ATKV vergroot Afrikaans se omvang deur aksie

Henk Kruger skryf in Beeld van 23 November dat hy bekommerd is oor die ATKV se swye rondom die bedreiging van Afrikaans. Die ATKV-MSW se besturende direkteur, Sonél Brits, reageer.
Verlede week vra ’n ontstoke briefskrywer hoekom die ATKV so stil is oor die bedreiging van Afrikaans.
Ek antwoord graag hierop.
Charlize Theron se uitspraak oor die handjievol Afrikaanssprekendes wat darem nog die taal praat, het opnuut die soeklig laat val op die toekoms van Afrikaans. Of sy ernstig was in haar stelling is debatteerbaar, maar sy het beslis van haar fout agtergekom ná die honderde stukkies kommentaar daaroor op al wat ’n sosialemediaplatform is. Om nie eens te praat van die talle artikels, rubrieke en debatte waartoe haar opmerking gelei het nie.
Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: Woorde wek, maar voorbeelde trek. En dít is waarom die ATKV kies om nie altyd pen en papier op te neem nie, maar te fokus op die taak wat aan ons toevertrou is.
Dis belangrik om te onthou dat die ATKV in 1930 ontstaan het as teenreaksie op ’n oorweldigende Engelse aanslag in die werksplek. Ons weet dus hoe dit voel om in ’n hoek te wees en is trots op die pionierswerk wat die ATKV gedoen het om die Afrikaanse taal en kultuur uit daardie benouende hoek te neem.
Daar is meer as genoeg voorbeelde van hoe die ATKV oor die afgelope 92 jaar elke dag hard werk om Afrikaans te bevorder en ons mooi taal terselfdertyd relevant en toeganklik vir ons landgenote te hou. Dit doen ons saam met ons meer as 60 000 lede en 293 takke landwyd en in Namibië. Ons is trots op en dankbaar vir elke ATKV-lid wat deur die jare nie net gehelp het om ons organisasie te laat groei nie, maar ook ons geliefde taal, Afrikaans.
Aan almal wat wonder oor die toekoms van Afrikaans wil ek die versekering gee dat die sirkel van Afrikaans as taal daagliks vergroot. Nie net omdat ons projekte op tak- sowel as nasionale vlak voortdurend help om die taal se reikwydte te vergroot nie, maar ook omdat die ATKV ’n punt daarvan maak om brûe te bou tussen Suid-Afrikaners – in Afrikaans en ter wille van Afrikaans.
Dít doen ons nou al dekades lank deur projekte soos ATKV-Redenaars, ATKV-Tienertoneel (wat al meer as ’n halfeeu oud is), die Crescendo-kompetisie (wat van talle Afrikaanse sangers huishoudelike name help maak het) en ons ATKV-Applous-koorkompetisie. Ons kan nie in hierdie beperkte spasie uitwei oor al 48 van die ATKV se nasionale projekte en ons 1 400 gemeenskapsprojekte landswyd en in Namibië nie – glo ons gerus as ons sê dat ons daarmee nie net Afrikaanse moedertaalsprekers bereik nie, maar ook anderstaliges wat deur ons projekte groot respek en waardering vir Afrikaans ontwikkel.
Ons bereik jaarliks meer as 600 000 mense deur ons projekte, maar indirek raak ons werksaamhede ’n paar miljoen Suid-Afrikaners van alle taal- en rasgroepe. Danksy die internet word die ATKV se werksaamhede al jare lank nie meer beperk tot Suid-Afrika en Namibië nie. Die digitalisering van projekte het dit vir ons moontlik gemaak om Afrikaans se voetspoor selfs internasionaal groter te maak.
Deur ons betrokkenheid by die ontwikkeling van die Afrikaanse kunste deur middel van projekte en werkswinkels om koorsang, toneel, skryf- en digkuns, rieldans, debat, redenaars en liedjieskryf te bevorder, vergroot ons voortdurend die reikwydte van ons lieflike taal. Voeg hierby ons betrokkenheid by al die groot Afrikaanse kunstefeeste, en jy sal verstaan hoekom ons voel Afrikaans is nie in die waakeenheid nie.
By die ATKV geniet taalgeletterdheid ’n prominente fokus en dit word ondersteun deur projekte soos onder meer die Afrikaanse Olimpiade, ATKV-DigiTaal, ATKV-DigiSpel, ATKV-DigiPraat en ATKV-DigiSpanpraat.
Een manier om ’n taal se voortbestaan en groei te verseker, is om op kinders en jongmense te fokus. Dinosourusse kan nie lees nie, ’n prettige verhoogstuk wat ontwikkel is met die doel om leesbevordering deur middel van kinderteater aan te help, was een manier waarmee ons vanjaar kon sorg dat laerskoolleerders in alle uithoeke van die land deur kleurvolle karakters en lekker loslitliedjies op ’n interaktiewe en baie kreatiewe verbeeldingsvlug geneem kon word.
Deur die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, praat ons nie net oor die belangrikheid van lees en boeke in kinders se lewens nie, maar dra ons ook aktief by tot die kweek van ’n liefde vir lees én Afrikaans deur onder meer die verspreiding van trommels vol Afrikaanse storieboeke by kleuterskole.
Die VVA verskaf ook leesondersteuning en lei belangstellendes op om dit te kan doen aan die hand van die Doen-en-Leerprogram. Ander VVA-projekte sluit boekopvoeding en storievoorlesings vir kinders in, asook leeskonferensies, voorleeswerkswinkels vir ouers, opvoeders en vroeëkinderontwikkelingpraktisyns en aktuele gesprekke.
Selfs in Soweto maak ons vriende vir Afrikaans deur die aanbied van Afrikaansklasse vir kinders van die omgewing.
Vanjaar was die tweede jaar dat die ATKV ook gespog het met ons eie realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig op VIA (DStv-kanaal 147). Hoewel Afrikaans Lucy Groenewald (17) van die Eunice High School for Girls in Bloemfontein se tweede taal is, het sy die beoordelaars in die finale ronde só beïndruk met haar Afrikaanse monoloog dat sy as wenner (ook van ATKV-DigiToneel 2022) aangewys is.
Een van die belangrikste maniere om Afrikaans se voortbestaan en groei te verseker, is deur die skep van stories. Die ATKV erken nie net bestaande skryftalent deur ons ATKV-Woordveertjies (vir skrywers) nie, maar ontgin ook voortdurend nuwe skryftalent. Ons het die afgelope twee jaar ook ’n monoloogbundel danksy ATKV-DigiToneel gepubliseer, wat maar net weer bewys hoe ’n groot drang daar by jongmense is om nuwe karakters en stories te skep in Afrikaans.
Het ons al die ATKV se betrokkenheid genoem by die bekroning van uitnemendheid in ander fasette van Afrikaans, soos die reklamewêreld en die akademie? Die ATKV was een van die stigterslede van die gesogte Pendoring-reklametoekennings, en saam met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon ons ook uitnemende akademiese artikels en navorsing in Afrikaans.
Meer as nege dekades se ervaring het ons geleer dat Afrikaans nie groei deur ’n lawaaimakery nie, maar deur in mense se toekoms te belê en deur Suid-Afrikaners aan mekaar bekend te stel. Dít is ons fokus – nie net ter wille van Charlize se 44 Afrikaanssprekendes nie, maar vir álmal wat lief is vir Afrikaans.