Bekroonde kinderboekskrywer hou sirkus in sy kop
Vir die kinderboekskrywer Jaco Jacobs (43) is die speel met idees vir boeke die grootste pret. “Jy speel rond met idees wat ’n vonkie maak. Dis soos sirkus in my kop. Die storielyne en skryf daarna is die harde werk,” sê die vindingryke Jaco vanuit sy osbloedrooi skrywersateljee wat “lyk soos die rooi van ’n tamatiesousbottel se rand”, privaat vanuit die gesinstuiste in die Rosestad van die Vrystaat.
Soos ons gesels, stuur dié oud-Karooseun van die plaas Dagbreek naby Carnarvon vir my ’n foto van sy PEZ-versameling, wat uit 400 lekkergoedmannetjieshouers bestaan. Teen nóg ’n muur is ’n fotoversameling van sy gesin: sy vrou, Elize, en sy twee dogters, Mia (11) en Emma (9). In Jaco se skrywersgrot is daar ook aksiefiguurtjies soos He-Man, die Ninja Turtles, Batman en The Flash wat die kreatiewe sappe wild en wakker bespook.
Die gesin se skaaphond, Oreo, is die waghond wat altyd naby lê om toe te sien dat sy baas se woorde nie opraak, of dat ’n kreatiewe blok hom beetpak nie. “Ek kan nêrens anders skryf nie, net hiér,” lag Jaco.
Jare gelede, toe ek die die redakteur van Beeld se jeugbylaag, JIP, in Johannesburg was en ’n boek van Jaco op my lessenaar verskyn, het selfs die redaksielede gestoei om ’n kinderboek in die hande te kry.
Jaco is self ’n voormalige JIP-redakteur van Volksblad, wat destyds al die jeugmark waarvoor hy skryf tot op die been raakgepen het.
Dié kinder- en jeugboekskrywer het onlangs sy 35ste ATKV-Kinderboektoekenning ingepalm vir sy grafiese roman Tekkies. Dit is ’n ligte liefdesverhaal met ’n sporttema. Terloops, al 35 ATKV-Kinderboektoekennings was vir verskillende boeke.
Die wenners van dié gesogte toekennings word deur kinders en tieners self aangewys, wat die boeke op die kortlys lees en dit dan self kan beoordeel.
“Die ATKV-Kinderboektoekennings is seker die belangrikste kinderboektoekennings in ons land. Dis wonderlik as ’n mens ’n toekenning kry waaroor akademici besluit, maar ek wil kinders aan die lees kry en vermaak en laat besef dat waarvoor hulle stem, waardevol is en betekenis het.
“Die opwinding om hierdie toekenning te kry, gaan nie weg nie. Dis ’n groot eer en dit is ’n manier om te peil of dit wat jy skryf by die regte mark uitkom.
“Deur die jare leer jy ook meer; jy kan sien watter genres gewild is, waarvan die lesers hou en wat hulle prikkel. Dis altyd lekker om die aankondiging te hoor – dis soos om die pakkie oop te maak met jou nuwe boek daarbinne. Dit laat ’n mens nogal nederig voel – dit beteken dat dit wat jy op jou eie by jou lessenaar doen by die lesers uitkom en dit beteken vir hulle genoeg om die leesstof te lees en daarvoor te stem,” sê ’n dankbare Jaco.
Sedert hy sy eerste boek, Pretpark, in 2001 gepubliseer het, spog Jaco met ’n oeuvre van 260 boeke vir kleuters, kinders en jong volwassenes. Nagenoeg tweemiljoen van sy boeke is al verkoop – ’n ontsaglik hoë verkoopsyfer wat boekdele spreek van die produktiwiteit van hierdie skrander en veelsydige skrywer. Hy skryf in ’n verskeidenheid subgenres binne die kinder- en jeugliteratuur, waaronder prenteboeke, niefiksie, storieboekreekse, jeugromans en kinderverse. Jacobs het ook meer as 330 kinder- en jeugboeke in Afrikaans vertaal. In Suid-Afrika is Miemie du Plessis by Pan Macmillan SA sy hoofuitgewer, hoewel hy ook soms opdragwerk vir ander uitgewers doen.
“Ek het vir jare by LAPA Uitgewers gewerk, so ek het baie boeke deur hulle uitgegee, maar nou is ek lekker vry. My Britse uitgewer, Oneworld, het sowat vyf jaar gelede die internasionale regte vir A Good Day for Climbing Trees (’n Goeie dag vir boomklim) gekoop nadat dit as die wenner aangewys is van ’n Britse vertaalprojek waar hulle internasionale boeke gesoek het om in Engels te vertaal.
