‘Binnerym van bloed’: Eerlik, diep persoonlik

As kind het ek mense soos Dot Serfontein en Audrey Blignault se skrywes in tydskrifte beskou as iets op ’n vlak waar gewone mense nie beweeg nie. Tog kon ek my goed met Dot Serfontein vereenselwig, met die plattelandse, konserwatiewe manier.
In haar dogter Antjie Krog se boek, ’n Ander tongval, het ek 20 jaar gelede gelees hoe sy haarself tussen tale, identiteite en geskiedenis bevraagteken. Die boek is gelyktydig ’n memoire en ’n kulturele selfondersoek waarin sy haar posisie as Afrikaner, vrou en digter in post-apartheid Suid-Afrika herbedink. Sy worstel met baie dinge en stel die idee van ’n nuwe “tongval” voor – ’n ander manier van praat, skryf en bestaan, weg van die harde, beheersende toon van Afrikaner-nasionalisme. Dit wat ons so geïndoktrineer het, het sy gehelp om vir my af te breek en te verstaan.
Hierdie idee sluit aan by die amper omgekeerde invloed van haar ma. Serfontein se werk het dikwels gefokus op die Afrikanervrou se rol binne ’n konserwatiewe gemeenskap.
Krog het haarself losgeskryf van haar ma se generasie se manier van dink en skryf.
Vir my was die Sestigers altyd ikone. Ek het hulle op ’n voetstuk geplaas en hul werk met ontsag benader. Vandag dink ek hulle was aansitterig en kliekerig.
Was Dot Serfontein reg? “Al my ma se vorige helde was dominees, boere of onderwysers. Waarom het sy op ’n werkersklasheld besluit?”
“Ek dink ek het my onbewustelik verset teen die Sestigers,” sê sy. “Hoewel ek hulle gelees en vuriglik bewonder het, was dit tog vir my belangrik om doelbewus weg te draai van die aanvaarding van vreemde lande en stede as bronne van inspirasie, van intellektuele vervreemdes, wanaangepaste, vereensaamde enkelinge as helde en teen stories waarin alles so simbolies is dat mens en taal hulle sap verloor.”
In Antjie Krog se jongste boek, Binnerym van bloed, glo ek daardie intergenerasionele gesprek word nóg duideliker. Net met die eerste deurblaai, kon ek sien die boek is intiem, eerlik en rou. Krog is ouer en wyser. En soos ek haar dapperheid ken, het ek geweet sy gaan haarself nie spaar nie.
Die titel, Binnerym van bloed, suggereer nie net iets poëties nie, maar ook die bloedbande tussen ma en dogter.
Dit word bemark as ’n outobiografiese roman, maar dit is moeilik om fiksie hierin te sien.
Hierdie werk is veel meer as net ’n eerbetoon aan haar ma, Dot Serfontein. Dit is ’n diep persoonlike dokument waarin generasies se pyn, humor en erfenis saamvloei. Die verhouding tussen ma en dogter is kompleks en dit word hier met allerlieflike taal, skerp waarneming en groot deernis ontgin.
Serfontein se gevatte, dikwels kriewelrige insigte gee die teks sy onmiskenbare aardse geur. Soms is dit té aards, uit beide Krog en Serfontein se monde. Die voortdurende skatologiese verwysings is later irriterend. Natuurlik is dit te verstane dat die grootte en tekstuur van ontlasting deel vorm van die versorger se daaglikse verslag – dit is immers ’n aanduiding van ’n bejaarde se gesondheid. Ongelukkig het die impak van iets wat baie simbolies kon wees van die mens en sy verhouding met sy liggaam, vir my verlore gegaan.
Hierdie is ’n unieke soort literêre bloedlyn tussen moeder en dogter, tussen die verlede en die hede, tussen lynreg verskillende politieke oortuigings. Tog is daar wedersydse begrip en respek vir mekaar se werk.
Ek kon nie vinnig genoeg lees nie, ek kon nie stadig genoeg lees nie. Elke brief, elke sin wat behoue gebly het van Dot Serfontein en háár voorgeslagte, is in sulke besonderse taal geskryf.
Die mens se waardigheid wat in die slag bly met ouderdom, maak die leser ongemaklik omdat dit so realisties en ongenaakbaar eerlik is.
Hierdie is seker die eerlikste weergawe van belewenisse uit oorlewendes van die Anglo-Boereoorlog (ABO) wat ek nóg gelees het. Kamphoer en ander boeke wat afspeel in daardie tyd, en ook die naoorlogse jare, was maar net ’n voorsmaak van ’n nasie se trauma wat meestal doodgeswyg is – soos ’n wolkie wat weer voor jou oë verdwyn. Hierdie boek is onweer, donderwolke en bliksemstrale.
Die besonderse skryftalent loop dik in elke vesel van daardie familie, selfs in die voorgeslagte. Moeder Serfontein se waarskuwing aan haar dogter: “Jy is ’n gewone kind, ’n gewone mens. Skryf loop maar in ons familie soos drank in ander mense s’n loop,” is een van daardie reëls wat ’n mens vir altyd bybly. Só eenvoudig en tog só kragtig.
“Die academics noem dit ‘a conspiracy of silence’, Ma. ’n Sameswering om iets dood te swyg, maar dan bly dit voortbestaan as ’n leë dog ewig dreigende stilte wat op die ou end uitetter en eindeloos bly vernietig.”
Krog het vir my ’n stukkie geskiedenis oopgeskryf. Die verkragtings in die konsentrasiekampe tydens die ABO was nog nie voorheen so oopgevlek soos in hierdie teks nie.
Binnerym van bloed is ’n ryk, verskroeiend eerlike boek. Dit is poësie, geskiedenis, liefde en verlies, byeengebring met Antjie Krog se unieke stem.
Resensent: Trisa Hugo