Basta met die boelies!
![](/media/q5qfpg2r/boelie.jpeg?anchor=center&mode=crop&width=160&height=120&rnd=132971063495770000)
Boelies is niks nuut nie. Jy is waarskynlik as ’n kind geboelie of jy ken iemand wat geboelie was of dalk selfs die boelie was.
In sommige gevalle het boeliery so ’n groot impak op ’n kind dat die kind dit oorweeg om sy eie lewe te neem.
Die ATKV het besluit om hande met die akteur Jacques Gombault te vat om die universele probleem in ons skole aan te spreek.
Deur ’n reeks Stop-it-boelievideo’s wil ons die nodige gereedskap verskaf vir kinders wat boeliery oorleef het, wat self boelies is en kinders wat ooggetuies vir boeliery is. Ons wil die kultuur van boeliery verander,” sê Jacques. Die video’s sal elke Woensdag gedurende Maart op die ATKV se Facebook-bladsy geplaas word.
Jacques, wat bekend is vir sy rolle in televisieprogramme soos 7de Laan, Binnelanders en Kniediep in die warm water, sê hy het besluit om die boelieprojek te loods omdat dit vir hom uit ’n persoonlike plek kom.
“Ek is self geboelie en die boelie het jare later vir my jammer gesê.”
Met die Stop-it-boelieprojek wil Jacques graag vir kinders leer dat daar hulp is en dat boelies self ook mense is wat hulle eie probleme het.
Hy maak gebruik van drie rolprente om sy boodskap oor te dra en verskaf ook pennesakkies, ’n boek oor boelies en borsspelde aan die kinders.
“Kinders het nou meer as ooit hoop nodig,” sê hy.
Hy sê die drie rolprente wat by skole gewys word, bied ’n unieke manier vir die kinders om meer oor boeliery te leer.
“Kinders leer beter met prentjies en in vandag se tyd van sosiale media en Netflix is dit die taal wat die meeste kinders verstaan en die maklikste begryp.”
In die drie rolprente spreek Jacques kwessies aan soos hoekom ’n kind geboelie word, wat maak van ’n kind ’n sagte teiken, hoe om hulself te aanvaar en praktiese raad hoe om ’n boelie te hanteer.
“Party boelie omdat hulle probleme tuis het en party omdat hulle jou as kompetisie sien. Baie besef nie eens hulle boelie nie – hulle dink hulle speel net.
Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur is boeliery ’n groot probleem in skole en in die werksplek.
“Boeliery affekteer nie net die persoon wat geboelie word nie, maar ook die persoon wat boelie en dié wat dit aanskou.”
Hy sê dit is vir die ATKV belangrik om persoonlike ontwikkeling en groei van Suid-Afrika se kinders te verseker.
“Ons glo dat die Stop-it-boelieprojek se boodskap moet oorgedra word om positiewe landsburgers te kweek.”