ATKV vier 92 jaar, pandemie ten spyt

Toe 12 werknemers van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) op 19 Augustus 1930 gestig het, sou hulle waarskynlik nooit kon raai dat hierdie organisasie 92 jaar later steeds sou bestaan nie.
En dit boonop ná ’n wêreldwye pandemie wat menige onderneming op sy knieë gedwing het en waarvan die ekonomiese nagevolge steeds wyd gevoel word.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê as sy kon, sou sy graag wyle Sybie van der Spuy, die eerste voorsitter van die ATKV, vir ete wou nooi en spog oor dít wat die ATKV bereik het.
“Ek is seker hy sal sy ore nie kan glo nie. Deur te fokus op gesonde besigheidstrategieë en danksy die onvermoeide en volgehoue bydrae van ons nagenoeg 60 000 hooflede en 293 landswye takke, kan ons steeds tientalle projekte bedryf.
Behalwe dat die ATKV die afgelope nege dekades sy plek in die Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse kultuurwêreld volgestaan het deur verskeie projekte, ’n veelbekroonde tydskrif, Taalgenoot, en deesdae ook ʼn eie radioprogram (Kopskuif op Kaapse Kansel 729 AM), het dit ook ’n goed gevestigde sake-afdeling wat sewe baie gewilde vakansieoorde en 2 Negester-leefstylbehuisinglandgoedere vir 50-plussers bedryf.
“Ek glo Sybie en kie. se droom om die lekkerte van Afrikaans-wees te vier en te bevorder het waar geword.
“Deur ons projekte bereik ons jaarliks duisende Suid-Afrikaners, en help ons om deur die Afrikaanse taal en kultuur ook brûe van vriendskap en respek te bou met ons landgenote.”
Die ATKV het egter, net soos die res van die wêreld, uitdagende tye beleef weens die Covid-19-pandemie.
“Ons moes noodgedwonge aanpas by die veranderende omstandighede. Tog kon ons daarin slaag om steeds voort te gaan met projekte.
“Ja, ons kan nie die onstabiliteit in Europa en die ekonomiese situasie en maatskaplike probleme in ons eie land ignoreer nie, maar ons is opgewonde om aan te hou bou aan die ATKV sodat dit vir nog baie dekades dié voorkeurorganisasie vir die bemarking van die Afrikaanse taal en kultuur kan wees.”
Sonél glo dat die ATKV ’n organisasie is vir mense en oor mense.
“Daarom is dit vir ons kernbelangrik om in mense te belê. Elke projek wat ons loods, het een doel voor oë: Kom ons gee vir jonk en oud ’n platform; ’n geleentheid om te groei, om hul kreatiwiteit uit te leef en op die koop toe in Afrikaans.
“Mahatma Gandhi het eenmaal gesê: ‘Wees die verandering wat jy wens om in die wêreld te sien.’ Die ATKV glo dat wanneer ’n mens in jou jouself belê, belê jy nie net in jou toekoms nie, maar is jy ook beter daartoe in staat om ’n verskil in ander se lewe te maak. Én is dit nie waarvoor ons hier op aarde geplaas is nie? Om deur ons eie menswees ander te inspireer, te help en op te bou.”
Só belê die ATKV in mense:
Die ATKV fokus op die bevordering van Afrikaans in al sy vorme, en doen dit deur projekte wat fokus op taalgeletterdheid en tegniese taalvaardighede (Afrikaanse Olimpiade, DigiTaal, DigiSpel, DigiSkryf, DigiPraat, DigiSpanpraat, Beter Afrikaans, redenaarkursusse, debatkursusse en Afrikaans vir Almal). Deur projekte soos Doendinge vir Afrikaans, DigiPraat, DigiSpanpraat en DigiToneel, word kommunikasievaardighede in Afrikaans verbeter.
Verskeie projekte fokus ook daarop om ouers te bemagtig om beter taalkeuses vir hul kinders se opvoeding te help maak. Dit sluit voorleeswerkswinkels, leeskonferensies, leesondersteuning, die Ommietafel-gesprekreeks en die Vriende van Afrikaans (VVA) se boektrommelprojek in.
Die ATKV speel al dekades lank ‘n groot rol in die bevordering van die Afrikaanse toneelbedryf, en benewens ATKV-Tienertoneel is daar nou ook projekte soos DigiToneel, DramawebSA, die Toneelteksprys en opleidingskursusse vir regisseurs.
Die geskrewe woord word eweneens ondersteun deur erkenning te gee aan joernaliste en skrywers. Die Covid-19-pandemie het gelei tot ‘n spesiale toekenning vir ondersoekende joernalistiek oor die Covid-19-pandemie. Skrywers word aangemoedig om steeds oorspronklike Afrikaanse stories te vertel deur ATKV-Woordveertjies en ATKV-Kinderboektoekennings asook die VVA se jaarlikse Koop-’n-Afrikaanse-boekdag.
Die Afrikaanse kunste word bevorder deur projekte soos DigiKuns, KomposisieKompetisie, liedjieskryfwerkswinkels, Crescendo, Platformsessies en die baie gewilde rieldanskompetisie.
Onderwys en opvoeding sal altyd ‘n baie belangrike fokus geniet by die ATKV, en benewens ’n opleidingskursus in entrepreneurskap is daar ook die ATKV-Postmatriek en ander geakkrediteerde jaar- en kortkursusse.
Laastens maar nie die minste nie, op die gebied van vroeëkinderontwikkeling bied die ATKV gehalte-voorskoolse onderrig by ons AbbAsorgsentrums, waar behoeftige kinders nie net daagliks ‘n bord kos kry nie, maar ook opvoeding en aandag.