Bingo met ATKV-tak Arendsnes

Die meeste van ons het al bingo gespeel. Dis die gewilde speletjie waar elke speler ’n kaart met nommers kry en dan die nommers afmerk soos wat die nommers uitgeroep word. Maar die ATKV-tak Arendsnes doen dit bietjie anders. Hulle speel dit aanlyn wat dit moontlik maak vir meer mense om betrokke te wees.
Die kaartjies word vooraf gekoop, en by almal se huise afgelewer, deelnemers volg die nommers op Zoom en merk dit in die gerief van hul eie huis af. “En hulle kan steeds ’n prettige prys of twee wen,” vertel Monique Brink, die ATKV-tak Arendsnes se voorsitter.
“Ons aanlyn bingo-aand word vir 29 Augustus om 18:30 beplan,” vertel sy.
“Enigeen, of hulle nou ATKV-lede is of nie, is welkom om saam te speel.”
Hul tak is ’n gesinstak in die Roodepoort-omgewing aan die Wes-Rand wat spog met ’n groot groep gesinne waarvan die lede van ses maande tot 90 jaar strek, gesels Monique.
“Ons is gelukkig om ’n ongelooflike ondersteuningstelsel te hê en ons doen verskeie projekte reg deur die jaar.”
Die tak se lede het hul byeenkomste tydens COVID-19 gemis en hulle het ’n plan beraam om steeds pret te hê sonder om bymekaar te wees, en bingo! Hulle het ’n aanlyn bingo-aand gereël en al hul lede kon op hul sitkamerbanke saamspeel. Dit was so ’n groot treffer dat almal dit weer wou doen.
En nou is dit weer sulke tyd. Hoe gaan dit werk?
Monique sê hulle gaan ’n skakel op hul Arendsnes Facebook-blad deel, en dit ook onder die ATKV-takgroepe versprei. Mense kan dan via die skakel registreer. Registrasie kos R50 per gesin (wat twee kaartjies beteken) en hulle kan nog kaartjies koop vir R20 per kaart. Die tak beoog vier rondtes met ’n maksimum van 120 geregistreerde deelnemers. Kaartjies sal aanlyn beskikbaar wees, en aflewering sal ’n paar dae voor die bingo-aand geskied.
Die wenner van elke rondte sal ’n prys ontvang. Pryse is nog nie bevestig nie, maar dit was byvoorbeeld tydens COVID-19 ’n melktert én ’n ATKV-sak vol bederfies.
Hul bingo-aand is nie deel van ’n fondsinsameling of iets in dier voege nie, vertel Monique. “Dis uit en uit net vir die pret en ’n lekker manier om ons gesinne bymekaar te bring – sonder om die huis te verlaat.”
Vind meer uit oor Arendsnes
Hierdie tak weet hoe om hulself te geniet, hul bande te verstewig en om projekte aan te bied.
- Hulle het tydens die Julie-skoolvakansie ’n oupa-en-ouma-klub aangebied waar die tak se oupas en oumas die Arendsnes-kuikens besig gehou het.
- Die tak gaan van 28 tot 31 Julie 2025 pannekoek bak en verkoop tydens die jaarlikse Winter-koorfees by NG Constantiakruin. Dit is hul grootste fondsinsamelingsprojek vir die jaar.
- Arendsnes samel ook handsakke in en dit word dan met noodsaaklikhede gevul en uitgedeel aan vroue in nood. Hul aanvanklike mikpunt was 60, maar hulle het al meer as ’n 100 ingesamel.
- Die tak kamp ook een keer per jaar saam by Buffelspoort en gaan weer vanjaar September so maak.
Kontak Monique vir meer inligting: 082 682 6964
Het jy geweet?
Bingo se eerste vorm is waarskynlik tydens die 16de eeu in Italië gespeel. Dit het deur die jare verskeie vorms aangeneem en het in die 19de eeu Amerika bereik waar dit aanvanklik “keno”, “kino” of “po-keno” genoem is. Dit het ook sy weg na die Britse weermag en vloot gevind waar dit onder meer “tombola”, “house” of “housy-housy” genoem is. Later is dit weer in Amerika “beano”, “lucky”, “radio” en “fortune” genoem totdat dit uiteindelik sy huidige naam gekry het. Dit was tydens die Groot Depressie baie gewild in Amerika en die spel is in teaters gespeel waar mense pryse kon wen. Dit het later wêreldwyd versprei en ook in Suid-Afrika inslag gevind, waar ons dit vandag nog speel – ook aanlyn ...