Avbob vereer jong digters

Digkuns is die beste doepa vir ’n gebroke hart. Dit is ’n pleister vir die hart se diepste wonde.
En dit is juis wat Avbob met sy heel eerste Avbob-poësieprojek vir die land wou bied.
“Ons is in ’n emosionele besigheid waar mense toenadering en empatie soek vir die verlies waardeur hulle gaan,” vertel Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob.
Die projek het in vier maande meer as 20 000 inskrywings in al 11 amptelike tale ontvang en die wenners in elke taal is Woensdag (20 Junie) in Pretoria by ’n swierige galageleentheid aangekondig.
“Ons het al baie gesien dat mense sukkel om hul emosies uit te druk as ’n geliefde sterf,” sê Frik.
“Gewone trooswoorde help nie dan nie en mens wend hulle graag tot die Psalms, liedere en poësie as pleisters vir die hartseer.
“En dit is hoe die projek gebore is. Ons het alle landsburgers uitgenooi om deel te neem. Die jongste deelnemer was tien en die oudste was 97 jaar oud.”
Die voorgeskrewe temas vir die kompetisie was liefde, hoop, vertroosting, geboorte, dood en verlies.
Van die 20 774 gedigte wat ontvang is, is 3 108 op Avbob se webtuiste gepubliseer.
Die wenners van elke taal het Woensdag ’n kontantprys van R10 000 elk ontvang. Die wenner en naaswenner se gedigte is ook in ’n bloemlesing, I Wish I Said, opgeneem.
Saam met die wenners en naaswenners is daar ook 77 gedigte deur gevestigde digters in dié bloemlesing gepubliseer.
Die 25-jarige Lynthia Julius, ’n filosofiestudent aan die Universiteit van die Vrystaat, was die wenner van die Afrikaanse afdeling met haar gedig “Vir Al Jarreau”, wat handel oor haar ma wat haar eie lewe probeer neem het.
Caroline Archer van Pretoria was die wenner van die Engelse afdeling met haar gedig, “Puppet Master”.
Wenners in die ander taalkategorieë is: Queen Mahlangu (isiNdebele), Nolusindiso Penxa (isiXhosa), Kutsi Mpanza (isiZulu), Thieho Mkhendane (Sesotho), Mosima Phakane (Pedi), Nthabiseng Motete (Setswana), Thembi Gwebu (Siswati), Ngwedseni Tshovhato (Tshivenda) en Mashimbye Hluvukani (Xitsonga).
Die 2018-Avbob-poësiekompetisie begin weer op 1 Augustus en sluit op 30 November.
* Besoek www.avbobpoetry.co.za vir meer inligting.
* I Wish I’d Said (Naledi) is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar en kan ook by www.naledi.online bestel word.