ATKV-Woordveertjies bekroon uitnemendheid

Die ATKV-Woordveertjies, bekroon reeds vir meer as ’n dekade uitmuntende skrywers, digters en dramaturge.
Poësie is ’n treffende manier om die skoonheid van Afrikaans te verwoord, en verskeie digbundels het meegeding vir die Prys vir Poësie.
Die beoordelaars in hierdie kategorie was Diana Ferrus, Bibi Slippers en Christo van der Westhuizen met die wenner: Klinkklaar – Daniel Hugo (Protea Boekhuis).
Die beoordelaars het die volgende kommentaar gehad oor hierdie bundel:
Klinkklaar verteenwoordig ’n – en stellig dié – hoogtepunt in Daniel Hugo se omvangryke oeuvre. Hugo gebruik die elemente van die digkuns op ’n slim en deurdagte manier. Die bundel is ’n heerlike spel met die werk van klassieke digters soos Thomas, Cummings en Dickinson, en ’n mengsel van ligte en ernstige reflektering op die lewe. Die strofes is kort en kragtig en mens verkneukel jou aan hoe die digter van ’n ernstige tema iets ligs kan maak en andersom. Klinkklaar is noodsaaklike leesstof en vermaak in die huidige depressiewe stand van sake in die wȇreld.
Die verse in Klinkklaar is uitstekende onopgesmukte Afrikaanse poësie wat Hugo met ’n ryp kwas skilder – soms onthutsend, soms ontroerend, telkens fyn afgerond in ’n sterk poëtiese beeld. Die bundel is luuks van eenvoud, die kenmerk van ’n gestroopte, volwasse digterskap.
Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se dramatekste is beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster. Die wenner vir die Prys vir Dramateks is vanjaar: Oom Bey, my pa – Henque Heymans.
Die beoordelaars het die volgende kommentaar op hierdie drama gelewer:
Hierdie sensitiewe en aangrypende teks oor die lewe van Beyers Naudé, Godsman en dienaar, het vanjaar uitgetroon. Dit gebeur so maklik dat ’n biografiese drama in ’n opeenhoping van chronologie en feite verval. Heymans vermy hierdie strikke deur Oom Bey aan ons bekend te stel by monde van sy jongste en enigste dogter, Liesel.
Heymans skryf met insig en gesag, altyd bewus van die stemming en impak van die toneel wanneer hy woorde in die verskillende karakters se monde plaas. Deur Liesel se monoloë en interaksie met ander karakters, word daar vir die gehoor ’n duidelike beeld geskep van wie Oom Bey was, die innerlike en uiterlike stryd wat hy moes voer, en watter uitwerking sy bydrae op die demokratisering van Suid-Afrika gehad het. Oom Bey se eie woorde word dikwels gebruik en ’n mens verwonder jou aan die amper bo-aardse integriteit van die man.
Oom Bey, my pa is ’n aangrypende drama wat ’n trotse deel gaan word van die boekstawing van die rol van verligte Afrikaners in ons onlangse landsgeskiedenis.
Die doel van die ATKV-Woordwystoekenning is om praktykgerigte naslaanbronne te bekroon vir hul bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans in die praktyk. Die ATKV hoop ook dat die toekenning belangstelling in woordeboeke en taalgidse onder taalgebruikers en uitgewers sal aanwakker.
Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse was Rufus Gouws, Marné Pienaar en Gerhard van Huyssteen.
Die beoordelaars beveel aan dat die ATKV-Woordwystoekenning vir 2022 toegeken word aan die Kunswoordeboek/Arts Dictionary (2021) onder redakteurskap van Alex Duffey en Susan Roets. Dis uitgegee deur Protea Boekhuis.
Die beoordelaars sê die volgende:
Dis noodsaaklik dat daar meer woordeboeke saamgestel moet word met terme van ’n verskeidenheid vakgebiede wat toeganklik is vir taalgebruikers op alle vlakke. Die terme in die Kunswoordeboek is afkomstig uit die skilderkuns, beeldhoukuns, pottebakkerskuns en boukuns, asook ander verwante kunsvelde.
Hierdie tweetalige woordeboek is bedoel vir leerders en studente van die Kunste, onderwysers wat die opvoedkundige vakmateriaal moet aanbied, en ook vir belangstellendes wat meer inligting verlang. Die terme word duidelik en gebruikersvriendelik in Afrikaans en Engels verklaar met maklik verstaanbare definisies, goeie historiese inligting en ’n beskrywing van die periodes, skole en style.
Hierdie woordeboek is nie net ’n bate vir die genoemde vakgebiede nie, maar verryk ook die Afrikaanse woordeboekversameling en bevestig weer eens dat Afrikaans nie net ’n spreektaal is nie, maar ook ’n gerekende vaktaal.
Die beoordelaars erken ook graag die meriete van die ander kandidate en noem ook dat die puik leksikografiese gehalte van die Sestiende Deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal spesiale vermelding verdien.
Hartlik geluk aan al die wenners.
Vir media-onderhoude kontak Jeanné Naudé, ATKV-projekorganiseerder, by 083 232 7276.