Boeliegedrag kry bloedneus in oord se kortfilm
Afknouery op skool is ’n massiewe probleem wat aan die toeneem is. Boeliegedrag het ’n groot impak op ’n kind se selfbeeld – en dit raak net al erger hoe ouer kinders raak. Om dié rede het die ATKV-Buffelspoortspan besluit om die euwel van boelie-wees aan te spreek met ’n kortfilm wat spesifiek gemik is op laerskoolleerders.
“Ons wil kinders graag reeds op laerskoolvlak bewus maak van hoe verkeerd afknouery is, en boelies positief beïnvloed om sulke gedrag te stop,” sê Reyno Wepener, bemarker van ATKV-Buffelspoort. Hy sê, “Ná ons eerste kortfilm, Lente gaan met vakansie, wou ons ’n tweede kortfilm doen, maar oor iets aktueel. Na aanleiding van berigte oor boeliery wat ons onlangs op die nuus gesien het en wat gereeld op sosiale media verskyn, het ek besef ons moet iets oor boelies doen. Maroela Media het onlangs inligting versprei oor ’n film oor boeliery op hoërskoolvlak, maar daar is nog nie ’n kortfilm oor boelies op laerskoolvlak geskiet nie.”
Die kortfilm, Boelie issie cool nie, het gestalte gekry. Die film is geskryf deur Inè Reynierse, bekend vir radiowerk by RSG en verskeie toneelproduksies wat onder meer by die KKNK te siene was. Inè was ook die regisseur van die film.
Boelie issie cool nie gebruik avontuur en humor, maar dit is ook ’n film met ’n ernstige boodskap. “Boeliery het so deel geraak van die lewens van kinders, tieners en selfs volwassenes en dit was die afgelope weke wéér in die nuus,” sê Reyno. Navorsing toon ook dat jongmense wat geboelie word dikwels self boelies word. Daar is ook bevind dat soveel as 57% van Suid-Afrikaanse leerders op een of ander stadium gedurende hul hoёrskoolloopbaan geboelie word. Nog ’n studie oor kuberboelies wat op jeugdiges tussen die ouderdomme van 12 en 24 gedoen is, het bevind dat sewe uit 10 van diegene wat erken het dat hulle ander boelie, self slagoffers was.
“Boelie issie cool nie is ’n prettige kortfilm, waar humor gebruik word om die seer aan te spreek van kinders wat boelie en kinders wat geboelie word. Die hele kortfilm gaan ook oor die proses waardeur ’n boelie gaan om te verstaan dat dit nie nodig is om te boelie nie. Die film fokus ook op die invloed wat gedrag in die huishouding op die boelie se gedrag by die skool het. Die plaaslike gemeenskap en die omgewing rondom ATKV-Buffelspoort word gebruik vir die skiet van die kortfilm,” sê Reyno. “Boelies is oral – op skool, in die kuberruim, by die werkplek. Dit is ’n ernstige saak wat ’n geweldige impak op die slagoffer se lewe het.”
Wat wil die span met die film bereik?
Reyno sê, “Eerstens is dit ’n bewusmakingsveldtog dat boeliery nie reg is nie. Dan wil ons boelies positief beïnvloed om dit nie meer te doen nie en kinders leer om boeliegedrag te identifiseer en alarm te maak. Ons wil ook onderwysers weer opnuut bewus maak van die euwel van boeliery en die negatiewe invloed wat dit op ’n kind se selfbeeld het.”
Die ATKV bestaan uit ’n taknetwerk, wat die hele land verteenwoordig. ’n Tak bestaan uit vrywilligers wat in hul vrye tyd projekte in die gemeenskap loods om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder. “Die ATKV in sy geheel is deel van die gemeenskap, daarom is dit vir ons belangrik om ’n sinvolle bydrae te lewer op elke moontlike gebied,” sê Reyno.
Die film is tussen 9 en 13 Oktober by ATKV-Buffelspoort en die Laerskool Elandskraal in die Mooinooi-area geskiet. Die vrystelling van die film sal aan die einde van Februarie 2023 plaasvind.
Daar is geen planne om wins te maak uit die kortfilm nie – hier gaan dit bloot daaroor om ’n bydrae in die skoolgemeenskap te lewer.