Bek Moet Jêm Kry-talentaand bemagtig die jeug

Die ATKV-jeugtak Prieska se Bek Moet Jêm Kry-talentaand, met sy kenmerkend Afrikaanse naam en filosofie, het gegroei van ʼn beskeie platform vir redenaars tot ʼn geliefde gemeenskapsgeleentheid waar elke kind se unieke gawes gevier word.
Esmé du Toit, ʼn onderwyseres by die Hoërskool Prieska en skepper van die ATKV-jeugtak Prieska se interaktiewe bordspeletjie, Meer bek as binnegoed, verduidelik die organiese evolusie van hierdie besonderse geleentheid.
“Die naam is gekies omdat dit aanvanklik net bedoel was om die leerders wat aan redenaars deelneem, ʼn kans te gee om voor hul maats en ouers op te tree.
“Soos die jare aangestap het, het die deelname aan redenaars afgeneem en ons het besluit om dit oop te gooi vir enige leerder wat lus het om iets voor te dra, te lees, grappies te vertel en dies meer. Later het die geleentheid sommer spontaan ʼn talentaand-karakter aangeneem.”
Wat die Bek Moet Jêm Kry-talentaand onderskei van baie ander soortgelyke geleenthede, is die bewuste besluit om dit volkome inklusief te maak.
“Nou kan enige leerder wat sy talent wil vertoon, deelneem,” beklemtoon Esmé. Die verskeidenheid talent wat ten toon gestel word, is indrukwekkend.
“Ons het musiekitems – klavier, kitaar en sang, asook dans, ballet, voorlesings, gedigte en storievertelling,” voeg Esmé by.
Een van die inspirerendste aspekte van die talentaand is hoe dit grense oorskry om gemeenskappe saam te snoer.
Esmé verduidelik: “Ons het iemand wat dansklasse in die dorp gee en daar is ʼn paar kinders wat tuisonderrig ontvang, wat saam met ons skool se leerders dansklasse neem. So, al is dit eintlik net vir ons eie leerders bedoel, het ons dié kinders ook toegelaat om deel te neem.”
Esmé is duidelik oor die doel van die Bek Moet Jêm Kry-talentaand.
“Die doel van die aand is spesifiek om dit nié ʼn stywe formeel-georganiseerde geleentheid te maak nie. Elke kind is welkom om ʼn item te lewer – al is dit net om ʼn grappie te vertel,” sê sy.
“Die hele idee is om kinders sover te kry om voor mense te praat en vir hulle blootstelling te gee om op ʼn verhoog te staan en oor ʼn mikrofoon te praat.
“Ons gee glad nie pryse nie. Daar is nie beoordelaars nie. Dit gaan nie oor wen nie – dit gaan oor deelname en om so ʼn bietjie met jou talent te spog.”
Die byvoeging in 2023 van gr. 10 fisiese wetenskap-leerders wat “skouspelagtige” eksperimente aangebied het, is ʼn bewys van hoe die geleentheid voortdurend ontwikkel.
“Dit was iets nuuts en die kinders het dit baie geniet. Dit was sommer net om vir die kinders te wys dat wiskunde en wetenskap nie net vervelige somme is nie,” sê Esmé.
Nog ʼn unieke aspek van die Bek Moet Jêm Kry-talentaand is die innoverende “toegangsfooi”. Esmé verduidelik: “Die toegang is toiletware vir die plaaslike ouetehuis. Die mense kom met groot sakke daar aan en die ouetehuis maak al op die bydrae staat.”
Die talentaand skep ʼn model wat ander gemeenskappe kan navolg. Die kombinasie van inklusiwiteit, gemeenskapsbetrokkenheid en sosiale verantwoordelikheid en die viering van diversiteit skep ʼn kragtige formule vir gemeenskapsontwikkeling.
Uiteindelik is hierdie geleentheid ʼn demonstrasie van wat moontlik is wanneer gemeenskappe besluit om in hul jeug te belê – nie net in terme van hul prestasies nie, maar ook in hul inherente waarde en potensiaal.