ATKV vier krag van lees en boeke

Die ATKV skep in 2025 al 95 jaar lank ’n nalatenskap wat die rykdom van ons taal, kultuur en kunste omhels.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dat die ATKV met die ATKV-Woordveertjies een van sy mees prominente fokusse – lees – nie net wil bevorder nie, maar met die erkenning aan skrywers en illustreerders ook verseker dat jong lesers steeds toegang het tot stimulerende boeke wat hul leesvaardighede ontwikkel.
Die ATKV-Kinderboektoekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het, te bekroon. Die beoordelaars is jong lesers self, iets wat hierdie toekenning van ander onderskei.
Jong lesers se keuses vir die beste kinder- en jeugboeke van die jaar is soos volg:
Voorleeskategorie: Graad RR tot graad 1
Die skrywer Zuléka Smit en die illustreerder Johann Strauss wen vir Ben en die boelies, uitgegee deur LUCA.
Selfleeskategorie: Graad 2 tot 3
Vanjaar se wenners is Jaco Jacobs en die illustreerder Patrick Latimer vir die boek Stink sokkies, uitgegee deur Pan Macmillan SA.
Selfleeskategorie: Graad 4 tot 5
Die wenskrywer is Jaco Jacobs, hierdie keer vir sy boek Minki se verjaardag, uitgegee deur Pan Macmillan SA. Die illustreerder Emily House was jong lesers se gunsteling vir haar illustrasies in Jani Jonker gloei in die donker, uitgegee deur LAPA Uitgewers.
Selfleeskategorie: Graad 6 tot 7
Vanjaar se wenner is Eleanor Lombard met haar boek Vasbyt Vyf: Die ontvoering, uitgegee deur LAPA Uitgewers.
Selfleeskategorie: Graad 8 tot 9
Die skrywer An-Mari do Carmo se boek Foto’s en fairy lights, uitgegee deur Human & Rousseau, stap hier met die louere weg.
Met die ATKV se Toekenning vir Leesbevordering word erkenning gegee aan gemeenskapsinisiatiewe wat lees vooropstel. Vanjaar word die Sandhills-biblioteek op die Klipheuwel/Hexview-plaas in die Hexriviervallei met hierdie toekenning vereer.
Mara le Roux van die Klipheuwel/Hexview-plaas in die Hexriviervallei was nog altyd ’n kranige leser. Toe ’n supermark in 2009 fondse beskikbaar stel vir die opheffing van plaaswerkers, was dit nie vir haar nodig om twee keer daaroor te dink nie. Sy wou die fondse aanwend vir die oprigting van ’n biblioteek.
Mara het geweet dat lees noodsaaklik is vir die ontwikkeling van die omgewing se plaaskinders, maar die naaste openbare biblioteek is ongeveer 16 kilometer ver, en openbare vervoer op die platteland is duur. Die hulp van die Breedevallei- munisipale biblioteekdiens en die provinsiale biblioteekdiens is ingeroep en die Sandhills-biblioteek is as spanpoging aangepak. Mara se man het self die boekrakke gemaak en ingesit, en op 5 November 2010 is die Sandhills-biblioteek amptelik geopen.
Mary-Ann Oliphant is as biblioteekassistent aangestel. Sy het ná skool ’n ruk lank as arbeider gewerk, maar Mary-Ann wou graag terugploeg in haar gemeenskap. Aanvanklik het sy slegs vier ure per dag in die biblioteek gewerk, maar haar pos is later na ’n voldagpos uitgebrei.
Deesdae het die biblioteek ongeveer 500 lede. Hulle is afkomstig van die tien omliggende plase en die informele nedersetting in Sandhills. Hoewel die biblioteek se rakspasie min is, word die boeke een keer ’n kwartaal deur die Kaapse provinsiale biblioteekdiens aangevul. Daar is altyd iets nuut om te lees.
Mary-Ann leer haar gemeenskap ’n liefde vir lees en bied storietye vir kinders aan. Die biblioteek reik ook uit na skole en crèches in die gemeenskap. Dit is ook veel meer as net ’n plek waar boeke uitgeneem kan word – daar is rekenaars en gratis Wi-Fi, en dit is ’n veilige plek waar kinders kan huiswerk doen of hulp kry met skooltake. Opleiding in basiese rekenaarvaardighede word aangebied en mense word geleer hoe om ’n CV op te stel.
Die biblioteek staan ook sy plek vol as ’n gemeenskapsentrum vir oud en jonk. ’n Spreker het matrikulante kom touwys maak oor studie-opsies en beskikbare NSFAS-studiehulp. Gedurende skoolvakansies is die biblioteek in rep en roer danksy Mary-Ann se vakansieprogramme wat kinders met kreatiewe projekte besig hou. ’n Groep pensioenarisse leer hoe om kos op die tafel te sit met kostuine, en ’n volwasse groep maak kreatiewe planne met produkte wat hulle herwin.
Nal’ibali, ’n landswye leesprojek wat kinders ’n liefde vir lees leer, is baie aktief in die vallei. Vrywilligers besoek huise en lees vir kinders voor, en ouers word geleer hoe om hul kinders aan te moedig om te lees. Die Sandhills-biblioteek neem ook aan hierdie projek deel.
Ten spyte van wat hulle reeds bereik het, het Mara en Mary-Ann nog ’n paar groot drome vir die biblioteek. Danksy fondsinsamelingsprojekte het hulle onlangs die trappe met ’n oprit vervang om ouer mense en gestremdes makliker toegang te gee.
Omdat die biblioteek piepklein is en kinders dikwels weggewys moet word weens ’n gebrek aan spasie, is daar ’n behoefte aan ’n afdak of nog ’n vertrek. Die biblioteek benodig ook nog rekenaars, ’n nuwe ingang, ’n muurtjie rondom, ’n groter speelterrein en meer boekrakke.
Die twee vroue het ook die behoefte aan ’n nasorgsentrum geïdentifiseer omdat die skooltjie, Sandhills Primêr, weggespoel het. Mary-Ann wil graag haar onderwysdiploma verwerf, en droom ook van lugverkoeling wat verligting tydens die warm somers kan bring. Intussen dien hierdie twee dinamiese vroue hul gemeenskap met toewyding, passie en liefde – en natuurlik, deur die krag van boeke.
Dit is vir die ATKV ’n voorreg om die Sandhills-biblioteek vanjaar met die Toekenning vir Leesbevordering te bekroon. Ons hoop ons bydrae help om hierdie wonderlike gemeenskapsprojek verder uit te brei.
Op 18 September word die wenners van die Prys vir Poësie, die Prys vir Romanses, die Prys vir Dramateks en die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse aangekondig.