Awelinks: Linkshandiges gevier

Van genieë soos Leonardo da Vinci, Isaac Newton, Albert Einstein, Marie Curie en Steve Jobs tot vermaakreuse soos Oprah Winfrey, Angelina Jolie, Lady Gaga en Paul McCartney – hulle deel ’n unieke mens- en dierverskynsel. Dieselfde geld vir politieke figure soos Barack Obama, Bill Clinton en Winston Churchill, sowel as troonopvolgers soos prins William, sy seun George en vele sportsterre – veral krieketspelers soos Graeme Pollock en Graeme Smith. Almal is linkshandig!
Statistieke wys dat net sowat 10% van die wêreldbevolking linkshandig is en nog sowat 1% dubbelhandig of beidehandig. Een dag in ’n jaar word wêreldwyd aan hierdie unieke verskynsel gewy.
Internasionale Dag vir Linkshandiges word sedert 1976 jaarliks op 13 Augustus wêreldwyd gevier om die uniekheid en verskille van linkshandige individue te beklemtoon. Die doel is bewusmaking oor die uitdagings en ervarings van linkshandige individue in ’n oorwegend regshandige wêreld. Dit sluit die spesiale behoeftes vir linkshandige kinders en die vrese daarrondom in.
Linkshandigheid kom onder alle geslagte voor vanaf die Neanderdal-grotmense. Onder diere is kangaroes linksdominant. In die Middeleeue is linkshandigheid as duiwels en toordery beskou. Nogtans klou sekere gelowe oor linkshandiges, soos die gesondheidsrisiko’s wat dit kan meebring en hulle neiging tot geestesgesondheidsprobleme.
Nog studies het geboortefaktore uitgewys wat kan bydra tot linkshandigheid, soos om manlik te wees, deel van ’n twee- of meerling, ’n laer geboortegewig, stres tydens swangerskap en selfs somergeboortes. ’n Verband tussen rare gene-variante en linkshandigheid is ook al gevind.
Elke mens word gebore met ’n sekere dominansie – links of regs. Vanaf die ouderdom van vier jaar kan tekens van ’n spesifieke dominansie gesien word. Dit gebeur nie by almal van so vroeg af nie, maar handvoorkeur is wel van dan af waarneembaar.
Tracy van der Merwe (53) van Johannesburg is ’n vurige vaandeldraer vir linkshandiges. Dié geregistreerde verpleegster en vroedvrou was in 2007 ’n radelose ma van ’n jong, linkshandige seun. Jean is linkshandig gebore, maar het eers nadat hy ses geword het, tekens begin toon toe onderwysers opgemerk het dat hy sukkel met knipwerk en stadig en onleesbaar skryf.
’n Arbeidsterapeut het gemeen sy linkshandige dominansie veroorsaak dié struikelblokke. Tracy het toe seker gemaak hy het die korrekte toerusting en ondersteuning in die klaskamer en tuis vir sy linkshandige voorkeur. Jean (nou 22) is besig met sy internskap as videograaf.
Tracy het gou besef dat skole en onderwysers in Suid-Afrika nie naastenby voldoende voorsiening maak vir linkshandige kinders nie.
“Ouers van linkshandige kinders sukkel, want sulke kinders se breine is anders bedraad en hulle ervaar daaglikse uitdagings in ’n samelewing by uitstek gerat vir regshandiges.”
Vir linkshandige kinders is fyn motoriese vaardighede moeiliker. Kritieke vaardighede soos knip, teken, letter- en syfervorming wat kern is in ’n kind se ontwikkeling, is uitdagend, want linkshandiges sukkel met praktiese funksionering soos om bottels oop te draai en met skêre vir regshandiges te sny, verduidelik Tracy.
In haar soektog na hulp, het sy uitgereik na ander rolspelers en ouers in dieselfde bootjie en besef ’n groep moet gestig word sodat almal saam kan besin. Dit het gelei tot die nasionale organisasie Left-hand Learning, wat hulpbronne en ondersteuning bied aan linkshandige leerders en hul opvoeders.
Die organisasie bied gereeld landwyd, veral ook in plattelandse gebiede met min hulpbronne, werkswinkels en opleiding aan vir ouers, onderwysers en leerkragte, asook mediese personeel soos arbeidsterapeute waar saam na oplossings vir linkshandige turksvye gesoek word.
Tracy se ywer om die aandag op linkshandigheid te vestig, het mettertyd grensloos uitgekring. In 2021 was sy een van ses stigterslede van die internasionale aanlyn groep, LEFT-IN, wat ’n passie vir die saak van linkshandigheid deel.
Saam met Tracy, wat Suid-Afrika verteenwoordig, is die ander stigterslede twee van die Verenigde Koninkryk en een elk van Brasilië, China en Australië. Dié ondersteuningsgroep het tans 22 lede wat 16 lande verteenwoordig. Die groep is weens tydsones in twee gedeel, maar hou maandeliks ’n globale vergadering vir almal.
Volgens Tracy beplan linkshandige groepe regoor Suid-Afrika om op 13 Augustus verskeie projekte aan te pak wat bewustheid oor linkshandigheid sal bevorder.
Kontak haar gerus telefonies by 083 417 3316, of per e-pos by tracy@lefthandlearning.co.za of besoek die webtuiste by https://lefthandlearning.co.za/ of https://left-in.org/.