Beste akteur bewys elke hond kry sy dag

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie, wat verlede jaar sy 60ste verjaarsdag gevier het, is die ATKV se oudste projek.
ATKV-Tienertoneel bied aan hoërskoolleerders talle geleenthede om by al die aspekte van ’n toneelstuk betrokke te raak, onder meer toneelspel, regie, skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie en selfs bemarking.
Die projek vind landwyd plaas met die aanbied van streeksfeeste en spog met ’n nasionale feesfinaal ‒ enig in sy soort ‒ waar die beste van die bestes gekroon word.
Francois Retief, toe ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Parel Vallei, is in 2024 vir sy rol as die hond Spot in die verhoogstuk Vir Spot as beste akteur bekroon.
“Die ATKV maak altyd so ’n groot storie van die prysuitdeling, dus kan dit regtig stresvol wees,” sê Francois oor die funksie waar hy sy prys ontvang het.
“Dit was ’n wonderlike gevoel toe my naam uitgeroep word. Dit is ’n kombinasie van skok en verligting, want dit is soos hierdie angs en gewig wat net wegval. Maar dit is ook ’n gevoel wat baie gewig dra. Ek het ál die ander stukke gekyk en het onmiddellik besef dat soveel mense ook die toekenning kon gewen het.
“Ek het verlede jaar vreeslik naby aan die prys vir beste akteur gekom, maar ons stuk het tweede gekom. Dit was baie frustrerend, maar was steeds ’n ongelooflike prestasie. Vanjaar het ek gevoel dat ek dit wat ek verlede jaar net-net misgeloop het, uiteindelik aangegryp het. Dit is vervullend, ek het gevoel ek het gedoen wat van my verwag was, ek het as ’n akteur in die stuk my deel gedoen, en alles ingesit vir my mede-akteurs wat saam met my op die verhoog verskyn het.”
Francois verduidelik Vir Spot gaan oor ’n tienerseun, Sebastian, en sy hond, Spot.
“Sebastian sukkel met tienerskap en ouer word,” sê hy.
“Sebastian en Spot gaan op allerhande avonture en alles is baie opwindend, totdat Spot deur ’n motor doodgery word. En net soos dit begin lyk of Sebastian se lewe uitmekaarval, kom Spot terug as ’n engel of ’n gees om vir Sebastian te help om deur alles te werk ‒ maar op die ou end weet Spot nie eintlik meer hoe nie. Sebastian is besig om meer volwasse te word en die raad wat Spot vir hom moet bied, is nie noodwendig die raad wat Sebastian wil hoor nie.”
Francois bespreek van die uitdagings wat hy met sy rol ervaar het.
“Spot is uiteraard ’n hond, wat beteken dit behels alles ‒ van die blaf tot die ore krap, tot af en toe ruik waar die son nie behoort te skyn nie!
“En Spot is oor die algemeen uiters opgewonde. Hy is hierdie bal energie. Maar dis mos presies hoe honde is. Een oomblik is hulle besig om te lê en slaap en die volgende oomblik vlieg hulle op met die meeste energie wat jy al ooit gesien het. Hulle draai 28 keer in die rondte en blaf verwoed, en dit is presies wat ek probeer het om met Spot reg te kry.
“Maar ek is natuurlik ’n mens, ek sal nooit regtig ’n hond kan word nie. So, wat ons gedoen het, is ons het die mentaliteit van ’n hond ingespan. Ek as Spot was nie eintlik ’n hond nie, maar ek het my brein laat funksioneer asof ek ’n hond is.
“Maar dit was ook ’n baie emosionele rol. Dit is danksy ons ongelooflike regisseur, Darryl Spijkers, wat ook die stuk geskryf het.
“Spot is ’n karakter wat ek nooit sal vergeet nie en een van my gunstelingrolle wat ek al ooit vertolk het.”
Francois sê Vir Spot was fisiek en geestelik uitputtend.
“Dit is ’n hoë-energieproduksie en dit is ’n verhoogproduksie, nie ’n rolprent nie ‒ dus moes ons dit elke keer opnuut opvoer. Wanneer ’n mens ’n paar aande in ’n ry opgetree het, of ná ’n lang busrit, voel jy of jy kan doodgaan. Om die kopskuif te maak van ‘Goed, nou moet jy ’n hond wees, nou moet jy energie uitstraal, jy moet op en af wip’, is uitdagend.
“Ek is baie lank en skraal en is nie tans die fiksste mens op aarde nie. Ek sou nie sê ek is onfiks nie, maar dit was vir my moeilik om met alles by te hou, om heeltyd met goed besig te wees, daardie ADHD-aspek van honde.
“Benewens dit, ook net die vermoë om laat gaan. Jy moet as ’n hond ’n paar dinge doen waaroor jy baie simpel voel. Jy moet op jou rug gaan lê sodat mense jou magie kan krap. Jy moet jou tong uitsteek of jy moet blaf vir seemeeue wat rondvlieg. Jy voel soos ’n absolute idioot en dit is piekfyn.
“Ek het gesukkel om vir myself te sê, ‘Goed, Francois, hier is jou groot ego, baie groter as wat hy behoort te wees. Gooi hom by die venster uit, jy is nou ’n brak, jy gaan gedegradeer word en die gehoor gaan lag en dit is hoekom jy hier is’.
“Dit was moeilik, maar lyk my dit het op die ou end gewerk. En ek moet sê, dit is alles die moeite werd.”
Francois sien uit om weer vanjaar aan ATKV-Tienertoneel deel te neem.
“Ons gaan hopelik vanjaar weer deelneem en ek hoop om ’n hoofrol te kry. Ek kan nie vir seker sê ek gaan nie, maar natuurlik kan ek duim vashou en sê ek gaan my beste probeer.”
Om meer uit te vind oor ATKV-Tienertoneel 2025, lees die deelnermersgids hier. Inskrywings sluit op 25 April.