“Dit werk fantasies, want hulle gaan na groot internasionale boekfeeste en -skoue en lê die boeke daar voor.”
Sedertdien is dié boek in Italiaans, Nederlands, Sloweens en Spaans vertaal. Eersdaags is dit ook in Russies en Chinees beskikbaar.
Oneworld het ook die regte vir A Good Night for Shooting Zombies (Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word) en The Girl with Wings (Die meisie met vlerke) bekom.
A Good Day for Climbing Trees en A Good Night for Shooting Zombies is in Brittanje vir die Carnegie-medalje benoem. Jaco is selfs ook al benoem vir die Hans Christian Andersen-toekenning, wat die hoogste internasionale prys vir kinderliteratuur is.
Gewonder hoe ver strek sy verbeeldingswêreld dat hy die een topverkoper ná die ander optoor?
“As ek ’n antwoord gehad het, sou ek jou sê. Ek daag myself kreatief uit deur kinderboeke en tienerboeke in verskillende genres te skryf. Sedert my studentejare het ek agtertoe begin lees om ’n gevoel vir die genres te kry; om die mark beter te leer verstaan. Baie van my boeke is reeksboeke, prenteboeke, rympieboeke en niefiksieboeke. Só raak ek nooit verveeld met dieselfde ding oor en oor doen nie. Dit help om die kreatiewe sappe te laat vloei.
“Ek sal baie keer langs die swembad sit en iets in my notaboek neerskryf voor ek begin skryf. Nou die dag het ek deur ’n ou notaboek geblaai en besef in daardie één boek is die oorspronklike idees vir ses of sewe boeke wat ek later gepubliseer het,” sê die man wat op laerskool al ’n skrywersnotaboek in sy tas onder die fel Karoo-son saamgedra het.
In matriek het hy ’n ATKV-skryfkompetisie gewen en deel van die prys was die ATKV-herfsskryfskool wat hy in Potchefstroom kon bywoon. Daar was bekende skrywers en uitgewers. ’n Damaskusoomblik wat hom altyd sal bybly, was toe ’n afgetrede regsman wat ook die skryfskool bygewoon het op die laaste dag na hom toe gekom het. “Hy sê toe hy het regte geswot, jare lank gepraktiseer en elke oomblik daarvan gehaat.
“Hier dink ek toe by myself as ’n jong man dat die ou waarskynlik die hoogste sport in sy loopbaan bereik het, maar hy het elke oomblik gehaat omdat dit die verkeerde werk was. Dit was vir my die dryfveer om selfs op ’n jong ouderdom hard en doelgerig aan my skryfloopbaan te werk.”
Dié geliefde figuur onder kinders wat in matriek al sy boek Pretpark geskryf en sy eerste kortverhaal aan Sarie verkoop het, sê wél dat kinders nie oorhaastig moet wees as hulle uitvind hulle kan skryf nie.
“Gee dit tyd. Skryf is aanvanklik amper so ’n eensame wegsteekding. Dis nie iets wat jy noodwendig dadelik vir die wêreld wil wys nie. Slyp jou talent. Jy gaan heel waarskynlik nie dadelik gepubliseer word nie. Dit vat dikwels jare. Doen dit omdat jy dit geniet.
“In dié tyd moet jy soveel lees as wat jy kan. Dan skryf, skryf, skryf. Skryf in verskillende genres, eksperimenteer. Skryf die soort stories of gedigte wat jy self graag lees. As jy gedigte skryf, skryf boeke vol. Dis soos ’n marathon: Dit gebeur nie oornag nie; dit verg baie voorbereiding en voetwerk.”
Gepraat van voetwerk: Dié Karookind sê hy was maar ’n bleeksiel en ’n tipiese boekwurm op skool. Later jare was hy ook verskriklik onfiks, maar so agt jaar gelede het hy ’n idee vir ’n boek met ’n rympie vir elke dag van die jaar gekry. “Ek wou hê kinders moes rympies leer ken. Baie kinders ken deesdae nie eens die klassieke Afrikaanse rympies nie.”
In daardie stadium het hy begin draf en besluit hy mag nie soggens huis toe kom voor hy idees vir ten minste ses rympies uitgedink het nie – ongeveer 365 rympies later was die boek klaar en was hy fiks genoeg vir padwedlope en later die twee Comrades-ultramarathons wat hy agter die blad het.
