Benoni-tak se winterhulp verwarm harte

Die ATKV-tak Benoni het die afgelope winter meer as 1 800 warm maaltye aan behoeftige mense in hul gemeenskap uitgedeel, en dit was ware spanwerk om sopbottels en papmengsels te verpak en uit te deel.
Die tak vier vanjaar sy 31ste bestaansjaar en het tans 32 aktiewe lede wat sedert 2014 onder voorsitterskap van Jan Jansen van Vuuren staan.
Jan vertel: “Dit het bykans tien jaar terug begin met hulp aan kinders in die armer skole. Die Laerskool Brentwoodpark het ’n aantal kinders uit die arm gemeenskap wat daagliks ’n toebroodjie en koeldrank van die skool ontvang. My dogter was ’n onderwyser daar en het ons tak genader met die spesifieke behoefte wat uit Covid-19 ontstaan het, waar ouers alles verloor het en in haglike omstandighede moes woon.”
Hy sê taklede het die bal vinnig aan die rol gekry en die nodigste meubels, vars vrugte en ander kos bymekaar gemaak.
“Ons het dieper gedelf in die ‘broodjiekinders’ se agtergrond en besef ons kan wel ’n verskil in hul lewens maak. Dit het momentum gekry en ons tak het meer gereeld vars vrugte en niebederfbare kosse begin verskaf. Ons hou ook elke jaar ’n piekniek vir dié ‘broodjiekinders’ en dan hou ons sommer boeresportmiddag by die skool.
Hy vertel dat die winterhulp gegroei het uit die nood wat taklede raakgesien het. Van babas tot bejaardes woon in swak omstandighede, het skaars warm klere en het heel dikwels nie eers beddens nie.
“Ons het in 2015 begin om uit ons takfondse en uit die hulp van taklede warm sop aan hierdie mense te bedien. Die eerste jaar was daar sowat 150 mense op een terrein. Ons dames het elk ’n groot 20 liter sop gekook en Spar Atlasville het broodrolletjies verskaf. Sonder die hulp van ons borge sou dit nie moontlik wees nie.”
Vanjaar het die tak ook warm sop bedien aan Pauline Davis Court – woonstelle wat deur Ekurhuleni besit word en bewoon word deur arm pensionarisse wat net van hul Sassa-uitbetalings afhanklik is. Daar woon ongeveer 190 mense, waarvan sommige gestremd of bedlêend is. Die gebou is baie vervalle en hulle sukkel om dit in stand te hou.
Toe die ATKV-tak Benoni hoor van die ATKV-tak Boksburg wat glasbottels met sopbestanddele vul waarby drie liter kookwater gevoeg word vir ’n heilsame maaltyd vir ses mense, het hulle onmiddellik besluit om dit ook aan te pak.
Aanvanklik is ou koffieflesse skoongemaak en gevul, maar vanjaar het hulle op geseëlde plastieksakkies besluit wat beter werk en veiliger is om te hanteer.
Jan sê hulle besluit nie vooraf wie die pakkies ontvang nie – hulle vertrou op God, want Hy voorsien. “Ons taklede is ook baie ruimhartig en almal bring altyd meer as hul kant.”
Jan bevestig dat hulle beslis weer volgende winter die projek met die sop- en papsakkies sal aanpak, maar ook op ander maniere sal aanhou om ’n verskil in hul gemeenskap te maak.
Hy sê dit is ook ’n goeie ding dat baie van die taklede afgetree is en tyd het om te help waar hulle kan, maar dit kos soms deeglike beplanning en baie bemarkingswerk.
Daar is egter nie tyd vir rus nie. Hul deurlopende jaarlikse projek – in samewerking met Ons Winkel van die Solidariteit Helpende Hand – skenk klere aan behoeftiges.
“Ons het vanjaar tot op hede meer as 200 swartsakke vol klere aan behoeftiges in die gemeenskap uitgedeel. Met mense soos Ons Winkel Benoni, Spar Atlasville, Kamils Upholsterers, District Grand Lodge of South Africa North (Freemasons) en ons getroue taklede sou dit nie moontlik wees nie. Daarom is ek trots op die ATKV, want ons kan!” vertel hy.
Die tak is hard aan die werk vir hul groot projek vir 2025. Op 11 Oktober kuier Hendro Bekker as gaskunstenaar by die Rynpark-aftreeoord en stel sy nuwe vrystelling bekend. Die inwoners gaan ook met koek, tee en ander peuselhappies bederf word.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.