroom om omstrede onderwerpe aan te pak en volledig te deurgrond nie. Stinkhout is tekenend van sy vernuf as woordsmid en teatermaker, sy besondere intellek en die diepgang van sy werk.
Die besef dat mans ook slagoffers van die patriargie kan wees, het onlangs eers te berde begin kom. Deesdae word al hoe meer herbesin oor wat nou eintlik van ’n seun ’n man maak en onder meer watter rol die pa en seun se verhouding daarin speel. Rademeyer plaas die gehoor midde-in die konfrontasie wat volg wanneer “’n verlore seun” huis toe keer ná sy broer se dood en noodwendig saam met sy pa sin moet maak van die verlede – ’n verlede wat kort-kort op die hede inbreuk maak. Rademeyer breek jou hart stukkie vir stukkie tot jy aan die einde van die drama net so leeg getap is van emosie soos die twee karakters. Tog bespeur jy dan ’n stukkie hoop … of is dit?
Die doel van die ATKV-Woordwystoekenning is om praktykgerigte naslaanbronne te bekroon vir hul bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans in die praktyk. Die ATKV hoop dat die toekenning belangstelling in woordeboeke en taalgidse onder taalgebruikers en uitgewers sal aanwakker.
Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse was Rufus Gouws, Ernst Kotzé en Gerhard van Huyssteen.
Op grond van die gehalte van die woordeboek het die beoordelaars eenparig besluit dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, letter U (2024), uitgegee deur die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, verdien om bekroon te word.
Die beoordelaars gee die volgende redes vir hul aanbeveling:
Die U-deel van die WAT bevat 2 144 lemmas of inskrywings van woorde wat met die letter U begin. Hierdie woorde word verder verduidelik met onder meer 5 351 betekenisonderskeidings, 13 962 voorbeeldsinne en 252 uitdrukkings. Die U-deel vorm dus ’n belangrike toevoeging tot Afrikaans se mees gesaghebbende leksikografiese projek waardeur die Afrikaanse woordeskat geboekstaaf word.
Hierdie deel is nie slegs ’n voortsetting van die letters wat reeds in boekvorm verskyn het nie, maar as digitale publikasie ontsluit dit ook nuwe moontlikhede vir die woordeboekbedryf, soos soektogfunksionaliteit, toeganklikheid en gebruikersgerigtheid.
Op 19 September word die wenners van die Prys vir Spanningslektuur, die Prys vir Niefiksie en die ATKV-Prosaprys aangewys.