Blink toekoms wink vir Dierbaar na die Maan
RUK EN RYM, die ATKV en Taalgenoot se opwindende musiekkompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, se eindronde het onlangs by Sognage in Johannesburg plaasgevind.
RUK EN RYM, die geesteskind van die ontslape Taalgenoot-redakteur Johan Jack Smith, is vanjaar vir die tweede keer aangebied.
Die Stellenbosse groep Dierbaar na die Maan is as die wenners gekroon.
“Ek moet sê, dit voel nog steeds vir ons ’n bietjie onwerklik,” sê Janke Mostert, Afrikaansonderwyser en voorsanger van Dierbaar na die Maan.
Janke beskryf die groep se klank as alternatiewe Afrikaans.
“Dit is ’n mengsel tussen akoesties, sanger-liedjieskrywer en alternatiewe rock. Ons is baie ingesteld op die lirieke en ons is mal oor ’n stoute bassline,” sê sy.
Dierbaar na die Maan is eintlik nog ’n baie jong groep.
“Ja, ons is maar nog nuwelinge op die toneel,” sê Janke.
“Ons band bestaan uit twee musiekgroepe, naamlik Dierbaar – dit is ek, Ninke Theron en Kris Bence – en Francis na die Maan – dit is Kobus Erasmus en Wielan du Plessis.
“Dierbaar is in Februarie vanjaar gestig, maar Francis na die Maan is al van 2022 af aan die gang. Kobus het met die voorstel gekom dat ons ’n gesamentlike projek moet stig om aan Aandklas se Battle of the Bands-kompetisie en later ook aan RUK EN RYM deel te neem en ons was uiters gewillig.”
Janke sê Suid-Afrikaanse kunstenaars is Dierbaar na die Maan se grootste musikale invloede.
“Sjoe, ons is so bevoorreg om te kan sê dat daar soveel uitstekende Afrikaanse musikante is wat die weg vir ons gebaan het om ook alternatiewe Afrikaanse musiek te kan maak. Ons invloede sluit in Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, Zinkplaat, Uncle Spike, Karen Zoid, Fokofpolisiekar, Springbok Nude Girls en Glaskas.”
Hoe voel Dierbaar na die Maan oor RUK EN RYM?
“Niks was nog ooit so nodig nie,” sê Janke. “Ons kan regtig nie ’n positiewer gevoel daaroor hê nie. Afrikaanse alternatiewe musiek het met die MK-musiekkanaal wat weggekwyn het ’n reuseterugslag ervaar. En daardie third space waar alternatiewe Afrikaanse mense bymekaar kon kom om kuns te skep en te geniet, het soort van verdwyn, nie waar nie?
“RUK EN RYM bring dit terug. Dit was asemrowend om daarvan deel te wees. Ja, ons is mal daaroor.”
Janke sê hulle voorbereiding vir RUK EN RYM was ’n balanseertoertjie en die eindronde was slegs die agtste keer wat die groep saam opgetree het.
“Ons is almal mense met baie uiteenlopende skedules as gevolg van ons werk en studies, maar ons moet beslis krediet gee aan Tunes Studio in Stellenbosch, want hulle was altyd bereidwillig om ’n plan te maak vir ons om te repeteer – sommige aande tot so laat as 23:00, en die volgende dag sit ek in die personeelkamer en Kobus is en Kris is in die klas, Wieland is in sy houtwerkswinkel en Ninke sny hare in die haarsalon. Oef.”
Janke sê die groep se RUK EN RYM-oorwinning het ’n skielike invloed op die lede se loopbane en persoonlike lewens gehad.
“Ja, alles gebeur baie vinnig op die oomblik. Dit is vir my die beste soort oorweldiging en die lekkerste probleem. Ons almal balanseer ons afsonderlike en gesamentlike musiekprojekte met ons werke en ek probeer veral om die twee gedeeltes van my lewe redelik afsonderlik van mekaar te hou, want ons musiek handel maar soms oor volwasse onderwerpe.
“Dit is ’n ruimte vir totale kreatiewe uitdrukking en in ’n werksplek moet ’n mens jouself beperk tot wat toepaslik en aanvaarbaar binne-in daardie ruimte is. Nie almal verstaan die alternatiewe toneel of hoekom dit so nodig is om so grensloos en sonder inhibisies te wees met die liedjes wat jy skryf nie – en dit is piekfyn.
“Ek is ’n Afrikaans-hoërskoolonderwyser, Ninke is ’n haarkapper, Wielan werk met hout en Kris en Kobus swot taal en kultuur.
“Daar is eintlik nie vreeslik baie mense wat weet dat ons hierdie kompetisie gewen het nie, of altans is dit hoe ek voel. Hier en daar het mense ons al herken en dit is nogal ’n mal, nuwe ervaring.”
Janke sê die groep het ’n paar doelwitte oor die kort- en langtermyn.
“Ek dink enige musiekgroep se doelwitte is maar altyd net om eg te bly en te geniet wat jy doen en die waarheid, jóú waarheid, neer te pen.
“Ons het tot dusver nog net Dierbaar of Francis se liedjies opgevoer en die volgende stap is nou om saam aan materiaal te skryf. Ek en Wieland woeker lekker daarmee. Ons is entoesiasties daaroor om die fyn nuanse van dinge wat alle Afrikaanse mense al in hul emosionele landskap ervaar het, vas te vang op só ’n manier dat dit nie vinger wys nie, maar eerder vir mense minder alleen laat voel. En soms ook vir ons toelaat om bietjie vir onsself te lag en dalk nie alles so ernstig op te neem nie.”
Die groep se toekoms lyk opwindend.
“Afsonderlik sal Dierbaar na die Maan se eerste paar enkelsnitte aan die einde van 2024 of vroeg in 2025 uitkom en ons gaan in Desember ’n bietjie saam met die Afrikalt-musiekgroepe toer, terwyl Francis na die Maan besig is met hulle tweede album.
“Saam neem Dierbaar na die Maan volgende jaar as deel van ons RUK EN RYM-prys twee liedjies saam met Peach van Pletzen op en ons is baie opgewonde en dankbaar daarvoor. Hy is ’n legende, ’n ghoeroe en voorwaar ’n spirituele kompas.
“Ons is ook opgewonde om nog in die toekoms onder die Afrikalt-sambreel op te tree. Hulle is regtig gawe ouens wat ongelooflik baie vir ons en vir alternatiewe Afrikaanse musiek doen.”