Dié boek, genaamd Moenie hierdie boek eet nie, bestaan uit vrye verse, langer rympies, limerieke en haikoes.
“Die boek het my omtrent laat sweet,” sê die man wat soggens al 03:30 uit die vere is om te oefen.
Eersdaags is daar ’n soortgelyke rympieboek met die titel Dit is nie ’n boek nie op die rakke.
In die kinderboekwêreld van verbeeldingryke titels, interessante karakters en boeiende storielyne het Jaco ’n sagte plek vir al sy boeke.
“Kinders vra my graag van watter van my boeke ek die meeste hou. Dan vra ek, tong in die kies: Wie van jy of jou broers en susters is jou ma en pa se gunsteling?
“Elke boek is spesiaal, want ’n mens werk lank en hard daaraan. Een boek wat wel ’n ekstra spesiale plekkie in my hart het, is Oupa Zombie. Ek het dit geskryf lank voor die Covid-19-pandemie die wêreld getref het, maar toe verskyn dit wraggies in die maand toe die inperking in Suid-Afrika begin het – ’n storie oor ’n pandemie – weliswaar darem ’n zombie-pandemie – wat die wêreld tot stilstand ruk. My uitgewer, Pan Macmillan, het baie moeite met die bemarkingsveldtog gedoen, en daar is al die winkels vir maande gesluit en moes ons sit en wag. Dit was die vreemdste toeval. Dis seker die boek wat ek as kind die graagste sou wou lees.”
Selfs sonder dat hy dit beplan, bly sy stories relevant vir tieners, het hy ’n apokaliptiese blik op die toekoms, maar skryf hy met empatie en insig in die lewe van kinders en tieners.
“Vir my gaan alles oor die storie. Ek het nog nooit hype of cool probeer skryf nie. As ek oortuigende karakters en ’n sterk storielyn het, is die ander bygoed. ’n Mens vang wel goed op by skole waar jy optree en by jou eie kinders – dinge soos sêgoed en dialoog en kwessies wat vir hulle belangrik is. Met die draaiboek van die storiefliek, Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins, wat ek vir kykNET geskryf het, was die storie en oortuigende karakters ook vir my die belangrikste; nie in die eerste plek hoe hulle praat of wat hulle aantrek of na watter musiek hulle luister nie.
“As jy te hard probeer om cool te wees, kom die vals noot deur. As ek die dag begin voel ek skryf af na kinders of wil te trendy probeer wees, dan gaan ek dit los.”
Aanhangers kan volgende jaar sy romanweergawe van Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins verwag.
Hierdie jaar verskyn nog twee prenteboeke, Geldwolfie (Protea Boekhuis) en Net nie ’n hond nie (Pan Macmillan SA). Volgende jaar gaan daar nuwe titels in sy gewilde reekse oor karakters soos Minki en Krok en Dil op die winkelrakke wees, asook ’n handvol nuwe boeke met titels wat lesers sal laat skater.
Jaco se voorliefde vir troeteldiere en eksotiese diere het op die familieplaas begin en vandag het die gesin drie honde, twee budjies, ’n kat, twee konyne, ’n papegaai, ’n baarddrakie en ’n troetelluislang. As Jaco nie ’n skrywer was nie, sou hy waarskynlik ’n natuurbewaarder wou wees wat die wonders van die natuur vir kinders ontsluit het. Tog is die leefwêreld van kinders en tieners die goue draad in sy ingebeelde boeke.
Deur Marzahn Botha
Kassie:
Twee van Jaco se boeke is in vollengterolprente verwerk, naamlik Suurlemoen! en Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word (verfilm as Nul is nie niks nie).
Hy en Miemie du Plessis werk al meer as 22 jaar saam en het saam meer as 200 boeke uitgegee.
Onder Jaco se talle bekronings tel die Tienie Holloway-medalje, die Alba Bouwer-prys (in 2007 vir Wurms met tamatiesous en in 2019 vir Moenie hierdie boek eet nie!), die Elsabe Steenberg-prys vir kinderboekvertaling, die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut-prys, die MML-letterkundeprys, die South African Literature Awards-kinderboektoekenning, die kykNET-Rapport-boekprys (filmkategorie), die IBBY/Exclusive Books-kinderboekprys, die Scheepers-prys en nie minder nie as 35 ATKV-Kinderboektoekennings. Een mooie dag om in een boom te klimmen is in Nederland met die Vlag en Wimpel-toekenning bekroon.